Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Koronavirus weens werk opgedoen? Dís hoe jy eis

Indien jy die koronavirus in die uitvoering van jou werkverpligtinge opgedoen het, kan jy tot 30 dae nadat jy siek geword het van die Vergoedingsfonds eis.

In ’n nuwe direktief sit die departement van indiensneming en arbeid uiteen hoe om van die Vergoedingsfonds te eis.

Hiervolgens kan werknemers vir vergoeding in aanmerking kom:

  • As die virus regstreeks by die werk opgedoen is;
  • As werknemers dit opdoen in die uitvoering van hul pligte elders as by die werkplek; of
  • As werknemers dit tydens sakereise na hoërisikogebiede opdoen.

Die omvang van die direktief verseker dat jy vir enige werkverwante opdoening van die virus gedek is, sê Kate Collier, vennoot by Webber Wentzel.

Om in aanmerking te kom vir vergoeding deur die fonds moet ’n positiewe uitslag van ’n toets vir die virus verskaf word.

Verskeie ander faktore word egter ook in ag geneem:

  • Die risiko vir blootstelling aan die koronavirus inherent aan die soort werk;
  • Die bron van die infeksie in die werkplek;
  • Bewyse van reise na hoërisikogebiede indien van toepassing;
  • ’n Betroubare diagnose van Covid-19 ingevolge die Wêreldgesondheidsorganisasie se standaarde; en
  • ’n Chronologiese verslag van die gebeure vandat jy vermoedelik aan die virus blootgestel is totdat jy Covid-19-simptome begin toon het.

Die Vergoedingsfonds bied slegs vergoeding in gevalle waar bevestig is dat die virus by die werk opgedoen is en waar die fonds aanspreeklikheid aanvaar het, sê Collier.

Die werkgewers van mense wat in kwarantyn is omdat hulle moontlik aan die virus blootgestel was, of in isolasie is nadat hulle positief getoets is maar nog geen simptome toon nie, moet by die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters-skema om vergoeding aansoek doen.

Indien ’n werknemer wel vir vergoeding van die Vergoedingsfonds in aanmerking kom, betaal die fonds vir ’n tydperk tot ’n maksimum van 30 dae vanaf die dag van die diagnose uit.

In die geval van mediese komplikasies sal die kommissaris elke geval op meriete vir verdere vergoeding oorweeg.

Waar werknemers enige vorm van permanente ongeskiktheid opgedoen het nadat hulle van Covid-19 herstel het, sal die fonds drie maande later hul posisie vir verdere vergoeding oorweeg.

Indien die werknemer aan Covid-19 sterf, sal die Vergoedingsfonds die begrafniskoste dra tot en met ’n “billike” bedrag. Pensioene sal ook aan die afgestorwene se afhanklikes betaalbaar wees.

Vir ’n eis is die volgende dokumente nodig:

  • W.CL.1-vorm van jou werkgewer. Dit is ’n verslag oor ’n siekte opgedoen by die werk.
  • W.CL.14-vorm. Dit is ’n kennisgewing dat jy by die werk siek geword het en wil eis.
  • ’n Mediese vraestel wat wys hoe jy die siekte opgedoen het.
  • ’n W.CL.22-vorm. Dit is die eerste mediese verslag waarop die kode U07.1 gebruik moet om aan te dui dat jy Covid-19 het.
  • Blootstellingsgeskiedenis en/of ander toepaslike indiensnemingsgeskiedenis wat die kommissaris kan help om jou saak te oorweeg.
  • ’n Mediese verslag oor jou simptome. Dit moet aandui waar jy die koronavirus opgedoen het en jou amptelike diagnose met die gepaardgaande laboratoriumresultate bevat.
  • W.CL.26-vorm. Dit is ’n vorderingsverslag vir elke konsultasie oor die mediese behandeling.
  • Finale W.CL.26-vorm. Die finale mediese verslag wanneer die werknemer se toestand “die maksimum mediese verbetering” bereik het.
  • ’n Beëdigde verklaring van die werknemer indien die werkgewer nie bereik kan word nie of nie ’n W.CL.1-vorm kan verskaf nie.
Meer oor:  Werk  |  Koronavirus  |  Beroepe  |  Covid-19  |  Eise  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.