Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jy kan jou geldstorie herskryf – al is dit nou ’n riller

Hester van der Merwe, ’n direkteur van Ultima Financial Planners, is onlangs aangewys as die Finansiële Beplanningsinstituut (FPI) se finansiële beplanner van 2020. Ons het dié gesertifiseerde finansiële beplanner gevra vir algemene lesse wat sy mense met hul geldsake wil leer.

  

Hester van der Merwe, 2020 se beste finansiële beplanner, glo dat mense gelei moet word om hul ‘geldstorie’ te ontdek – en dan te herskryf.

Finansiële beplanning klink dalk asof dit oor “somme, somme, somme” gaan, maar as jy vir mense raad wil gee met hul geld, moet jy nie net met syfers kan werk nie, jy moet ’n hart vir mense hê, sê Van der Merwe.

“Blote beplanning kan so goed wees as wat dit wil, maar as die kliënt nie daarmee kan werk nie, beteken dit ’n ronde nul.”

Pleks van koue beplanning, verkies Van der Merwe ’n proses van finansiële afrigting. Sy probeer mense leer om hul “geldstorie” te verstaan. Dit sluit in dat hulle moet dink oor vrae soos:

  • Wat is jou eerste sinvolle herinnering oor geld?
  • Wat in jou lewe het ’n impak op jou beskouing van geld?

“Elkeen van ons het goed in ons lewe wat beïnvloed hoe ons met geld werk. Ek wil mense help om dit te verstaan, sodat hulle kan aksie neem en hul omstandighede kan verander.”

Sy probeer mense lei om die blindekolle wat hulle met geld het, te identifiseer – die dinge waarop hulle fokus en die dinge wat hulle ignoreer. Dít bepaal in ’n groot mate watter deure vir jou oop- of toegemaak word.

Sy sê dis belangrik dat mense hulself nie veroordeel vir foute wat hulle al gemaak het met geld nie.

Die meeste mense wag te laat voordat hulle advies met hul geldsake soek. Foto: Pixabay

En dat hulle weet: Hoewel jy ’n “geldstorie” het, is jy ook in staat om dit te herskryf. Met hulp kan jy ’n geldstorie begin bou wat vír jou werk. “Jy is die spesialis van jou eie lewe, jy weet wat vir jou belangrik is.”

Die proses van finansiële afrigting behels dat mense nie voorgesê word wat om te doen nie, maar vrae gevra word totdat hulle self by insigte uitkom.

“Mense kan vir jou sê: ‘Jy moet nou ophou sjokolade eet,’ maar jy gaan dit nie doen nie. Eers wanneer jy insig kry waarom sjokolade vir jou sleg is, gaan jy dit doen.”

   

3 groot geldfoute

Die eerste grootste fout wat mense maak, is om te lank te wag voordat hulle finansiële beplanning begin doen.

Die tweede groot fout is dat mense nie ’n noodfonds het nie.

“Te veel mense het nie ’n noodfonds nie – hulle weet nie eens dat hulle dit moet hê nie. Dit skep allerhande probleme in die loop van jou finansiële beplanning – geld wat geoormerk is vir iets anders, moet dan gebruik word as ’n noodgeval opduik.”

Na gelang van mense se omstandighede, beveel finansiële beplanners aan dat mense ’n noodfonds hou wat tussen drie en ses maande se uitgawes kan dek. Die Covid-19-krisis, waartydens baie mense tydelik of permanent afgelê is of hul salarisse besnoei is, het ook uitgelig hoe kwesbaar mense sonder ’n noodfonds is.

’n Derde groot fout is dat mense in korttermynpatrone vasval. “Dis soos as jy gym toe gaan om ’n sixpack te kry. Jy weet jy gaan dit nie ná jou eerste oefening of ná ’n week hê nie – jy moet regtig volhou daarmee en die effort insit.

“Net so moet jy beplanningsfiks raak – jy moet gewoond raak daaraan om jou geldsake te bestuur.”

  

Wanneer moet jy ’n finansiële beplanner sien?

Finansiële beplanning is een van daai take wat mense vermy – en dikwels stel hulle dit uit totdat dit ’n “bietjie te laat” is, soos net voordat hulle aftree, wanneer die kans om vir aftrede te spaar reeds verby is.

Mense nader ook dikwels ná ’n krisis ’n finansiële beplanner, soos wanneer iemand sonder ’n testament gesterf het en hulle skielik die implikasies daarvan besef.

Van der Merwe sê baie mense dink probleme met hul geldsake “sal vanself regkom as hulle dit onder die mat invee”.

Gebruik jou eerste salaristjek eerder om ’n finansiële beplanner te gaan sien as om ’n nuwe kar te koop.

Sy sê egter die heel moeilikste stap is juis die eerste een – om ’n finansiële beplanner te gaan sien.

Wanneer is dus die regte tyd om ’n finansiële beplanner te sien? “Kort ná jou eerste salaristjek is ideaal. Dis belangriker as om ’n mooi kar met jou eerste salaris te koop.”

Van der Merwe sê tyd in die mark is die belangrikste faktor vir finansiële sukses – en dis die een ding wat jy net vir jouself kan gee. Dit maak nie saak hoe goed jy beplan nie, sonder tyd gaan jy vasbrand.

Dis ook ’n goeie idee om ’n finansiële beplanner te gaan sien wanneer jy op trou staan – dan kan julle saam jul toekoms beplan en al die finansiële boublokke in plek stel.

Van der Merwe sê dis belangrik dat jy met verloop van tyd ’n goeie verhouding met jou finansiële beplanner opbou. “As jy iemand eers gaan sien wanneer jy op aftrede staan, hoe bou jy vertroue in so ’n klein rukkie?”

Waarmee sukkel mense die meeste?

Dit bly vir een en almal moeilik om ’n balans te vind tussen wat lekker is en wat noodsaaklik is, sê Van der Merwe.

Die meeste mense sal eerder lekker vakansie gaan hou aan die einde van die jaar as om geld vir hul aftrede te spaar.

Sy sê mense het min simpatie met hul toekomstige self – daardie persoon vir wie se oudag hulle geld moet wegsit. “Navorsing toon mense voel om vir hulself in die toekoms te spaar, is amper asof jy geld vir iemand anders weggee.

Leer om jou toekomstige self rêrig lief te kry en te wil versorg. Dit maak die vreeslike toutrekkery makliker.

“Leer om jou toekomstige self rêrig lief te kry en te wil versorg. Dit maak die vreeslike toutrekkery makliker.”

  

Hoe kies jy jou finansiële beplanner?

Van der Merwe glo dis belangrik dat jy onafhanklike finansiële advies kry. Daar is steeds mense wat nie die verskil verstaan tussen ’n onafhanklike finansiële adviseur en ’n makelaar nie. ’n Makelaar is iemand wat, dikwels op kommissie, produkte namens ’n spesifieke finansiëledienstefirma verkoop, terwyl onafhanklike finansiële adviseurs ’n kliënt-gefokusde benadering het en die beste produkte soek vir ’n spesifieke mens se behoeftes.

Maar Van der Merwe sê selfs ’n onafhanklike finansiële beplanner kan nie al die duisende produkte in die mark ken nie, maar behoort darem die voor- en nadele van ’n goeie reeks opsies aan mense te kan voorlê. En dis belangrik dat mense besef elke produk het sterk én swak punte. “Finansiële beplanners moet seker maak die produk met die regte sterk en swak punte kom by die regte kliënt uit. Daar is geen one size fits all nie. ’n Mens beplan vir die individu, nie die portefeulje nie.”

  

Vroue en geld

Daar is kwalik ’n glasplafon waardeur vroue nog nie gebreek het nie, maar as dit by geldsake kom, staan te veel vroue steeds in die skadu van hul lewensmaats.

Al dra die meeste vroue deesdae inkomste tot die huishouding by, laat hulle finansiële beplanning aan hul man oor.

As jy nie omgee om ’n resep of raad met ’n dieet te vra nie, hoekom moet jy skaam wees om oor ’n spesialisveld te erken jy weet nie als nie? Dis jou goeie reg om deel te neem aan die gesprek oor jou huishouding se finansies.

“Ek sien dit sommer in hul lyftaal. As ons oor groot besluite praat, sal hulle teruglê en sê: ‘Nee, vra vir hom, hy gaan die besluite neem’.

“Ek wil graag dié platform (as finansiële beplanner van die jaar) gebruik om vroue te inspireer en te help om hul finansiële stewels aan te trek.”

Te veel vroue laat alle belangrike finansiële besluite aan hul man oor. Foto: iStock

Van der Merwe sê baie vroue voel hulle weet nie genoeg nie. “As jy nie omgee om ’n resep of raad met ’n dieet te vra nie, hoekom moet jy skaam wees om oor ’n spesialisveld te erken jy weet nie als nie? Dis jou goeie reg om deel te neem aan die gesprek oor jou huishouding se finansies. Dis jou reg om te vra dat iets vir jou verduidelik word as jy dit nie verstaan nie.”

En, gegewe dat vroue gemiddeld ouer word as mans, kan vroue dalk nou die besluite oorgee, maar eindelik sal hulle tog later moeilike besluite moet neem. Daarom voel Van der Merwe hulle moet hulself inlig en bemagtig oor geldsake.

    

Jong mense en geld

Hoe oortuig ’n mens jong mense om aan goed soos aftrede te dink?

Van der Merwe sê dis dalk nie sexy of cool om aan aftrede te dink nie. As sy met jong mense praat, fokus sy op doelwitstelling. Sy vra hulle: Wat wil jy hê? Waarheen is jy op pad? Dan raak dit moontlik om ’n prentjie daar te stel, amper soos ’n padkaart.

“Die oomblik as hulle die doelwitte begin verstaan en deurwerk, raak hulle meer geïnteresseerd, word geld iets lekker om oor te praat. Dis ook lekker om te sien hoe jy vorder.”

Aftrede

En as dit by aftrede kom, wat is Van der Merwe se raad?

“Die heel eerste ding is: Moenie te bang en senuagtig wees daaroor nie. Aftrede veroorsaak verskriklik baie spanning – selfs by mense wat genoeg geld bymekaar gemaak het.”

Haar tweede stukkie raad is dat jy iemand kry wat vir jou ’n goeie vennoot kan wees. “Die verhouding tussen ’n beplanner en ’n kliënt is amper soos ’n huwelik. Of soos ’n toebroodjie, waarin vertroue die konfyt is – en die konfyt moet daar wees. Jy moet gemaklik wees met die persoon wat jou deur aftrede gaan lei.”

Van der Merwe sê die dag waarop jy aftree, is net een dag in jou lewe, dis nie die einde nie. “Maar wees baie versigtig dat jy nie op daardie dag foute maak wat nie reggestel kan word nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.