Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jan Taks: Bel ons as jy hulp nodig het
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sê belastingbetalers is welkom om veranderings aan te bring as hulle nie saamstem met die outomatiese assessering nie. Foto: Pixabay

Belastingbetalers wat onseker is oor hul belastingopgawes, of meen daar is fout, kan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kontak vir hulp.

Netwerk24 het sedert die SAID Vrydag sowat 3,1 miljoen belastingbetalers via SMS ingelig dat hul belasting vanjaar outomaties geassesseer is, verskeie klagtes ontvang oor foutiewe assesserings.

Siphithi Sibeko, hoof van kommunikasie en media by die SAID, het Woensdag in ’n onderhoud aan Netwerk24 gesê hoewel die SAID baie vertroue in sy stelsel het, sal daar beslis gevalle wees waar die outomatiese assessering nie reg is nie.

“Daar is twee groot veranderlikes wat die assessering kan beïnvloed,” verduidelik hy.

Die eerste is of werkgewers betyds hul lopende inkomstebelastingbetaling (PAYE) aan die SAID gestuur het. “Ons het ná 7 Julie, toe ons die outomatiese assessering gedoen het, sowat drie miljoen datastukke van werkgewers ontvang.”

In so ’n geval gaan die inligting wat per SMS gestuur is en dit wat op die eFiling-stelsel verskyn, verskil. Tweedens het die SAID nie noodwendig alle data tot sy beskikking wanneer die assessering gedoen word nie.

“Ons kan nie sien as jy byvoorbeeld ’n reis-eis het of bykomende mediese uitgawes gehad het nie.”

Hy sê dit is hoekom die SAID voorsiening daarvoor maak dat belastingbetalers ’n assessering kan aanpas. Sibeko sê as belastingbetalers onseker is oor assesserings, is hulle welkom om die SAID op 0800 00 7277 te kontak vir hulp. Hy herinner belastingbetalers dat die SAID tans geen besoekers by sy kantore aanvaar sonder ’n afspraak nie.

Sibeko sê ook belastingbetalers kan private belastingkenners nader om hulp as hulle meen die assessering moet hersien word.

Nog ’n klagte wat Netwerk24 ontvang het, was dat die SAID se stelsel nie oor die naweek maklik toeganklik was nie. Sibeko erken dat hul stelsel nie gereed was vir die oorweldigende reaksie op die outomatiese assesserings nie.

“Die stelsel het egter sedertdien gestabiliseer en belastingbetalers kan nou sonder probleme hul assessering nagaan.”

Belastingbetalers wat ’n SMS ontvang het, moet die volgende doen:

1. Klik op die skakel wat die SAID gestuur het, of gaan regstreeks na jou profiel by die SAID; of via die eFiling-webwerf; of via die SAID se app.

2. Gaan kyk of die SAID al die korrekte dokumente ontvang het.

3. Indien die inligting korrek is en jy tevrede is met die assessering, klik en aanvaar dit. Die proses is dan afgehandel. As die SAID jou geld skuld, behoort dit binne 72 uur regstreeks in jou bankrekening inbetaal te word.

4. Indien jy nie tevrede is nie, kan jy dit self aanpas of ’n kenner kry om jou by te staan. Die aangepaste assessering sal onmiddellik verwerk word. As jy geld geskuld word, sal jy dan ook binne 72 uur betaal word.

Verskeie lesers het aan Netwerk24 gesê hul assessering was uit die staanspoor korrek en dat hulle hul geld binne 72 uur van die SAID ontvang het.

Spertye

Belastingbetalers wat nie outomaties geassesseer is nie, moet van 1 September af hul opgawes indien.

Die spertye is soos volg:

  • 22 Oktober by die SAID se kantore self. Die SAID se kantore mag egter slegs besoek word indien ’n afspraak gemaak is.
  • 16 November aanlyn
  • 29 Januarie vir voorlopige belastingbetalers


    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Sakegesprek

    Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.