Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Kanker, aflegging, selfdood - só styg eise
39% van alle ongeskiktheidseise wat vroue indien nadat hulle kanker gekry het, is vir borskanker. Foto: iStock

Gauteng is die land se ekonomiese enjin, maar die vinnige leefstyl hier eis sy tol op sy inwoners.

Dit blyk uit Liberty se nuutste eisstatistieke, vir 2017.

Henk Meintjes, Liberty se hoof van ontwikkeling van risikoprodukte, het Dinsdag op die maatskappy se voorlegging van sy eisstatistieke vir 2017 in Braamfontein, Johannesburg, gesê Gautengers eis nie net meer vir motorongelukke nie, maar ook weens selfdood en gesondheidsprobleme.

Gautengers het 47,5% van die eise vir motorongelukke ingedien, gevolg deur Wes-Kapenaars en KwaZulu-Natallers met 17,5% elk van die totale aantal eise vir ongelukke.

Hoewel Liberty nie spesifieke getalle oor selfdood gee nie, sê hy wel daar is meer eise in Gauteng weens selfdood as weens motorongelukke.

Gautengers eis ook toenemend meer vir breinkanker – vier keer meer as byvoorbeeld KwaZulu-Natallers.

Selfdood

Meintjes sê die moeilike vraag wat versekeraars oor eise vir selfdood moet vra, is of dit dalk as ’n finansiële uitweg vir hul naasbestaandes gedoen is.

Henk Meintjes, hoof van ontwikkeling van risikoprodukte van Liberty. Foto: Verskaf

Versekeraars vereis ’n wagtydperk van twee jaar voordat ’n eis vir selfdood uitbetaal sal word. Dit is nie omdat versekeraars nié vir selfdood wíl uitbetaal nie, sê Meintjes.

“Ons wil nie hê dat mense wat onder finansiële druk is, dink hulle kan hul gesin help deur lewensversekering uit te neem en hulself dan om die lewe te bring nie. Die wagtydperk is dus grootliks ’n morele besluit.”

Eise

Liberty het R4,46 miljard se eise in 2017 uitbetaal. Dit is ’n toename van 3,7% teenoor 2016. “Dit is sowat R18 miljoen per dag,” sê Meintjes.

  • R3,24 miljard was vir lewensversekeringseise (afsterwe);
  • R691 miljoen vir lewenstyleise (wat gevreesde siektes en gestremdheid insluit); en
  • R525 miljoen vir inkomsteverlieseise.

Altesame R375,1 miljoen is in enkelbedrae en R150,5 miljoen in maandeliks herhaalde bedrae betaal.

Kanker

Die meeste eise wat Liberty in 2017 ontvang het (24,3%), was vir kanker.

  • 16% van die kankereise was van “jong presteerders”;
  • 21% van “jong ouers”;
  • 26% van “gevestigde voorsieners”; en
  • 25% van die “leënesgroep”.

Liberty verdeel sy kliënte in hierdie vier groepe volgens hul loopbaan en lewenstyl. Vroue het meestal vir borskanker en mans vir prostaatkanker geëis.

Motorongelukke

Hoewel die meeste eise in 2017 met gesondheid verband gehou het, is motorongelukke ook ’n groot bron van eise. Dit is veral die jong presteerders wat hiervoor eis met 6% van al hul eise wat weens motorongelukke ingedien word. Dit is egter laer as die 10% van eise wat in 2016 deur dié groep ingedien is.

“Ons statistieke wys meer as die helfte van eise vir motorongelukke is deur jong mense ingedien. Dit beteken nie ons het meer jong mense wat daarvoor verseker is nie, maar dat jong mense ongetwyfeld meer gereeld in ongelukke is,” sê hy.

Afleggings

Die druk op die ekonomie in 2017 – veral wat betref indiensneming – kon veral in die eise van jong mense gesien word.

Die groep “jong presteerders” se eise het meestal met aflegging (17%) verband gehou. Onder dié groep was 19% van jong vroue se eise vir aflegging en 15% van jong mans het om dié rede geëis.

Onder die groep “jong ouers” was 11% van hul eise hiervoor.

Kansvatters

Die persentasie kansvatters neem ook toe. In 2017 was 0,5% van die eise vir toestande wat nie in die polis gedek is nie. teenoor 0,3% in 2016.

1,6% van eise is nie goedgekeur nie omdat mense opsetlik inligting weerhou het toe hulle die polis uitgeneem het.

Meintjes sê luidens navorsing van Scor, ’n groot internasionale versekeraar, hou die kwessies wat mense die meeste wegsteek, verband met die sentrale senuweestelsel, geestesgesondheid, gewig, alkoholgebruik en kardiovaskulêre probleme.

8,6% van eise is nie uitbetaal nie omdat die polishouer nie aan al die vereistes voldoen het nie, hoewel die toestand waarvoor hulle eis, wel gedek is.

Liberty het 89,3% van eise in 2017 uitbetaal vergeleke met 91,8% in 2016.

Meer oor:  Liberty  |  Motorongelukke  |  Borskanker  |  Versekeraars  |  Afleggings  |  Versekering  |  Kanker  |  Lewensversekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.