Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jan Taks wil SA’ners oorsee begin vasvat

Banke en regerings in 87 lande gaan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) help om Suid-Afrikaners op te skroef wat die land verlaat het en nou hul belastingplig hier ontduik.

Edward Kieswetter, commisioner of the South Africa
Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse inkomstediens. Foto: Getty Images

Suid-Afrika verloor elke jaar miljarde rande aan belasting­inkomste omdat baie Suid-Afrikaners oorsee nie hul inkomste verklaar nie. Die jongste beskikbare data dui daarop dat skaars 5 000 van die geraamde 1 miljoen Suid-Afrikaners in die buiteland belastingopgawes indien.

Jean du Toit, tegniese belastinghoof van Tax Consulting SA, het aan Rapport gesê die SAID het reeds verskeie belastingbetalers wat moontlik nie al hul buitelandse bates verklaar het nie, in kennis gestel van beplande belastingoudits op grond van inligting wat van 87 buitelandse jurisdiksies ontvang is.

Jonty Leon, ’n regskenner oor finansiële emigrasie by Tax Consulting SA, sê die SAID het sover grootliks staatgemaak op belastingbetalers se eerlikheid om hul buitelandse inkomste en bates te verklaar. Weens die groot verskil tussen die geraamde getal Suid-Afrikaners in die buiteland en die getal belastingopgawes wat hulle indien, het die SAID reeds in 2017 wetsveranderinge voorgestel oor hoeveel belastingkwytskelding Suid-Afrikaners wat oorsee werk op hul buitelandse verdienste kan kry.

In parlementêre sittings hieroor het die SAID en nasionale tesourie gesê ’n skamele 4 800 belastingopgawes is in ’n jaar van Suid-Afrikaners in die buiteland ontvang. Die belastinggaarder sukkel al ’n paar jaar om sy teikens te haal omdat die ekonomie so sukkel. Dié krisis is deur Covid-19 en die inperking vererger.

In die 2019-’20-boekjaar het die SAID R1 356 miljard ingesamel, sowat R3 miljard minder as die teiken. In die aanvullende begroting in Junie 2020 is die SAID se insamelings­teiken verlaag van R1 425 miljard tot R1 121 miljard.

Du Toit sê die SAID móét daarom inkomste uit nuwe bronne tap.

Daarom gebruik hy nou vir die eerste keer inligting van ander belastingowerhede onder ’n internasionale inisiatief vir die outomatiese uitruil van inligting (AEOI).

Dit sluit inligting in oor Suid-Afrikaners se bankrekenings oorsee, wat die SAID kan help om belastingbetalers op te spoor wat iets wegsteek.

As jy nie die laaste paar jaar oop kaarte met Jan Taks gespeel het oor jou buitelandse inkomste nie, is dit nou die tyd om die lug te suiwer, sê Du Toit.

“Dit is nie meer ’n geval van óf die SAID aan jou deur sal kom klop nie, maar eerder wanneer.”

Du Toit sê as jy versuim het om alles te verklaar, maar nog nie ’n SAID-kennisgewing ontvang het nie, moet jy vinnig aansoek doen om deel te neem aan die SAID se vrywillige openbaarmakingsprogram (VDP).

Dit gee belastingbetalers kans om hul belastingsake in orde te kry en bied ook amnestie van strafregtelike vervolging en reuseboetes vir agterstallige belasting.

Dit is ’n strafregtelike oortreding om inkomste en bates vir die SAID weg te steek. Skuldiges kan swaar beboet of selfs tronkstraf opgelê word.

Rykes wat belasting ontduik, is ’n reuseprobleem, het oudregter Dennis Davis, voorsitter van die Davis-komitee wat belastingbeleid hersien, Woensdag in Business Day geskryf.

Volgens die 2020-begrotings­dokumente het sowat 125 000 belastingbetalers ’n belasbare jaarlikse inkomste van meer as R1,5 miljoen gehad, skryf hy.

Volgens die SAID se jongste syfers was daar in 2019 sowat 34 300 belastingbetalers wat tussen R2 miljoen en R5 miljoen verdien het, en sowat 6 500 het meer as R5 miljoen verdien.

Davis sê egter die magdom weelderige huise en die groot getal “Ferrari’s, Maserati’s, Lamborghini’s en Porsches” op die paaie dui daarop dat talle rykes nie hul volle inkomste verklaar nie – en te min belasting betaal.

Davis reken as die SAID alles invorder waarop hy geregtig is, kan dit maklik R20 miljard se bykomende belastinginkomste beteken, wat vir Covid-19-entstowwe kan betaal sonder om druk op die staatskas te plaas.

Du Toit bespeur intussen ’n aggressiewer toon in die SAID-kennisgewings aan belastingbetalers wie se sake moontlik hersien gaan word.

Hoewel Jan Taks ’n “gesprek” met die belastingbetaler wil hê, vra hy ook binne 21 werksdae gedetailleerde inligting oor buitelandse bates, hoeveel en waar belê is, en ’n verduideliking waarom dit nie in die belastingopgawe is nie.

Volgens Du Toit is die SAID se uitnodiging om deel te neem aan die VDP ook onduidelik, want dis onseker of die belastinggaarder openbaarmaking as vrywillig sal beskou as die belastingbetaler dié program volg.

Selfs al wil jy jou op die VDP beroep, moet jy steeds die SAID se vrae beantwoord en inligting gee wat gevra word en dus is dit raadsaam om ’n belastingkenner se hulp te vra, sê hy.

Leon sê hoewel nie al 1 miljoen Suid-Afrikaners in die buiteland steeds as belastinginwoners in Suid-Afrika geag word nie, het die meeste nog nie die formele finansiële emigrasieproses deur die Reserwebank voltooi nie.

Daarsonder kan jy steeds as ’n belastinginwoner geag word en is jy dus hier belastingpligtig – al werk en woon jy reeds jare in die buiteland.

Jou status as belastinginwoner hang nie net af van die hoeveelheid tyd wat jy in Suid-Afrika deurbring nie. Dit is ingewikkeld en vereis tegniese stappe kragtens wetgewing.

Leon maan belastingbetalers om seker te maak hul belastingsake is in orde en daar is geen uitstaande belastingskuld nie voordat jy met finansiële emigrasie begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.