Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jan Taks oudit al hoe meer mense

Effens minder druk op trusts, maar die krane word stywer gedraai by individue, maatskappye en BTW wat betref belastingoudits.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Adrian de Kock

Die gemiddelde tyd wat dit duur om oudits af te handel by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het wel vir alle kategorieë belastingbetalers verbeter as dit met die vorige jaar vergelyk word.

Dit blyk uit syfers wat Tito Mboweni, minister van finansies, in antwoord op ’n parlementêre vraag van Wouter Wessels, VF Plus-parlementslid, verskaf het.

Wessels wou by Mboweni weet watter persentasie van individue en ondernemings se belastingopgawes word jaarliks vir oudits gekies en wat die gemiddelde omdraaitye van dié oudits is.

Volgens syfers wat die SAID via Mboweni verskaf het, is 26% - dus meer as ’n kwart - van alle belastingopgawes van individuele belastingbetalers in die eerste sewe maande, tot einde Oktober 2018, van die lopende boekjaar vir oudits uitgesonder.

Dit is meer as die 24,6% wat in die vorige boekjaar tot einde Maart 2018 vir oudits uitgekies is.

Ook maatskappye en BTW-betalers is onder groter druk met oudits, met die persentasie opgawes vir maatskappye wat vir oudits uitgesonder is wat van 5% tot 6,5% geklim het, en vir BTW van 7,5% tot 12,6%.

Trusts is wel minder met oudits geteister, met 20,7% van alle belastingopgawes van trusts wat uitgesonder is vergeleke met 25,7% in die vorige jaar.

Die SAID het in die sewe maande tot einde Oktober wel die tyd wat dit verg om oudits te verwerk aansienlik verkort. Maatskappye wag gemiddeld 45 werkdae vir die afhandeling van hul belastingoudit teenoor 69 dae in die vorige boekjaar. Individue wag 28 dae teenoor 44 dae in die vorige jaar, en trusts wag 30 dae pleks van 52 dae.

Die tyd wat dit verg om BTW-oudits af te handel het nie noemenswaardig verkort nie. Dit is gemiddeld 42 werkdae teenoor 44 dae in die vorige boekjaar.

Maatskappye en individue wag in die jaar tot dusver ook effens korter vir terugbetalings, maar mense wag nou nog langer vir BTW-terugbetalings. Die gemiddelde wagtyd vir terugbetalings by maatskappye (ongeag of hul opgawes geoudit is) het van 16 dae tot 14 dae gekrimp.

Individue se wagtyd het van 13 dae tot 10 dae gekrimp, maar BTW-terugbetalings duur nou gemiddeld 29 dae teenoor 23 dae in die vorige boekjaar.

In die sewe maande tot einde Oktober 2018 is R122,1 miljard se BTW terugbetaal, R19,89 miljard se persoonlike inkomstebelasting, en R11,65 miljard se maatskappybelasting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.