Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jan Taks stuur 3,1 miljoen SMS’e oor belasting

Sowat 3,1 miljoen belastingbetalers sal binne die volgende paar dae ’n SMS van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang.

Edward Kieswetter. Foto: Isabel Venter

Dis omdat Jan Taks vanjaar ’n groot aantal belastingbetalers outomaties geassesseer het.

Edward Kieswetter sê die diens het reeds Donderdag begin om dié SMS’e uit te stuur. Kort ná 12:00 het sowat 62 500 belastingbetalers reeds hul assessering aanvaar.

Wanneer ’n belastingbetaler die SMS kry, is ’n voorlopige belastingopgawe reeds op die SAID se digitale kanale vir eFiling beskikbaar.

Diegene wat die voorlopige assessering aanvaar, hoef niks verder te doen nie.

Belastingbetalers wat outomaties geassesseer is en aan wie die SAID geld skuld, sal dit in die eerste week van Augustus ontvang.

Outomatiese assessering sal aan alle belastingbetalers beskikbaar wees wie se korrekte inligting betyds ontvang is.

Belastingbetalers wat nie kwalifiseer vir outomatiese assessering nie, maar waarvan die nodige inligting deur die loop van Augustus beskikbaar word, sal toegelaat word om dadelik ’n belastingopgawe in te dien.

Kieswetter sê die SAID het 126 miljoen data-opgawes van derde partye soos pensioen- en mediese fondse oor belastingbetalers ontvang om dié outomatiese assesserings moontlik te maak.

Hy sê die data wat hulle ontvang het, wys meer as 3 miljoen Suid-Afrikaners het finansiële bates in die buiteland.

Beloftes

Kieswetter het die volgende ondernemings gegee:

  • Agt uit elke tien belastingopgawes sal binne drie sekondes geassesseer word.
  • Sewe uit elke tien belastingbetalers aan wie terugbetalings verskuldig is, sal dit binne 72 uur ontvang.
  • Spesifieke inligting sal verskaf word indien inligting uitstaande is sodat belastingbetalers vinnig navrae kan beantwoord.

Spertye

Belastingbetalers wat nie outomaties geassesseer is nie, moet van 1 September af hul opgawes indien.

Spertye is as volg:

  • 22 Oktober by die SAID se kantore self. Die SAID se kantore mag egter slegs besoek word indien ’n afspraak gemaak is.
  • 16 November aanlyn
  • 29 Januarie vir voorlopige belastingbetalers

Kieswetter sê die SAID het 1 000 agente wat belastingbetalers kan bystaan sodat hulle uit die veiligheid van hul huis hul belastingopgawes kan indien.

Hy het telkemale die tema van vanjaar se belastingseisoen herhaal: “Jou belasting maak saak.”

“As jy hulp nodig het, bel ons op 0800 00 7277,” nooi Kieswetter.

“Ons wil dit vanjaar ’n probleemvrye ervaring vir belastingbetalers maak,” sê hy.

“Ons wil dit egter moeilik maak vir dié wat die diens wil bedrieg en nie hul belasting wil betaal nie.

“Dis nie reg dat dié oortreders wegkom met wat hulle doen nie. Ons wil sien dat hulle in hegtenis geneem word en verantwoording doen.”

Kieswetter sê gegee die uitdagings wat die Covid-19-pandemie bied, wil die SAID dit moontlik maak dat alle Suid-Afrikaners hul belastingopgawes in die veiligheid van hul huis kan indien.

Kieswetter sê die diens sal deurlopend met belastingbetalers kommunikeer om hulle in te lig oor hoe hulle te werk moet gaan om hul opgawes in te dien, en ook wat die vordering met hul opgawes is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.