Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Koebaai, Visa? Reserwebank soek SA kaartstelsel

Die Reserwebank wil hê dat Suid-Afrika teen 2025 sy eie kaartstelsel as betalingsmetode moet hê wat met die huidige internasionale stelsels soos Visa en Mastercard sal meeding – of dit selfs kan vervang.

Visa en Mastercard is die oorheersende kaartbetalingstelsels in Suid-Afrika. Foto: Getty Images

Die Reserwebank het Vrydag as deel van ’n konsultasiedokument ’n vraelys aan handelaars, banke, ondernemings in die finansiëletegnologiesektor en ander belanghebbendes gestuur om hul insette te kry.

Hulle moet die vraelys teen 31 Maart voltooi.

Die vraelys spruit uit die verslag van ’n bankondersoek wat reeds in 2008 aan die Mededingingskommissie gegee is. Luidens die verslag het “die meeste Suid-Afrikaners geen onmiddellike behoefte aan ’n kaart wat oorsee gebruik kan word nie”.

Dit laat die vraag ontstaan of daar “plaaslike handelsnaamkaarte as goedkoper alternatief ontwikkel moet word, veral vir verbruikers wat nie wêreldwye internettransaksies aangaan of kaarte buite die grense van Suid-Afrika of buite die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap gebruik nie”.

So ’n stelsel sal Suid-Afrika laat volg in die voetspore van lande soos Nigerië, Rusland en Indië, wat reeds sulke plaaslike kaartstelsels ontwikkel het.

Die Reserwebank het Vrydag in ’n verklaring gesê so ’n binnelandse kaartstelsel “sal gemeenskappe in Suid-Afrika wat onderbedien is, baat deur toegang tot ’n goedkoper, veiliger en geriefliker betaalmetode moontlik te maak en aan te moedig”.

“Dit kan ook mededinging en innovasie aanmoedig om te voorsien in die spesifieke behoeftes van die Suid-Afrikaanse verbruiker. Daarbenewens sal dit bydra tot die bevordering van die veiligheid, doeltreffendheid en integriteit van die betalingstelsel.”

Die konsultasiedokument wat Vrydag uitgereik is, maak egter geen melding van die veranderende betalingslandskap wat toenemend wegbeweeg van kaartbetalings nie.

Lande soos Kenia en Tanzanië het al baie sukses gehad daarmee om hul ongebankte bevolking oor ’n paar ontwikkelings te laat spring tot digitale betalingsmetodes deur middel van veral slimfone, waaroor die meeste van die bevolking reeds beskik.

’n Plaaslike kaartbetalingsmetode kan dalk al argaïes wees teen die tyd dat dit ’n werklikheid word.

In Suid-Afrika was daar in 2019 (die jongste beskikbare data) 48,8 miljoen bankkaarte in Suid-Afrika in gebruik.

Hiermee is 5,6 miljard transaksies verwerk teen ’n waarde van R2 100 miljard.

Die volume transaksies was 16,2% meer as in 2018 en die waarde van die transaksies was 15,6% hoër.

’n Plaaslike kaartstelsel sal volgens die Reserwebank die koste van transaksies noemenswaardig verminder, toegang vir die ongebankte bevolking ’n hupstoot gee en hopelik die koste vir handelaars laat daal sodat die koste van produkte ook kan daal.

Tans betaal handelaars gelde aan hoofsaaklik Mastercard en Visa om hul kaarttransaksies te verwerk.

Hierdie gelde word internasionaal vasgestel aangesien dié maatskappye albei Amerikaans is.

Volgens die nasionale betaalstelsel móét handelaars hierdie twee kaarte aanvaar om die integriteit van die betaalstelsel te beskerm.

Ander mededingers – American Express en Diners Club –is sogenaamde driepartystelsel wat regstreeks met handelaars onderhandel om hul betaalstelsel te gebruik.

Dit is hoekom nie alle handelaars hierdie stelsels aanvaar nie.

Die Reserwebank is nog nie seker of sy beplande stelsel ’n drie- of vierpartystelsel (soos Visa en Mastercard, met die Reserwebank as vierde party) sal wees nie.

Dit is onder meer waaroor hy die bedryf se mening wil hê.

Meer oor:  Visa  |  Mastercard  |  Reserwebank  |  Bankdienste  |  Bankkaarte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.