Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Is jou rekenaar nie verseker nie? Jy’s een van baie

Meer as 38% van versekerdes sluit doelbewus items soos selfone, skootrekenaars, tablette, juwele, horlosies en huishoudelike toestelle uit van hul versekeringspolis om koste te spaar en dra self daardie onversekerde risiko, sê Santam, die grootste korttermynversekeraar in die land.

Die tendens om gespesifiseerde items uit te sluit, is moontlik vanweë goeie makelaarsadvies.

Dis een van die bevindinge van die Santam-versekeringsbarometer wat saamgestel is uit ’n studie waaraan sowat 400 respondente deelgeneem het.

Volgens Andrew Coutts, hoof van tussenganger-sake, is die tendens om gespesifiseerde items uit te sluit moontlik vanweë goeie makelaarsadvies.

Nie net is die premies vir sommige van dié items baie duur nie, maar mense besef nie dat byvoorbeeld juweliersware wat in jou huis se kluis toegesluit is, reeds gedek is onder jou algemene huisinhoud-dekking nie.

Voertuigdekking is die gewildste (78% van respondente het dié dekking gehad), gevolg deur selfoonversekering (58%), huisinhoud (47%), individuele gespesifiseerde items (6%), draagbare besittings (5%) en net ’n handvol (2%) het versekering teen kubermisdaad uitgeneem.

Volgens Santam se eisdata is voertuigongelukke steeds die enkele grootste bron van eise in sy motorportefeulje, met sowat 70% van die totale uitbetalings.

Dit het die laaste paar jaar afgeneem en kan wees omdat mense weens die swak ekonomie en hoë brandstofpryse minder ry, sê Anton Blaauw, hoof van onderskrywing vir persoonlike versekering.

Tegnologie soos voertuigopsporing en om bestuurders se bestuurs­gedrag te monitor, het ’n merkbare verbetering gebring in die getal versekeringseise.

Coutts sê 30% van alle eise vir motorverliese in die 1990’s was weens kapings. Vandag maak dit net 10% van die totale verlies-eise uit.

’n Interessante aspek wat die barometer uitlig, is dat veranderende weerpatrone ’n tweesnydende swaard is.

Aan die een kant is die verliese in veral landbou astronomies, maar die minder reën het weer tot ’n merkbare afname in motorongelukke gelei.

Eise vir skade aan motors raak egter jaarliks groter weens gesofistikeerde tegnologie in voertuie, soos sensors in panele of spoedmeters wat in voorruite ingebed is. Prysstygings vir ingevoerde onderdele, arbeid en verf dra by tot hoër eise.

Wat persoonlike versekering betref, hou eise vir huis­inhoud meestal verband met misdaad, maar neem af danksy beter veiligheidstelsels.

Daarenteen het eise vir geisers die laaste paar jaar met 20% opgeskiet. Coutts sê iets eenvoudigs soos ’n toestel wat jou waarsku wanneer jou geiser lek, kan skade beperk. Die geiser kan vervang word voordat dit bars en baie ander elektriese of strukturele skade, of skade aan matte, meubels en plafonne voorkom.

Die Santam-barometer wys 62% van verbruikers koop versekering regstreeks van tradisionele versekeringsmaatskappye, 15% koop van onafhanklike makelaars, 13% van kleinhandelaars, 8% van banke, 6% van selfoon-maatskappye, 4% deur internet-gegronde kwotasie-portale en 2% van voertuighandelaars.

Hoewel sowat 69% van kliënte nooit in hul lewe van versekeraar verander nie, is koste die belangrikste faktor vir die 46% wat oorweeg om hul versekering te skuif.

Die Santam-barometer wys 23% van verbruikers het in die afgelope 12 maande van hul versekering geëis, met ’n gemiddelde waarde van R30 228 per eis. Sowat 49% van die eise het verband gehou met voertuie, 33% met selfone, 16% was vir huisinhoud en 12% vir geboue.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.