Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jan Taks betaal reeds R3,4 mjd. uit
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het reeds sowat R3,4 miljard aan individue terugbetaal. Foto: Elvira Wood

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het reeds sowat R3,4 miljard aan belastingbetalers terugbetaal.

Die SAID het op 30 Julie 3,1 miljoen SMS’e aan belastingbetalers gestuur nadat hulle outomatiese geassesseer is.

Die SAID sê Vrydag in ’n verklaring dat hy 89,5% van belastingbetalers wie gelukkig is met hul assessering, binne die beloofde 72 uur terugbetaal het. Die R3,4 miljard is aan sowat 340 000 belastingbetalers terugbetaal.

Die SAID se projek om soveel as moontlik belastingbetalers outomaties te assesseer, het nie sonder probleme verloop nie.

Die SAID sê een van die klagtes wat hy ontvang het, was dat die instruksie in sy SMS glad nie duidelik was nie.

Baie belastingbetalers het glo nie besef dat hulle via eFiling of die SAID se app moes gaan kyk of hulle assessering korrek is alvorens hulle dit aanvaar nie.

Siphithi Sibeko, hoof van kommunikasie en media by die SAID, het voorheen in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê dat belastingbetalers nie die outomatiese assessering onvoorwaardelik moet aanvaar nie.

Hy het gesê dat hoewel die SAID poog om die korrekte assessering te doen, kan daar veranderlikes wees waarvan die SAID nie bewus is nie.

Die eerste is of werkgewers betyds hul lopende inkomstebelastingbetaling (PAYE) aan die SAID gestuur het.

“Ons het ná 7 Julie, toe ons die outomatiese assessering gedoen het, sowat drie miljoen datastukke van werkgewers ontvang.”

In so ’n geval gaan die inligting wat per SMS gestuur is en dit wat op die eFiling-stelsel verskyn, verskil.

Die SAID herhaal Vrydag in sy verklaring dat hy steeds nuwe inligting van werkgewers en ander derde partye ontvang, wat ’n outomatiese assessering kan beïnvloed.

Die SAID het weer eens onderneem om die nuwe inligting waaroor hy beskik, op eFiling of die app weer te gee.

Sibeko wys ook daarop dat die SAID nie noodwendig alle data tot sy beskikking het wanneer die assessering gedoen word nie.

“Ons kan nie sien as jy ’n reis-eis het of bykomende mediese uitgawes gehad het nie.”

Hy sê dit is hoekom die SAID voorsiening daarvoor maak dat belastingbetalers ’n assessering kan aanpas.

Sibeko sê as belastingbetalers onseker is oor assesserings, is hulle welkom om die SAID op 0800 00 7277 te bel. Hy herinner belastingbetalers dat die SAID geen besoekers by sy kantore aanvaar sonder ’n afspraak nie.

Luidens die SAID se verklaring het 59% van belastingbetalers wat reeds hul assesserings aanvaar het, besluit om eers veranderinge aan te bring.

Die SAID sê nog ’n belofte wat hy gemaak het, en wat hy sukkel om na te kom, is om binne drie sekondes ’n assessering te verwerk.

Die SAID sê hy kon tot dusver net 35% van assesserings binne dié tyd verwerk. Hy sê dat die spoed van netwerke ’n groot rol speel in hoe vinnig sy stelsel ’n assessering kan verwerk.

Hy sê ongeag uitdagings is 60% van assesserings binne vyf sekondes voltooi, terwyl 80% binne 30 sekondes verwerk is.

Belastingbetalers wat ’n SMS ontvang het, moet die volgende doen:

• Klik op die skakel wat die SAID gestuur het, of gaan regstreeks na jou profiel by die SAID; of via die eFiling-webtuiste; of via die SAID se app.

• Gaan kyk of die SAID al die korrekte dokumente ontvang het.

• Indien die inligting korrek is en jy tevrede is met die assessering, klik en aanvaar dit. Die proses is dan afgehandel. As die SAID jou geld skuld, behoort dit binne 72 uur regstreeks in jou bankrekening inbetaal te word.

• Indien jy nie tevrede is nie, kan jy dit self aanpas of ’n kenner kry om jou te help. Die aangepaste assessering sal onmiddellik verwerk word. As jy geld geskuld word, sal jy dan ook binne 72 uur betaal word.

Spertye

• Belastingbetalers wat outomaties geassesseer is, en ’n SMS ontvang het om die assessering na te gaan, het tot 31 Augustus tyd om dit te doen. Indien hulle nié die assessering teen daardie tyd aanvaar nie, gaan dit dan soos ’n gewone opgawe hanteer word.

• Belastingbetalers wat nie outomaties geassesseer is nie, moet van 1 September hul opgawes indien. Sperdatums is dan as volg:

  • 22 Oktober by die SAID se kantore self. Die SAID se kantore mag egter slegs besoek word indien ’n afspraak gemaak is.
  • 16 November aanlyn.
  • 29 Januarie vir voorlopige belastingbetalers.


    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Sakegesprek

    Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.