Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Janu-worrie: 13 wenke om tot betaaldag te oorleef

Vir baie salaristrekkers ontaard Januarie dikwels in “Aanhou worry” weens die lang tydperk tussen die vroeë betaling van hul salaris in Desember en die volgende betaaldag in Januarie, tesame met die ekstra uitgawes oor die vakansie- en terug-skool-toe-tyd. Hier is 13 wenke vir hoe om te oorleef tot die Januarie-betaaldag en 4 dinge wat jy nié moet doen nie.

Gehawend! Dis hoe die meeste van ons se geldsake in Januarie lyk! Foto: iStock

1. Hou op eet

Solank jy toegang het tot skoon water, kan ’n mens 40 dae sonder kos oorleef – maar jy hoef nou nie tot dié drastiese stap oor te gaan nie!

Vas het in onlangse jare gewild geword as deel van ’n dieetplan vir gesondheid en gewigsverlies.

Ná die brassery van Desember het ’n sinvolle vastydperk in Januarie dus ’n dubbele voordeel om geld te spaar én om jou liggaam dissipline aan te leer.

Werk in Januarie (meer gereeld) van die huis af. Nie net spaar jy aan petrol nie, ons is oortuig daar is beter geselskap tuis as daardie iesegrimmige kollega van jou. Foto: Pixabay

2. Werk van die huis af

As jou werkgewer dit toelaat, draai sy arm om jou van die huis af te laat werk. Só bring jy Januarie se petrolbesteding af.

Sonder die stresvolle tyd wat in die verkeer vermors word, sal jy boonop gesonder voel en minder geneig wees om geld te bestee aan kopseer- of kalmeerpille. Die koffiewinkel of kafee by die werk is ook nie daar om jou verder in die versoeking te lei nie.

3. Sny aan die water- en kragrekening

Besteding aan behuisingskoste, krag en water is teen meer as 30% die grootste enkele item waaraan huishoudings hul geld bestee, volgens Statistieke Suid-Afrika se gereelde peiling oor lewenstoestande.

Begin dus by die groot goed. Hanteer Januarie as beurtkragmaand en Maand Zero: Spaar elektrisiteit en water deur korter te stort, die geiser en warmwaterpype met ’n paar lae koerantpapier te isoleer, kersligetes te hou en die wasmasjienwater op te vang om toilette mee te spoel. (Vra gerus wenke by ’n Kapenaar, hulle onthou nog hoe!)

Braai en spaar aan elektrisiteit! En as jy nie geld het vir vleis nie, maak sosaties met baie groente op – gesond, lekker en heelwat goedkoper as ’n biefstuk of tjops! Foto: Pixabay

4. Braai

Geniet die somerweer en braai meer om die stoof en mikrogolfoond se elektrisiteit te spaar. Vleis is duur, ja, maar jy hoef ook nie polonie te braai nie – wees kreatief met hoender, vark of groentesosaties.

Aas vir gratis braaihout op jou stappie deur die buurt deur uit te kyk vir boomtakke wat afgeval het of die afvalhout van ’n buurman wat aan’t snoeie geraak het.

5. Pas jou vergoedingstruktuur aan

Dis dié keer straks al te laat, maar onthou dit vir volgende jaar. Sommige werkgewers begryp die Januarie-dilemma en bied die opsie aan werknemers om hul Desember-bonus te verdeel in twee – ’n bedrag vir Desember en ’n tweede bedrag êrens in Januarie om jou deur te dra tot betaaldag.

As jy die finansiële dissipline gehad het, kon jy dit natuurlik self doen deur bloot ’n deel van jou Desember-bonus doelbewus opsy te sit in ’n noodfonds vir die taai tye in Januarie.

6. Eet kool

Kool is ’n goedkoop groentesoort en tog een van die veelsydigstes. Dit hoef nie vervelig of onsmaaklik te wees as basis vir enige gereg nie. In die algemeen kan jy jou koslysie in Januarie aanpas en meer vars groente en vrugte insluit. Dit is goedkoper as verwerkte en verpakte kos en is boonop vrygestel van BTW. Dis gesonder en dwing jou om by die huis kos te maak, wat jou verder geld gaan spaar.

7. Bly weg van die winkelsentrums

Net om daar te gaan rondloop vir ontspanning plaas jou in die versoeking om geld uit te gee.

8. Los uiteet en kitskos

Dis vanselfsprekend. As jou geld min raak, raak dit in elk geval minder aantreklik om deur ’n vreemdeling in ’n vreemde omgewing bedien te word, vergeleke met die gemak en gerief om vir jouself in jou eie woning kos te maak. Dis gesonder en veel goedkoper.

Sê maar nee vir daardie cappuccino in Januarie, hoe nodig jy ook die kaffeïen het. Foto: iStock

9. Skaal af op die koffie

Ons weet, dis ’n groot sprong van Mastertons se 100% arabica-bone na Koffiehuis se sigoreimengsel, maar dis Januarie. Kyk so daarna - sigorei gaan ook deur as ’n soort groente, so dis bykans ’n gesondheidsdrankie. Ná ’n maand van Ricoffy of Frisco gaan jy in Februarie die koffie van varsgemaalde bone uit Burundi soveel meer waardeer en dis iets om na uit te sien.

10. Hou die data dop

Selfoondata is ’n groeiende item in ’n huishouding se begroting, veral met tieners en millenniërs in die omtrek. Jy het dalk ’n veselverbinding vir die huis en ’n dataplan ingesluit in jou selfoonkontrak, maar as jy jou oë uitvee, is dit uitgeput en moet jy dalk ekstra data aankoop.

Januarie is ’n goeie tyd om al jou kontrakte te hersien, onnodige Wi-Fi-kontrakte uit die era voor vesel te kanselleer of om op ’n digitale ontgiftingsprogram te gaan – doen net die nodige en rek jou data deur lig te gaan op die YouTube-video’s.

11. Versekering en medies

Moenie kanselleer nie, maar hersien dit of kyk of daar ander verskaffers is wat jou ’n laer premie gaan gee as jou bestaande versekeraar.

Hou wel in gedagte dat jy jou korttermynversekering dalk moet aanpas as jy duur nuwe items vir Kersfees gekry het. As die inbrekers dit kom haal, wil jy gedek wees.

Oorweeg die skuif na ’n goedkoper siekefonds of opsie, mits jou omstandighede en gesondheid dit regverdig. Dis dalk nou ook te laat vir vanjaar, hoewel sekere fondse jou wel toelaat om enige tyd van die jaar af te gradeer.

12. Ry minder

Teen meer as 16% is besteding aan vervoer die tweede grootste item in die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding se begroting. Die petrolprys het sedert Desember skerp gedaal, maar jy kan steeds heelwat spaar as jy minder rondry op kort ritte, as jy jou manier van bestuur aanpas deur rustiger te versnel en die motor se enjinrevolusies laag te hou.

Benut ook ten volle die lojaliteitsprogramme wat vulstasies en kleinhandelaars deesdae saam aanbied wat jou punte laat opbou met elke brandstofaankoop: Discovery Vitality by BP en Shell; Clicks by Shell; Dis-Chem by Total; Standard Bank se UCount by Caltex; FNB se eBucks by Engen; en Absa by Sasol.

13. As dit dan regtig moet, leen by Februarie

Krisistye verg drastiese stappe. As jy gedissiplineerd genoeg is, probeer sekere uitgawes uitstel tot volgende maand sodat jy geld het om te oorleef tot betaaldag.

Doen die som in jou kop. Februarie is die kortste maand en die enkele dae minder beteken jy sal straks enigiets tussen R100 en R500 minder bestee aan sekere daaglikse items.

Gebruik dit dan in Februarie om die uitgawes te dek wat nie noodsaaklik is om al vandeesmaand te betaal nie.

  

4 dinge wat jy nié moet doen nie

  

Hier is dinge wat jy liewer nié moet doen om jou rande tot Januarie se betaaldag te probeer rek nie.

1. Moenie geld by familie of vriende leen nie

Dit veroorsaak net spanning en beduiwel goeie of reeds bedenklike verhoudinge.

2. Moenie jou tot mikroleners wend nie

Die rentekoerse op daardie korttermynlenings is hel en jy dompel jou net in ’n nimmereindigende kuil van skuld.

piesang
Hoog op die lysie dinge wat jy nié in Januarie moet doen nie, is om jou mediese fonds of versekering te kanselleer. Jy wil nie op ’n piesangskil gly en dan sonder dekking wees nie! Foto: Pixabay

3. Moenie vaste langtermyn-uitgawes kanselleer nie

Dit sluit in kort- of langtermynversekering, bydraes tot uittree-annuïteite, effektetrusts of ander beleggings.

Om nou te sny op ’n aftree- of spaarplan beteken bloot jy leen van jou toekomstige self en jy erodeer die mag van saamgestelde rente.

4. Moenie debietorders kanselleer nie

Dis ’n groot probleem as jy gereelde betalings aan jou motorlening, selfoonrekening, huispaaiement, munisipaliteit, versekeraar of alarmmaatskappy oorslaan. Dit skep op sigself probleme soos oplopende skuld met ekstra rente en boetes of die gevaar dat die dienste waarvoor jy betaal, afgesny word of selfs dat jy later jou huis of motor kan verloor.

Bykomende bronne: BusinessTech en die TipsForSurvivingJanuworry-veldtog op Twitter.

Meer oor:  Spaarwenke  |  Begroting  |  Spaar  |  Finansiële Beplanning  |  Oos-Kaap Naweek  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2579,48 (5818)
  • Top 40 48247,95 (-18709)
  • All Share 53995,82 (-19210)
  • Resource 10 42465,54 (-4274)
  • Financial and Industrial 30 73008,97 (-35550)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.