Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Jy kán jou opgawe self doen

Ek beantwoord vandag nog lesersvrae oor verskeie belastingaspekte wat uit die Covid-19-pandemie spruit.

  

Doen self jou belastingopgawe

  

Charné van der Walt

Vraag

Te midde van die pandemie probeer ek oral uitgawes bespaar en ek oorweeg om vanjaar my eie belastingopgawe te doen. Het jy raad?

Antwoord

Jy kan jou eie opgawes indien as jy basiese insig het in belasting en ook in eFiling.

Van my kliënte se opgawes is baie eenvoudig en ek sal hulle in dié tye aanmoedig om die opgawes self te doen. As jy nie opgelei wil word nie, maar self deur die proses wil gaan sodat jy dit jou eie kan maak, kan jy telefonies hulp by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) kry, of gaan kyk op sars.gov.za (soek onder “Guide to income tax Individuals”) of gebruik aanlyn belastingdienste.

As jou opgawe enigsins iets buitengewoons bevat, soos geld wat jy ontvang het wat nie belastingvry is nie (soos skenkings, onderhoud of ’n erflating), of jy verklaar huurinkomste of het jou eie onderneming, sal ek baie versigtig wees om ’n opgawe in te dien sonder ’n kenner se insette.

Ek het byvoorbeeld ’n kontraktuele reëling met ’n paar kliënte om die “Shared Access”-funksie op eFiling te gebruik. Dit beteken ek en die kliënt het albei deur ons eie eFiling-profiel toegang tot die kliënt se belastingopgawe. Die kliënt kan my dan vra om deur ’n opgawe te gaan voordat dit ingedien word. Ek vra heelwat minder hiervoor as om die hele opgawe self te doen.

As jy wel jou opgawe self wil indien, doen die volgende:

  • Stel jou praktisyn op skrif in kennis van jou besluit en, indien moontlik, die rede;
  • Maak jou eie eFiling-rekening oop en vra jou besonderhede aan by die praktisyn deur die “Tax Type Request”-funksie te gebruik. Jy kan dat die SAID jou telefonies hiermee help of jy kan jou eFiling-besonderhede aan jou belastingpraktisyn gee en vra dat hy of sy dit namens jou doen;
  • Maak seker jou rekeninge by die praktisyn is op datum.

Onthou dat ’n praktisyn van onskatbare waarde is om jou aanslag na te gaan vir foute of om te help met ’n oudit. As ’n oudit nie korrek gehanteer word nie, kan die SAID die aanslag heruitreik en ekstra belasting hef. Om vertoë te rig sonder tegniese belastingkennis, kan moeilik wees.

   

Kapitaalwins op erf

   

Vraag

Ek kan weens die inperking nie namens my onderneming reis nie en gevolglik is van my kontrakte gekanselleer. My noodfonds is skraps en ek wil nie graag skuld maak vir lewenskoste nie. Ek het heelwat bates wat ek kan verkoop, waaronder ’n erf. Wat is die belastingimplikasies hiervan?

As jy nog nie eFiling doen nie, is dit dalk nou ’n goeie tyd om te begin. Foto: iStock

Antwoord

Op sekere van die bates wat jy verkoop, gaan jy kapitaalwinsbelasting (KWB) betaal en op ander nie.

Die SAID onderskei tussen belasting op jou inkomste (inkomstebelasting) en belasting op bates wat jy verkoop (KWB), maar dié belastings is uiteindelik gekoppel aan mekaar.

Ek noem dit spesifiek, want net ’n gedeelte van die waarde van die bates wat jy verkoop, gaan by jou opgawe getel word as gewone inkomste. Dit word by jou ander inkomste, soos salaris- of sake-inkomste, getel en dan eers word jou inkomstebelasting vir die jaar bereken.

KWB sal altyd minder wees as die belasting wat jy op ’n gewone inkomste, soos salaris of sakewinste, betaal. Dit is natuurlik as die SAID seker is dat die verkoop van bates nie so gereeld gebeur dat dit op sigself as ’n onderneming beskou kan word nie. Dan geld die KWB-reëls nie en moet jy volle inkomstebelasting op die wins betaal.

Op persoonlike bates, soos jou meubels, voertuie in jou persoonlike naam en huishoudelike ware of toerusting (uitgesluit kunswerke) wat jy verkoop, behoort jy nie belasting te betaal nie. Op die meeste ander bates moet jy die basisprys bepaal. Dit is die aanvangsprys plus koste bestee tot en met die verkoop daarvan. Die prys waarvoor jy dit verkoop minus die basisprys is die kapitaalwins.

Met die verkoop van kunswerke kan jy koste soos restourasie- of raamkoste aftrek. Op die erf sal dit koste wees soos die erfbelasting, tuindienste of koste om die erf skoon te hou kragtens die munisipale regulasies. Jy kan vir ’n erf ook alle regs- en ander administratiewe koste eis om die erf (en moontlik die verband) in jou naam te registreer.

As jy die kapitaalwins bereken het, word die eerste R40 000 vrygestel in die vorm van ’n korting en op die saldo word 40% na jou huidige belastingjaar se opgawe geneem as gewone inkomste.

Al is jy op die maksimum belastingkoers met ander inkomste wat jy verdien, sal KWB nooit meer kan wees as 18% van die kapitaalwins nie. Aangesien jy nie tans ’n inkomste verdien nie, behoort jou finale KWB laer te wees as 18%.

Waar KWB betrokke is, is dit belangrik dat jy kan bewys watter koste jy gehad het (soos fakture); dat jy self daarvoor betaal het (soos bankstate wat die betaling wys) en dat dit teen markwaarde verkoop is (soos waardasiesertifikate of kwotasies wat die vervangingswaarde aandui).

Belangrike inligting oor opgawe

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het die 2020-belastingseisoen se indiening van 1 Julie na 1 September aangeskuif.

Die impak hiervan is onder meer dat mense wat staatmaak op belastingterugbetalings, langer sal moet wag daarvoor. Diegene wat haastig is om finansiële emigrasie af te handel, sal ook langer moet wag.

As jy jou jaarlikse belastingopgawe nog fisiek by ’n SAID-tak indien, dink twee keer. Ek is seker as die SAID-takke wel oopmaak, gaan die getal mense wat die tak mag besoek weens die Covid-19-virus beperk wees. Die kans dat jy meer as een besoek sal moet aflê, is dus ook groter. Dit is onprakties, veral vir mense wat heeltyds werk.

Dis nou die tyd om vir eFiling te registreer en die stelsel te leer ken. Of moontlik is jy geregistreer, maar jy ken dit nie goed nie.

Vra hulp by ’n vriend wat die stelsel ken, ’n kind of kleinkind of selfs ’n belastingpraktisyn wat dit ten minste vir jou kan help opstel. Ek vra byvoorbeeld ’n uurtarief en gaan dan stap vir stap saam met die kliënt deur hul eerste opgawe.

In die komende rubriek oor hoe jy vir jou 2020-opgawe moet voorberei, sal ek die basiese funksies van eFiling gee wat jy na my mening moet ken.

  • Charné van der Walt (bekend as The Lemon Lady), is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in Stellenbosch. Lesers kan ’n e-pos boodskap stuur aan info@lemons.co.za met vrae vir opvolgende rubrieke, maar een-tot-een-advies is ongelukkig nie beskikbaar nie. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.