Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Inperking: Dubbele taks-dilemma vir oorsese werk

Dubbele belasting kan wag op Suid-Afrikaners wat gewoonlik oorsee werk, maar weens die Covid-19-inperking in Suid-Afrika vasgekeer was.

Aneria Bouwer, belastingvennoot van die regsfirma Bowmans.

Aneria Bouwer, belastingvennoot van die regsfirma Bowmans, waarsku die mense met die grootste risiko vir ’n belastingskok is die mense wat steeds ’n inkomste van ’n buitelandse werkgewer verdien het, hoewel hulle vanuit Suid-Afrika gewerk het.

’n Dokument van die parlement se staande komitee oor finansies het onlangs aangedui ’n toegewing word oorweeg vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk om die plaaslike inperkingsmaatreëls in ag te neem.

Tans geniet Suid-Afrikaners wat oorsee werk ’n mate van belastingkwytskelding as hulle vir meer as 183 dae in enige gegewe tydperk van 12 maande buite die landsgrense werk. Volgens Bouwer dui die dokument wat op 13 Oktober uitgereik is dat ’n toegewing op die 183-dae-vereiste gemaak sal word deurdat die 66 dae van 27 Maart tot 31 Mei afgetrek kan word van die 183 dae wat iemand in ’n 12-maande-tydperk gewerk het wat enige tyd van 20 Februarie vanjaar tot 28 Februarie volgende jaar eindig.

Die 66 dae verwys na die tydperk waarin Suid-Afrika onder vlak 5 en vlak 4 van die nasionale Covid-19-inperking onderworpe was.

’n Individu moes dus minstens 117 dae buite Suid-Afrika gewerk het. Die vereiste bly egter dat die persoon steeds vir minstens 60 aaneenlopende dae buite die land moes wees om vir die belastingkwytskelding in aanmerking te kom, verduidelik Bouwer.

Sy meen dié toegewing is nie so ruim as wat sekere ander lande aanbied nie, maar kan wel Suid-Afrikaners help wat ná 31 Mei landuit kon gaan vir werk. “Dis jammer dat dit so laat aangekondig is, want dit maak dit baie moeilik vir individue om volgens die hersiene reëls te beplan.”

Dit was vir die afgelope ses maande in elk geval baie moeilik om internasionaal te reis, so talle oorsese werkers het dus te min tyd buite die landsgrense gewerk om vir ’n kwytskelding te kwalifiseer.

Net die eerste R1,25 miljoen wat in die buiteland verdien word, kan kwalifiseer vir belastingkwytskelding.

Maar as mense in Suid-Afrika gestrand is terwyl hulle geld verdien van ’n buitelandse werkgewer, beteken dit hulle kan steeds plaaslik belas word op ’n deel van hul buitelandse inkomste, sê Bouwer.

Hulle kan boonop dubbel belas word, want as hulle van die huis af in Suid-Afrika gewerk het vir ’n buitelandse werkgewer, sal daardie inkomste nie as ’n buitelandse belastingkrediet kwalifiseer nie.

Bouwer meen dit kan selfs die geval wees al is daar ’n dubbelbelastingooreenkoms tussen Suid-Afrika en die betrokke land. So ’n ooreenkoms sal waarskynlik die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die reg gee om iemand te belas wat vanuit Suid-Afrika gewerk het, en die oorsese land mag dan nie die individu ook belas nie. Maar as die individu reeds oorsee belasting betaal het en nie ’n terugbetaling geëis het nie, kan hy in sy SAID-opgawe vir ’n aftrekking eis vir buitelandse belasting wat betaal is. Bouwer meen dit sal egter net gedeeltelike verligting gee.

Dubbele belasting kan wag op Suid-Afrikaners wat gewoonlik oorsee werk, maar weens die Covid-19-inperking in Suid-Afrika vasgekeer was. Foto: Unsplash

Moenie foute maak

Belastingbetalers wat net per ongeluk ’n fout maak op hul belastingopgawe kan nou saamgegooi word met dié wat met opset belasting wil ontduik, blyk uit die wysigingswetsontwerp oor belastingadministrasiewette van Julie.

Die belastingadviseurs Tax Consulting SA waarsku die nuwe voorgestelde bewoording van die wet verwyder die term “opsetlik”. Tans word belastingbetalers streng vervolg waar hulle die SAID met opset en sonder ’n billike rede van inkomste ontneem, maar mense wat net nalatig was kry dalk net ’n boete.

Die SAID en die nasionale tesourie se voorgestelde wysigings is volgens hulle egter nodig om belastingoortreders makliker te vervolg. Volgens Tax Consulting is daar steeds ’n mate van skeiding tussen doelbewuste belastingoortredings waar die groter bewyslas na die SAID se kant oorleun, teenoor matiger oortredings van nalatigheid waar die bewyslas meer na die belastingbetaler se kant oorleun. Maar die wysigings gooi volgens hulle die net veel wyer om selfs die kleinste belastingontduiking op te spoor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.