Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jan Taks vat R196 000 uit bankrekening

Dink jou die skok en angstigheid in as Jan Taks sowat R78 000 en ’n week later nóg R118 000 uit jou bankrekening verhaal terwyl jy nié dié belasting verskuldig is nie.

Ter illustrasie. Foto: Elvira Wood

Dink jou dan die verligting in as die belastingombud die belastinggaarder beveel om die geld aan jou terug te betaal omdat dit verkeerdelik ingevorder is. Dít is wat verlede jaar met ’n sake-eienaar gebeur het, sê die kantoor van die belastingombud (OTO) in sy nuusbrief.

Dit het byna ’n jaar geneem voordat die onderneming sy geld teruggekry het omdat hy hom telkens vasgeloop het toe hy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se voorgeskrewe klagteprosedure gevolg het.

Klagtes moet eers met die SAID self opgeneem word voordat dit na die belastingombud geneem kan word vir ingryping as ’n oplossing nie gevind word nie.

Volgens die OTO hou die klag oor die foutiewe aftrekking verband met ’n versoek van die betrokke onderneming aan die SAID om sy besonderhede te ontkoppel van ’n betaalstaat-belastingnommer omdat hy nié vir die lopende betaalstelsel (LBS of pay-as-you-earn of PAYE), die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) of die vaardigheidsontwikkelingsheffing geregistreer is nie.

Volgens regter Bernard Ngoepe, die ombud, was dit onnodig vir die onderneming om daarvoor te registreer omdat hy geen werkers in diens het nie.

Die OTO het in sy ondersoek bevind die belastinggaarder het die maatskappy vir LBS geregistreer met ’n ander entiteit se maatskappy-registrasienommer, en toe verkeerdelik R195 365,90 van dié belastingpligtige ingevorder.

Die SAID, onder die indruk dat die onderneming nie sy LBS-belastingplig nakom nie, het kennisgewings uitgereik wat derdepartye (in dié geval banke) aangestel het om die belasting namens die SAID in te vorder. Gevolglik het Nedbank en Investec in Februarie en Maart verlede jaar eers R77 356,90 en toe R118 000 vanuit die onderneming se bankrekening aan die SAID betaal.

Die onderneming het dit op 25 Februarie 2020 – die dag ná die eerste foutiewe aftrekking – met die SAID se skuldbestuursafdeling opgeneem.

Op 18 September verlede jaar het die belastinggaarder nogtans ’n finale aanmaning aan die onderneming gestuur vir sowat R86 500 se agterstallige betaling.

Dít was bo en behalwe die twee bedrae wat reeds ingevolge die derdeparty-kennisgewings van die onderneming se bankrekening verhaal was.

Volgens die OTO het die belastingbetaler op 2 November 2020 ’n klag by die SAID se klagtekantoor ingedien, maar dis verwerp.

Die OTO het aanbeveel die SAID ontkoppel die onderneming van die verkeerde betaalstaat-belastingnommer omdat die firma nie vir LBS, WVF en die vaardigheidsontwikkelingsheffing geregistreer is nie.

Die SAID moes ook die totaal van R195 365,90 terugbetaal, geen verdere geld van die verkeerde rekening aftrek nie of geldige redes gee waarom hy steeds geld van die rekening wil verhaal.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Inkomstediens  |  Skuld  |  Jan Taks  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.