Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jou belasting-opgawe: Leer uit dié 6 foute

As jy voete sleep om jou belastingopgawe in te dien weens vorige onsmaaklike ervarings, is daar goeie nuus: Sover is daar minder oudits, vinniger terugbetalings en ’n algehele beter ervaring.

Die belastinggaarder gaan vanjaar al hoe meer leefstyloudits doen en probeer verseker dat mense nie dubbeld vir mediese uitgawes eis nie.Foto: iStock

Marc Sevitz van TaxTim, wat individue met eFiling help, sê van die paar duisend opgawes wat TaxTim reeds sedert 1 Julie ingedien het, is daar veel minder onderwerp aan oudit of verifikasie.

’n Jaar of wat gelede is tussen 25% tot 33% van hul opgawes uitgelig vir verifikasie of oudit, maar tot dusver is dit sowat 20%. Hy glo die stelsel is goed genoeg om talle risiko’s uit te skakel en dít sal hopelik tot minder oudits lei.

Zané Gerber, assistent-bestuurder: belastingnakoming by Mazars, sê hulle het egter in die eerste twee weke reeds opgemerk dat die SAID hoërisiko-gevalle met erns teiken.

Gerber sê hulle sien ’n styging in kennisgewings wat dreig met bykomende aanslae. Die SAID is by magte om dit te doen as hy onder meer glo belastingbetalers het ’n fout gemaak op hul opgawe.

Mazars verwag ook dat die belastinggaarder vanjaar al hoe meer leefstyl- en geteikende oudits sal doen.

Verifikasie of oudit?
Sevitz sê mense verstaan nie altyd die verskil tussen ’n oudit- en verifikasieproses nie. Laasgenoemde vereis net dat jy stawende dokumente stuur vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). As die SAID met dié dokumente verdere risiko’s uitwys, kan dit in ’n oudit ontaard.

Die SAID het met die opening van die belastingseisoen gewaarsku dat hulle veral gaan fokus op mense wat huurinkomstes het, maar dit nie verklaar nie of wat gefabriseerde aftrekkings eis.

Van die brand- en ligpunte wat Rapport se lesers en belastingpraktisyns uitgelig het, sluit in:

1. Die alewige versoeke om stawende dokumente

Sevitz sê dit verwar belastingbetalers wanneer die SAID in ’n brief dokumente vra sonder om te spesifiseer wat hulle soek.

Die SAID het egter belowe om meer spesifiek te wees in hul versoeke en verskeie lesers met wie Rapport gepraat het, sê in hul geval is dit gestand gedoen.

Die SAID sal byvoorbeeld vra vir al jou dokumente wat met mediese aftrekkings verband hou of vir jou berekeninge oor kapitaalwins, eerder as álle ondersteunende dokumente.

2. Eise vir bydraes tot annuïteite

Johan Labuschagne, ’n belastingpraktisyn van Centurion, sê sy ervaring is dat die SAID al hoe meer verifikasies hiervan doen deur die bydraesertifikate te versoek, al stuur die meeste verskaffers van dié produkte die inligting direk vir die SAID en al word dit meestal outomaties vir die belastingbetaler ingevul.

Hy meen dis ’n vertragingstaktiek om terugbetalings uit te stel.

Datums

Wanneer kan jy jou opgawe indien?

  • eFiling: 1 Julie tot 4 Desember 2019.
  • Indiening by SAID-takke: 1 Augustus tot 31 Oktober 2019.
  • Voorlopige belastingbetalers wat eFiling gebruik, moet teen 31 Januarie 2020 indien.

3. Terugbetalings is relatief glad

Baie mense het hul terugbetalings binne 48 uur gekry, al het die SAID sewe werksdae om die betaling te doen. Dit geld egter net indien daar nie ’n verifikasieproses of oudit aan die gang is nie.

Labuschagne sê onlangs het die SAID R15 000 binne 48 uur terugbetaal sonder enige navrae, terwyl mense wat klein terugbetalings moet kry, gepeper word met navrae en selfs oudits en dan tot vier maande moet wag.

Een van sy kliënte het egter ’n aangename verrassing gekry toe R22 000 ook binne twee dae terugbetaal is, hoewel Labuschagne gedink het dit sou geoudit word.

Sevitz sê ’n algemene probleem wat opduik, is dat belastingbetalers hul bankbesonderhede verander het. In dié geval word geen geld terugbetaal nie totdat daar ’n omslagtige verifikasieproses van die nuwe bankbesonderhede gebeur het.

4. Bedenklike mediese uitgawes

Siekefondse hou namens hul lede boek van eise wat nie ten volle gedek is nie en bring dié bedrag op die sertifikaat aan.

Sommige mense besef nie dat die kwitansies wat hulle het, reeds by hul siekefonds se berekeninge ingesluit is nie. Dit is dus ’n dubbel-eis indien jy dié bedrae ook insluit.

Gerber sê belastingbetalers moet behoorlik verslag hou – soos fakture en bewys van betaling – om te kan kwalifiseer vir bykomende mediese belastingaftrekkings.

Hou in gedagte dat net voorskrifmedikasie, en nie oor-die-toonbank-medisyne nie, aftrekbaar is.

Labuschagne sê hy het gevind belastingbetalers moet ook ’n opsomming of staat opstel wat alle besoeke en uitgawes en soms ook motivering oor die mediese uitgawes bevat.

5. Die “ander” uitgawes

Mense wat kommissie verdien of vir tuiskantooruitgawes mag eis, word fyn dopgehou.

Sevitz sê belastingbetalers moet seker maak van hul berekeninge en nie persoonlike uitgawes insluit nie.

In Labuschagne se ondervinding misreken belastingbetalers hulle dikwels met eise teen motortoelaes en reisuitgawes – veral waar die uitgawes as persentasie van ’n pakket gedoen word en waar die werklike sakekilometers soos in die reisritboek nie genoeg is nie.

6. Die “ander” inkomstes

Kleiner inkomstes soos rente veroorsaak soms probleme as die SAID besef iemand verklaar dit nie.

Sevitz sê álle rente wat jy verdien, moet verklaar word – al is dit onder die belasbare perk. Vir mense jonger as 65 jaar is die perk R23 800 per jaar en vir mense ouer as 65 is die perk R34 500 per jaar.

Dieselfde geld plaaslike dividende wat reeds belas is met die uitbetaling daarvan, maar steeds verklaar moet word op die opgawe.

’n Nuwe eFiling

Die eFiling-webwerf is oorgedoen en daar is ook ’n selfoon-toepassing ontwikkel om die indiening te vergemaklik.

Sevitz sê die nuwe weergawe van eFiling is vars, modern, skoner en navigeer makliker.

Labuschagne sê weer die nuwe uitleg vereis meer op- en afrol op die skerm.

“Dit vat nou langer om ’n aanslag te voltooi. Ek dink nie die programmeerders van die nuwe stelsel het self belastingvorms voltooi nie, maar dalk is ek net nie so op die hoogte met rekenaartegnologie nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2260,51 (7457)
  • Top 40 50341,63 (26385)
  • All Share 56406,88 (28305)
  • Resource 10 44220,72 (46209)
  • Financial and Industrial 30 76382,91 (30380)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.