Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jan Taks, Absa vasgevat oor leë bankrekening

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is weer deur die hof vasgevat oor hoe ’n derde party geld namens hom ingevorder het.

Die SAID moet belastingbetalers na behore inlig as hulle geld skuld voordat dit sommer deur ’n derde party soos hul bank ingevorder mag word. Foto: Argief

In die jongste geval het die hooggeregshof in Pretoria bevind dat Absa R1,3 miljoen moet terugbetaal wat hy namens die SAID uit die onderneming Autumn Skies se bankrekening onttrek het.

Die uitspraak volg kort op ’n soortgelyke uitspraak toe Standard Bank deur die hof beveel is om R1,2 miljoen met rente aan die projekbestuursfirma SIP terug te betaal.

In die geval van Autumn Skies het Absa letterlik die maatskappy se rekening leeggemaak om die SAID te betaal. Boonop blyk dit uit hofdokumente dat dit die SAID is wat Autumn Skies ’n klein terugbetaling verskuldig was en dat Autumn Skies die SAID niks geskuld het nie.

In die geval van SIP het dit geblyk hoewel hy die SAID geld geskuld het, het die SAID glad nie die korrekte prosedure gevolg om hom in te lig van die skuld voordat hy Standard Bank beveel het om die geld namens hom uit die maatskappy se rekening te onttrek nie.

LEES OOK: Bank mag nie net jou geld vir Jan Taks gee nie

Jean-Louis Nel, belastingadvokaat van Tax Consulting SA, sê hoewel die SAID wetlik toegelaat word om uitstaande skuld via derde partye in te vorder, moet die korrekte prosesse gevolg word.

Nel verduidelik dat die belastingpligtige ingevolge die Wet op Belastingadministrasie in kennis gestel moet word van enige uitstaande skuld en die daaropvolgende aanstelling van ’n derde party, soos sy bank, om die belasting in te vorder indien die belastingbetaler geen stappe doen om sy belastingsake uit te sorteer nie.

“As die SAID nie die finale eisbrief behoorlik uitreik nie, mag hy nie die skuld invorder nie,” sê hy.

“Dis ’n vereiste luidens die wet dat die SAID ’n finale eisbrief aan die belastingpligtige moet uitreik, tien werksdae voordat die SAID ’n derde party mag aanstel om uitstaande skuld in te vorder.”

Nel sê wat kommerwekkend is, is dat dit tans lyk asof die enigste oplossing vir ’n belastingbetaler wat voel dat die SAID nie die prosesse na behore gevolg het nie, is om die hooggeregshof ten duurste te nader om die derde party te beveel om die geld terug te betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.