Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Wat gebeur as jy sonder testament sterf?

Testamente wat betwis word, het al menige nuusopskrif gehaal.

Dink maar aan die voortslepende stryd oor Joost van der Westhuizen se laaste testament – met ’n duimafdruk daarop, plaas van ’n handtekening. Pas het ’n tweede testament van die vermoorde Stellenbosse wynboer Stefan Smit vorendag gekom wat baie mense aan die gons het.

Die bereddering van ’n boedel is ook eersdaags die intrige vir ’n blitssepie wat VIA en Netwerk24 vanaf 2 September hier op Netwerk24 uitsaai.

LEES OOK: Familie-intrige in Netwerk24 se aanlyn blitssepie

Hoe weet jy jou testament sal nié ná jou dood tot ’n hofstryd lei nie? In ’n reeks artikels oor die volgende paar maande kyk ons na die belangrikste dinge wat kan skeefloop met testamente.

  

Probleem 1: Daar is nie ’n testament nie

  

Moenie die skryf van jou testament uitstel nie - om sonder ’n testament te sterf, kan mense laat erf wat jy nie wil laat erf nie en ander onterf. Foto: iStock

’n Testament moenie daaroor gaan dat jy in beheer wil bly van jou aardse besittings nie. Inteendeel: Dis jou laaste kans om seker te maak jou geliefdes is na die beste van jou vermoë finansieel versorg.

Jy maak ook seker jou geliefdes hoef nie, te midde van hul hartseer oor jou dood, deur die administratiewe nagmerrie te gaan wat hom kan afspeel as daar geen testament is nie.

“Testamente is nie net vir mense wat eiendom besit, getroud is of kinders het nie. As jy ’n bankrekening, kredietkaart, handelsrekening, belastingnommer, huurkontrak, mediese fonds, lewenspolis of beleggings, ’n motor of studieskuld het, moet jy eerder ’n testament laat opstel,” reken Charné van der Walt, ’n finansiële raadgewer van Stellenbosch.

Enigeen van 16 jaar of ouer wat verstandelik daartoe in staat is, mag in Suid-Afrika ’n testament opstel.

Selfs vir ’n eenvoudige boedel, met ’n testament wat nié betwis word nie, duur dit minstens ses maande om ’n boedel af te handel.

Jy kan jou lewensmaat en stiefkinders wat jy help grootmaak het, onterf as jy nie ’n testament nalaat nie.

As jy geen testament het nie, moet die meester van die hooggeregshof eers ’n eksekuteur aanwys – en dit gaan ’n vreemdeling wees wat nie jou familie of jou omstandighede ken nie. Dan moet doodseker gemaak word watter eiendom, beleggings en polisse jy besit, aan wie jy geld skuld, wie van jou inkomste afhanklik is en wie jou potensiële erfgename is – alles dinge wat makliker sou wees indien jy ’n testament gehad het.

Krediteure – mense en instansies aan wie jy geld skuld – staan altyd eerste in die ry, voordat enige boedel beredder kan word. En ja, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is ook ’n krediteur indien jou boedel meer as R3,5 miljoen werd is.

Tweede word finansieel voorsiening gemaak vir mense wat geregtig is op onderhoud. Dit sluit in minderjarige kinders (jonger as 18 jaar), gestremde kinders (ongeag hul ouderdom) en jou huweliksmaat in die geval van heteroseksuele egpare, of jou lewensmaat in ’n langtermyn- homoseksuele verhouding.

As jy nie ’n testament het nie, het jy ook nie voogde vir jou minderjarige kinders benoem nie. Die hof moet dan met die hulp van ’n maatskaplike werker en in oorleg met jou familie besluit wie hulle grootmaak.

Nadat skuld gedelg is en afhanklikes versorg is, word jou bates verdeel ingevolge die Wet op Intestate Opvolging, wat as volg bepaal:

  • As jy getroud is, maar geen kinders het nie, erf jou gade alles.
  • As jy kinders het, maar minder as R250 000 nalaat, erf jou gade ook alles.
  • As jy meer as R250 000 nalaat, sal jou gade en kinders erf. Die gade moet minstens R250 000 erf en wat oorbly, word onder die kinders verdeel. As die boedel groot genoeg is, word alles gelykop verdeel. Aangenome en buite-egtelike kinders het presies dieselfde reg om te erf as kinders wat in ’n huwelik gebore is; stiefkinders erf egter nié outomaties nie.
  • As jy nie getroud was of kinders gehad het nie, gaan jou geld en besittings na jou ouers. As net een van jou ouers nog leef, word die boedel gelykop verdeel tussen jou oorlewende ouer en jou broers en susters.
  • As jou ouers nie meer leef nie, gaan jou boedel na jou broers en susters.
  • As jy geen broers of susters het nie of as hulle reeds dood is, word die volgende naaste bloedverwante gesoek.
  • As hoegenaamd géén bloedverwante gevind word nie, word jou geld in die Voogdyfonds belê. As geen familie binne 30 jaar opdaag om iets te eis nie, gaan die regering dit kry.

Dié opsomming is vereenvoudig. Daar is nog heelwat aspekte wat dit ingewikkelder kan maak, soos in die geval van mense met meer as een lewensmaat of homoseksuele paartjies in ’n langtermynverhouding wat ongetroud was; mense in tradisionele, Moslem- of Hindoe-huwelike; of mense met meer as een gade. Die departement van justisie sit intestate opvolging in groter besonderhede uiteen.

In dié stadium is die Suid-Afrikaanse regspraak só dat heteroseksuele mense in ’n langtermynverhouding wat gekies het om nié te trou nie, nie van mekaar erf as daar nie ’n testament is nie, maar homoseksuele mense wél. Die regspraak is daargestel toe homoseksuele mense nog nie wetlik kon trou nie, maar is so ver bekend nog nie weer in die howe getoets nie.

As jy dus heteroseksueel en ongetroud is, maar in ’n verhouding, onterf jy daardie persoon effektiewelik as jy nie ’n testament het nie. Moenie aanvaar jou kinders uit ’n vorige huwelik sal die “regte ding” doen en jou lewensmaat iets laat erf nie – stel ’n testament op wat jou wense uitstippel!

Net so kan jy stiefkinders wat jy help grootmaak het, onterf as jy nie ’n testament nalaat nie.

Daar is ’n baie interessante hofsaak waarin regter Dennis Davis in 2008 bevestig het stiefkinders erf nie van ’n intestate boedel nie. Die eksekuteur van die akteur Bill Flynn, wat in 2007 dood is, het ’n aansoek gebring om sy boedel te laat erf van sy stiefpa, Edwin Farr.

Farr het met Flynn se ma, Mary Farr, getrou toe Flynn 14 jaar oud was. Flynn het Farr tot met Farr se dood as sy pa beskou, maar is nooit deur Farr aangeneem nie, volgens die hofstukke omdat sy biologiese pa dit nie wou toelaat nie. Farr is ’n jaar voor Flynn dood.

Flynn se vrou, die aktrise Jana Celliers, en biologiese seun, Ryan, is in die proses van ’n potensiële erfporsie ontneem; Farr se broer en suster en die kinders van broers en susters wat reeds oorlede was, is ingevolge intestate opvolging as sy erfgename aangewys.

Nes jy mense vir wie jy omgee, potensieel kan onterf as jy nie ’n testament het nie, kan dit meebring dat die “eks” van wie jy nooit amptelik geskei is nie, kinders van wie jy vervreem is of selfs niggies en nefies wat jy nog nie ontmoet het nie, erf. Jy weet nie wat die toekoms inhou en wie voor jou gaan sterf nie.

  • Dié artikel is in leketaal geskryf en probeer nie al die wetlike fasette van testamente uitlig nie. Maak seker jy nader sowel ’n regskenner as ’n finansiële beplanner wanneer jy ’n testament opstel – en moenie uitstel nie. Hoewel dit 100% seker is dat jy “eendag” doodgaan, weet jy nie 100% wanneer nie.
  • Volgende keer: Jy het ’n testament, mos... Maar is hy geldig? Die tweede groot probleem met testamente.
Oor Die Testament

Die Testament is ’n aanlyn blitssepie wat deur VIA en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai gaan word.

Netwerk24-intekenare kan elke weeksdag na ’n episode van vyf minute van Die Testament op Netwerk24 kyk. Die eerste episode sal op 2 September beskikbaar wees.

Die Testament handel oor die superryk Weyers-gesin, wat geruk word deur die patriarg, Sebastian Weyers, se skielike dood. Bastian, die oudste broer, Annchen, die vredemaker-suster, die rebel van ’n jonger broer, Jacques, en Sandra Maritz, Sebastian se lewensmaat van die afgelope vyf jaar, kom dan bymekaar vir die lees van die testament. Maar daar wag ’n hele paar verrassings op hulle!

Akteurs soos Nico Panagio, Sandra Prinsloo en Rolanda Marais speel in Die Testament.

Klik hier om op Netwerk24 in te teken teen R99 per maand.

Meer oor:  Intestaat  |  Testament  |  Boedelbeplanning  |  Boedel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2101,05 (1523)
  • Top 40 51801,53 (65598)
  • All Share 57853,9 (73012)
  • Resource 10 44319,86 (18680)
  • Financial and Industrial 30 79247,89 (123696)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.