Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jy het ’n testament, maar is dit geldig?

Jy het ’n testament, mos... Maar is dit geldig? In ’n reeks artikels oor die volgende paar maande kyk ons na dinge wat kan skeefloop met testamente. Dit sluit aan by VIA en Netwerk24 se blitssepie Die Testament, wat vanaf Maandag 2 September op Netwerk24 uitgesaai word.

  

LEES OOK: Die Testament: Ontmoet Jacques Weyers

In ons eerste artikel oor dinge wat kan skeefloop, het ons gekyk na die implikasies as iemand sonder ’n testament te sterwe kom. Jy kan dalk iemand onterf vir wie jy omgegee het.

LEES OOK: Wat gebeur as jy sonder testament sterf?

  

Probleem 2: Jou testament is ongeldig

  

Dit help nie jy het ’n testament, maar dit voldoen nie aan wetlike vereistes nie. Foto: Unsplash

Selfs al het jy ’n testament, het jy dalk ’n ongeldige testament.

Dis wat Amor Vittone aanvoer in die voortslepende hofgeding oor die testament wat haar man, Joost van der Westhuizen, in 2015 opgestel het toe sy motorneuronsiekte reeds in ’n gevorderde stadium was. Van der Westhuizen het dié testament met net ’n duimafdruk onderteken, maar dit maak dit nie ongeldig nie.

Die departement van justisie verduidelik wat die wetlike vereistes vir ’n geldige testament is:

  • Jy moet minstens 16 jaar oud wees en verstandelik in staat wees om die gevolge van jou dade te verstaan. Dit beteken verstandelik gestremdes of mense met ernstige geestesversteurings (soos hallusinasies of delusies) kan nie ’n geldige testament opstel nie, of hul testament sal betwis kan word. (Sien ook inligting hieronder.)
  • Die testament moet op skrif gestel wees. Jy kan dit met die hand uitskryf of tik, maar ’n mondelinge onderneming sal nie aanvaar word nie.
  • Die testateur moet die testament onderteken. As dit langer as een bladsy is, moet elke bladsy onderteken word. Op die laaste bladsy moet die testament onderteken word waar die testament eindig, maar op ander bladsye mag die handtekening op enige plek op die blad wees.
  • Twee getuies moet die testament onderteken. Die ondertekening van die testament deur die testateur en getuies moet in mekaar se teenwoordigheid plaasvind.
  • Getuies moet minstens 14 jaar oud wees en moet in staat wees om in ’n hof te kan getuig.
  • Erfgename moet liewers nie as getuies teken nie. In die geval waar ’n testament betwis word, kan so ’n situasie daartoe lei dat die testament as ongeldig verklaar word. Dis ’n grys gebied, maar dis beter om eerder veilig te bly en getuies te kry wat nie ook erfgename is nie.
  • As jy om een of ander rede nie jou testament kan onderteken nie, mag jy ’n duimafdruk maak of ’n kruisie trek, of iemand mag dit namens jou onderteken. Dit moet gedoen word in die teenwoordigheid van twee of meer bevoegde getuies én ’n kommissaris van ede, wat ook almal die testament moet onderteken. Die kommissaris van ede moet ook sertifiseer dat hy/sy oortuig is van die testateur se identiteit en dat die testament wel sy of haar testament is, en dié sertifikaat moet onderteken wees.

Selfs al het jy nie aan al bogenoemde formaliteite voldoen nie, bepaal die wet dat die meester van die hooggeregshof sy diskresie kan gebruik om die testament wel te eerbiedig. Die hof sal egter baie fyn trap om te probeer seker maak jy het wel bedoel dat die dokument jou testament moet wees.

    

Ongeldig verklaar - wat nou?
  • Indien jou testament ongeldig bevind word, sal ’n vorige testament as die geldige weergawe aanvaar word.
  • Indien daar nie ’n vorige testament is nie, sal jou boedel ingevolge die reëls oor intestate opvolging verdeel word. Lees hier wat dit beteken.

Oor demensie, Alzheimer se siekte en psigiatriese siektes

Kan iemand in die vroeë fases van demensie of Alzheimer se siekte, iemand met ’n breinbesering, ernstige depressie of in ’n sogenaamde maniese toestand ’n geldige testament opstel?

Daar is nie ’n eenvoudige antwoord nie.

Die algemene regsreël is dat aanvaar word dat meerderjariges verstandelik en regtelik bevoeg is om hul eie sake te behartig, tensy die teendeel bewys kan word of tensy die persoon deur ’n hof onbevoegd gesertifiseer is. Daar is egter wel hofuitsprake wat bevind het selfs iemand vir wie ’n kurator aangewys is, kan ’n geldige testament opstel omdat hul toestand van dag tot dag kan wissel.

Daar is selfs ook hofsake waarin bevind is jy kan ’n geldige testament opstel terwyl jy besope is.

Volgens die departement van justisie moet iemand die aard, doelwit en gevolge van hul dade verstaan op die oomblik wat hulle die testament onderteken.

Indien die testament betwis word omdat iemand reken die testateur was om die een of ander rede onbevoeg, sal die finale besluit daaroor by die hof berus. Daar sal veral gekyk word of iemand druk op die persoon uitgeoefen het om sy of haar testament op te stel of te verander.

Die risiko van Alzheimer se siekte is dus net nog ’n rede om jou testament op te stel en te verander, indien nodig, terwyl jy heeltemal gesond is en niemand twyfel kan hê oor jou bevoegdheid nie.

Indien daar enige twyfel is of iemand ’n geldige testament kan opstel, kan die persoon deur ’n psigiater geëvalueer word en in so ’n geval sal dit ook beter wees as die testament opgestel word deur ’n onafhanklike regskenner.

  

Wie mag jou eksekuteur wees?

Jy mag ’n vriend, familielid en selfs ’n erfgenaam as jou eksekuteur aanwys. Baie mense doen dit in die hoop om eksekuteursgeld te bespaar.

Daar is baie administrasie betrokke by die afhandeling van ’n boedel. Die persoon moet die tyd en geduld hê om met banke en batebestuursfirmas, ’n pensioenfonds, munisipaliteit, Suid-Afrikaanse Inkomstediens, en die hof te skakel.

Indien jou gekose eksekuteur geen regskennis het nie, sal die meester van die hooggeregshof vereis dat jy deur ’n prokureur, advokaat, ouditeur of trustmaatskappy bygestaan word. In so ’n geval sal regskoste in ieder geval betaal moet word, waarskynlik op ’n uurlikse tarief gegrond – en vir klein boedels kan dit dalk selfs meer beloop as die wetlike maksimum wat ’n eksekuteur mag vra.

Die maksimum eksekuteursgeld beloop 3,5% van die waarde van ’n boedel plus belasting op toegevoegde waarde van 15% op daardie bedrag. Dit kom neer op sowat 4% van die bates in die boedel en word bereken op die bruto waarde van bates, voordat skuld afgetrek is.

Jy kan wel vir ’n laer eksekuteursgeld onderhandel.

As jy wel ’n vriend of familielid as eksekuteur aanwys – pleks van iemand by ’n regsfirma – moet jy ook ’n alternatiewe eksekuteur aanwys ingeval jou eksekuteur voor jou sterf of nie op daardie tydstip in staat is om die werk te doen nie. Jy kan ook mede-eksekuteurs aanwys – dis nie ’n slegte plan om ’n familielid en regsverteenwoordiger as mede-eksekuteurs aan te wys nie.

  

Wat van . . .

  • . . .’n prokureur?

’n Testament wat jy sonder regshulp opstel, is nie ongeldig nie. Jy is nie verplig om ’n prokureur te gebruik om jou testament op te stel nie.

Jy kan ’n voorbeeld van ’n geldige testament van die internet aftrek en jou eie besonderhede invul.

Baie mense doen dit bloot om geld te bespaar, sowel die eenmalige koste vir die opstel van ’n testament as die eksekuteursgeld.

Dit kan egter baie maklik ’n geval word van goedkoop koop is duur koop – vir jou naasbestaandes.

Hoe ingewikkelder jou testament, hoe groter die risiko dat jy op jou eie ’n teenstrydige of dubbelsinnige dokument opstel. Die testament is dalk regstegnies geldig, maar nie uitvoerbaar nie.

  • . . .’n verandering?

Jy mag jou testament wysig sonder om die hele testament te herroep. ’n Kodisil is ’n aanhangsel tot ’n bestaande testament waarin wysigings aangebring word.

Om geldig te wees, moet dit aan dieselfde vereistes as die oorspronklike testament voldoen, soos dat jy dit in die teenwoordigheid van twee getuies moet onderteken wat elkeen ook self moet teken.

Goeie nuus is dat dit nie presies dieselfde twee getuies hoef te wees as wat die oorspronklike testament onderteken het nie.

  • Dié artikel is in leketaal geskryf en probeer nie al die wetlike fasette van testamente uitlig nie. Maak seker jy nader sowel ’n regskenner as ’n finansiële beplanner wanneer jy ’n testament opstel – en moenie uitstel nie. Hoewel dit 100% seker is dat jy “eendag” doodgaan, weet jy nie 100% wanneer nie.
  • Volgende keer: Jy het ’n testament, maar het intussen het iets verander. Hoe gou moet jy jou testament verander? Die derde groot probleem met testamente.
Oor Die Testament

Die Testament is ’n aanlyn blitssepie wat deur VIA en Netwerk24 vervaardig word en op Netwerk24 uitgesaai gaan word.

Netwerk24-intekenare kan elke weeksdag na ’n episode van vyf minute van Die Testament op Netwerk24 kyk. Die eerste episode sal op 2 September beskikbaar wees.

Die Testament handel oor die superryk Weyers-gesin, wat geskok word deur die patriarg, Sebastian Weyers, se skielike dood. Bastian, die oudste broer, Annchen, die vredemaker-suster, die rebel van ’n jonger broer, Jacques, en Sandra Maritz, Sebastian se lewensmaat van die afgelope vyf jaar, kom dan bymekaar vir die lees van die testament. Maar daar wag ’n hele paar verrassings op hulle.

Akteurs soos Nico Panagio, Sandra Prinsloo en Rolanda Marais speel in Die Testament.

Klik hier om op Netwerk24 in te teken teen R99 per maand.

Meer oor:  Testament  |  Boedelbeplanning  |  Boedel  |  Die Testament
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.