Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
#JouVraag: Kan ek my kinders nou laat ‘erf’?

Het jy ’n vraag oor jou geldsake? Stuur dit gerus aan muntslim@netwerk24.com en ons sal kundiges vra om dit vir jou te beantwoord. Sluit asseblief so veel moontlik inligting in.

   

Jy kan reeds voor jou dood aan jou kinders geld of eiendom nalaat, maar jy sal wel belasting daarop betaal. Foto: iStock

’n Leser vra:

Ek is ’n 52-jarige weduwee wat ’n gewaarborgde pensioen kry wat jaarliks met inflasie styg. Ek verdien ook ’n beleggingsinkomste.

Ek het nou R3 miljoen wat ek wil herbelê (dit was onder meer in uitkeerpolisse belê), maar ek is ná drie jaar van geen groei en geweldig hoë koste en adviseursgelde lus om R1 miljoen aan elkeen van my twee seuns te gee as deel van hul erfporsie. Dit kan hulle dalk help om hul eerste huis aan te skaf.

Een van die seuns is nog ’n student en die ander een het pas klaar gestudeer en verdien ’n salaris.

  

Hester van der Merwe van Ultima Finansiële Beplanners antwoord:

Met stygende lewensverwagting is 52 regtig nog baie jonk!

Wees dus baie versigtig om geld weg te gee terwyl jy nog ’n lewens-verwagting van 30 jaar of langer het.

Die uitwerking van inflasie op langtermyn word maklik onderskat. Benewens die “normale” inflasie, moet uitskieters soos elektrisiteit, water en medies in ag geneem word, waarvan die koste met meer as die oorhoofse inflasiekoers styg.

Dit kan beteken dat jou pensioen, wat nou voldoende is, dalk later aangevul sal moet word met ander inkomste.

Wees dus baie versigtig om geld weg te gee terwyl jy nog ’n lewensverwagting van 30 jaar of langer het.

Wat die swak prestasie van jou beleggings betref, is dit noodsaaklik dat ’n kundige geraadpleeg moet word om na die oorsaak daarvan te kyk. Die mark het oor die laaste paar jaar baie sydelings beweeg, maar daar moet na die onderliggende beleggings gekyk word om agter die kap van die byl te kom.

Koste (adviseurs- en ander koste ingesluit) moet natuurlik ook nagegaan word en daar moet seker gemaak word die onttrekking sal nie ’n boete tot gevolg hê nie. Onttrekking op ’n verkeerde tyd kan tot gevolg hê dat ’n kapitaalverlies gerealiseer sal word en daarom is ’n deeglike ontleding nodig.

Nog raad

Die finansiële beplanner en rubriekskrywer Nico van Gijsen het onlangs ’n soortgelyke onderwerp aangeraak. Lees sy siening hier: Bemakings en skenkings – belasting wag

’n Verdere vraag is waarheen die kapitaal geskuif gaan word ná onttrekking. Die verkeerde besluit kan op langtermyn uiters nadelige gevolge hê. Sou daar byvoorbeeld besluit word om die bedrag in ’n geldmarkrekening te hou, sal toekomstige kapitaalgroei (dus groei van hoër as die inflasiekoers) uitgeskakel word. Boonop kan dit meebring dat jy ’n rente-inkomste verdien wat meer is as die toegelate belastingvrystelling van R23 800, dus gaan jy baie meer inkomstebelasting betaal.

Voordat jy geld aan jou kinders gee, moenie skenkingsbelasting uit die oog verloor nie. ’n Individu mag jaarliks R100 000 belastingvry skenk – in totaal, nie per ontvanger nie). Enigiets meer word teen 20% belas.

Indien die R2 miljoen die enigste skenking in die belastingjaar is, sal dit skenkingsbelasting van R380 000 (R1 900 000 x 20%) tot gevolg hê. Die skenker is verantwoordelik vir die betaling van dié belasting.

’n Mens kan redeneer dat boedelbelasting ook 20% is, maar dit is glad nie ’n gegewe dat dit by jou afsterwe betaalbaar sal wees nie (geen boedelbelasting word betaal op die eerste R3,5 miljoen van die boedel nie). ’n Deeglike boedelplan moet opgestel word.

Ons voorstel is dat hier geen besluit ten opsigte van so ’n groot skenking geneem word sonder dat ’n volledige finansiële plan opgestel word nie.

  • Hester van der Merwe is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Ultima Finansiële Beplanners van Pretoria.
  • Onthou dat die antwoord nie finansiële advies verteenwoordig nie – jy word steeds aangeraai om finansiële advies in te win om ’n omvattende finansiële plan op te stel gegrond op jou risikoprofiel, beleggingshorison en persoonlike omstandighede en doelwitte.
Meer oor:  Erflating  |  Boedelbeplanning  |  Boedel  |  Skenkings  |  Erf  |  #Jouvraag  |  Skenking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1121,56 (1291)
  • Top 40 45851,17 (-7786)
  • All Share 52096,04 (-5000)
  • Resource 10 39712,73 (24243)
  • Financial and Industrial 30 68788,28 (-23394)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.