Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jammer, jou tjek is nié in die pos

Die dae van tjeks wissel, tjeks kruis en – genadiglik – tjeks wat “hop”, is vir goed verby.

Sedert 1 Januarie word tjeks nie meer as ’n betaalmetode in Suid-Afrika erken nie.

Die doodsklok vir tjeks het op 31 Desember 2020 gelui.

Die Reserwebank, die betalingsvereniging van Suid-Afrika (Pasa), die bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) en die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) het laat verlede jaar in ’n gesamentlike verklaring amptelik die doodsklok vir tjektransaksies gelui. Geen tjeks mag sedert 1 Januarie uitgereik word nie, hoewel sommige banke steeds tjeks sal wissel wat voor 31 Desember gedeponeer is.

Die gebruik van tjeks het oor die afgelope paar jaar skerp afgeneem namate digitale betaalmetodes soos elektroniese fondsoorplasings en debietkaarte al hoe geriefliker én goedkoper geword het.

Tjektransaksies duur heelwat langer as digitale betaalmetodes en dit neem dikwels tot tien dae vir verrekening. Dit is ook baie duurder. Die verrekeningskoste van tjeks het tot onlangs gemiddeld R200 per tjek beloop.

Die uitbreek van die Covid-19-pandemie in Maart verlede jaar in Suid-Afrika het die ondergang van tjeks verhaas.

Standard Bank het byvoorbeeld sedert die begin van die inperking einde Maart ’n 80%-afname in tjektransaksies ervaar.

Tussen Augustus 2019 en Augustus verlede jaar het die gebruik van tjeks in Suid-Afrika met 59% afgeneem en die waarde van tjektransaksies het in dieselfde tyd met 82% gedaal, sê die Reserwebank.

Bongiwe Gangeni, adjunkhoof van kleinhandel en sakebankdienste by Absa, sê tjektransaksies het oor die afgelope dekade so afgeneem dat dit minder as 0,1% van betalings uitgemaak het.

Banke sal hul kliënte wat tjeks van oorsee kry steeds help met die verrekening daarvan.

Kenneth Matlhole, produkhoof by ENB, sê minder as 0,6% van ENB se kliënte het in die laaste tyd tjekboeke gebruik. ENB het sy laaste tjekboek in September verlede jaar uitgereik, terwyl Standard Bank syne op 1 Oktober uitgereik het.

Nedbank het reeds in September die uitreik en druk van tjeks gestaak.

“Mense sal ná 1 Januarie nie meer tjeks wat Nedbank uitgereik het, kan deponeer nie en sal die persoon wat die tjek uitgereik het moet kontak vir ’n alternatiewe betalingsmetode,” sê Aart Jurriaanse, afdelingshoof van transaksie-inligtingsoplossings by dié bank.

Tjeks wat voor 31 Desember gedeponeer is, sal vroeg vandeesmaand nog verreken word.

Oud, maar nou koud

Tjeks is een van die oudste betaalmetodes ter wêreld.

Die antieke Romeine het reeds ’n vorm van tjeks gebruik om handel mee te dryf en so ook Arabiese handelaars, wat tjeks gebruik het pleks daarvan om ’n hope goud en silwer oor die uitgestrekte woestyn te vervoer, berig die Britse tydskrif MoneyWeek.

Die Venesiërs en Florentyne in Italië het die gebruik van tjeks in die 12de eeu in Europa voortgesit.

Tjeks is egter wêreldwyd aan die uitsterf. Suid-Afrika se buurman Namibië het reeds in Julie 2019 die gebruik van tjeks afgeskaf.

Dit is deesdae baie duur en omslagtig om transaksies met tjeks te doen en dit is ook baie eenvoudig om tjekbedrog te pleeg – op uiteenlopende maniere soos met vervalste en nagemaakte tjeks.

Standard Bank sê daar was verlede jaar ’n yslike sesvoudige toename in voorvalle van tjekbedrog in vergelyking met 2019.

Meer oor:  Banke  |  Bankbedryf  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.