Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jy kán dalk jou skuld laat afskryf - oor 2 jaar

Skuldenaars wat hoop dat hul skuld afgeskryf gaan word, sal minstens twee jaar moet wag – en dis net as kleinhandelaars en banke nie voor dan die Kredietwysigingswet in howe takel nie.

Die liggame wat uiteindelik sal moet besluit of skuld afgeskryf word, moet nog geskep word.. Foto: iStock

Dié omstrede wet, wat onlangs onderteken is, laat verbruikers toe om in bepaalde omstandighede te vra om hul skuld af te skryf. Banke en kleinhandelaars sal die verliese moet verduur.

Nthupang Magolego, senior regsadviseur by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR), het die afgelope week aan Rapport gesê die liggame wat uiteindelik sal moet besluit of skuld afgeskryf word, moet nog geskep word.

“Ons verwag al die bykomende liggame sal binne twee jaar bedryfsgereed wees.”

Die NKR sal ook meer geld moet kry om dié liggame op die been te bring.

LEES OOK: Skuldwet: Verbruikers moet versigtig wees

Intussen dreig die kredietverleners wat geraak word al hoe sterker dat hulle die wet in die howe kan beveg.

Michael Lawrence, uitvoerende direkteur van die sambreelliggaam van klerekleinhandelaars (NCRFSA), het aan Rapport gesê hy is veral bekommerd dat die maatskaplik-ekonomiese impakstudie nie openbaar gemaak is nie.

Dié studie moes vasstel wat die uitwerking van die wet sal wees op die ekonomie, die kredietverleners en verbruikers se gedrag.

“Ons het die inligting van die impakstudie nodig om aan ’n strategie vir die toekoms uit te werk.

“As daar nie oop kaarte gespeel word nie, sal dit ons noop om by verstek die regsroete te volg.”

LEES OOK: Skuld afgeskryf: Klerewinkels erg bekommerd

Die NCRFSA sê daar is ook baie onduidelikhede in die wet, soos die faktore wat in ag geneem gaan word om te besluit oor “skuldingryping” waarvoor die wet voorsiening maak.

Cas Coovadia, hoof van die Bankvereniging van Suid-Afrika.

’n Ander bron van kommer, sê Law­rence, is vrae oor die juistheid van skuldenaars se inkomste.

Die wetgewing bepaal diegene wat in die voorafgaande ses maande R7 500 of minder verdien het, kan kwalifiseer vir skuldafskrywing.

“Is die salarisinligting van skuldenaars betroubaar? Hoe word dit geverifieer? Wat as mense hul salarisstrokies vervals?”

Kort nadat pres. Cyril Rama­phosa die wet onderteken het, die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) ’n dringende vergadering met hom aangevra.

Basa het die afgelope week bevestig hulle het nog geen reaksie gekry nie.

LEES OOK: Skuldwet kan jóúsak ook ruk

Basa wil spesifiek met die president praat oor die drempels wat vasgestel is in die wetgewing – dat iemand met ’n salaris van R7 500 en minder met ongesekureerde skuld van minder as R50 000 kan kwalifiseer vir skuldingryping.

“Ons is van mening daar is lukraak op hierdie syfers besluit en dis nie gegrond op statistiese inligting nie,” sê Cas Coovadia, hoof van Basa.

“Die besluit lei daartoe dat ’n groot hoeveelheid verbruikers kwalifiseer (vir skuldingryping) – selfs diegene wat reeds verligting ontvang het van die bestaande skuldhersiening- en -verligtingsmaat­reëls.”

Rapport het vroeër berig dat sowat 9,2 miljoen mense in dié kategorieë val en sodoende sal kwalifiseer vir skuld­ingryping.

Die NKR het ook nog nie met Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, onder wie die nuwe wetgewing val, vergader om die fyner besonderhede uit te klaar nie.

Ons is van mening daar is lukraak op hierdie syfers besluit en dis nie gegrond op statistiese inligting nie.C
Cas Coovadia van die Bankvereniging

Kredietverleners se kritiek teen die wet sluit in dat dit juis verbruikers gaan benadeel omdat mense nie bereid gaan wees om vir hulle geld te leen nie.

Uit die inligting wat die NKR kwartaalliks beskikbaar stel, blyk dit reeds dat krediet wat aan leners in die salaris- en skuldkategorie (van R7 500 en R50 000 onderskeidelik) toegestaan word, aansienlik verminder het.

Waar dit 16% was in 2013, was dit slegs 4% in die tweede kwartaal van 2018.

Business Day het die afgelope week berig Capitec het in die afgelope twee jaar in aanloop tot die wetgewing sy blootstelling aan klante in die genoemde kategorie verlaag en dit beslaan tans slegs 5% van sy uitleenboek.

Ander banke sal waarskynlikheid in Capitec se voetspore volg – veral omdat die wet aan die Krediettribunaal die mag gee om ’n uitlener wat krediet op ’n verantwoordelike manier toegestaan het, te beveel om dié skuld af te skryf.

“Weens die wesenlike impak wat sulke bevele kan hê, sal baie banke genoodsaak wees om die krediet wat hulle toestaan te verminder,” sê Coovadia.

“Hierdie verbruikers sal voortaan uitgesluit word van ’n goed gereguleerde kredietmark en gedryf word na ongereguleerde uitleners.”

Meer oor:  Lenings  |  Nasionale Kredietreguleerder  |  Krediet  |  Skuld  |  Banke  |  Nkr  |  Kredietwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.