Dis nie ’n goeie tyd om ’n vegetariër te wees nie, maar as jy op die banting-wa is, is daar vir jou goeie nuus.

Vliesprodukte was in Februarie 0,5% goedkoper as ’n jaar gelede, terwyl die pryse van groente en vrugte, onderskeidelik met 8,9% en 4,7% gestyg het.
Die mandjie vleisprodukte wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) meet, was in Februarie 0,5% goedkoper as ’n jaar gelede, en van maand tot maand het pryse met 1,5% gedaal.
Daarteenoor het die prys van vrugte met onderskeidelik 4,7% op ’n jaar- en 4,5% op ’n maandgrondslag gestyg. Groente is 8,9% duurder as ’n jaar gelede, maar pryse het darem tussen Januarie en Februarie effens met 0,5% afgekoel.
SSA se mandjie is swaarder gelaai met hoender, aangesien dit die proteïen is waarvan die gemiddelde Suid-Afrikaner die meeste eet.
Die daling in vleispryse word nou al ’n rukkie voorspel. Dit word onder meer toegeskryf aan die invoer van goedkoop hoenderstukke, die feit dat die uitvoer van Suid-Afrikaanse beesvleis weens die bek-en-klouseer-epidemie in Limpopo na die meeste lande opgehef is en seisoenale faktore. Die epidemie is sedertdien hokgeslaan, maar die proses om goedkeuring vir uitvoer te verkry, vorder langsaam.
Kleinhandelaars, insluitend Woolworths, Pick n Pay en Shoprite, het begin Februarie aan Netwerk24 gesê hulle merk op dat groothandelpryse op sekere vleissnitte daal. Hulle het onderneem om laer pryse wel aan verbruikers deur te gee – wat ooglopend toe wel in dié maand gebeur het.
Die daling in vleispryse is teengewerk deur betreklik skerp stygings in brood- en graanprodukte, vrugte en groente. Dit het die gemiddelde styging in die prys van kos op 2,3% op ’n jaargrondslag gehou of op 2,9% as alkoholiese drinkgoed ook ingesluit word. Tussen Januarie en Februarie het die trollie kos wat SSA meet, 0,1% goedkoper geword en met drank ingesluit was dit trollie se prys onveranderd.
Die oorhoofse inflasiekoers vir Februarie was 4,1%, marginaal hoër as Januarie se 4%.
Herman van Papendorp en Sanisha Packirisamy, Momentum-ekonome, sê vleispryse gaan op kort termyn verder daal as die daling in produsentepryse wel aan verbruikers deurgegee word.
Verskeie ekonome wys op waarskuwingstekens dat inflasie nou weer gaan begin styg.
Dit sluit in Maart se skerp styging in brandstofpryse en die verwagte selfs groter styging in April (20c per liter daarvan weens die jaarlikse styging in heffings), asook die styging in kragtariewe inflasie oor die volgende paar maande gaan opdruk.
PwC se ekonomiese span sê kospryse – insluitende vleispryse – gaan saam met krag en brandstof duurder word, en ook weens die “voortslepende droogtetoestande in sekere dele van die land”.
Volgens ’n Reuters-peiling onder ekonome gaan die Reserwebank op 28 Maart die rentekoers onveranderd hou, ondanks die risiko’s wat aan die oplaai is.
’n Verhoging in rentekoerse word eers in die tweede helfte van 2020 verwag.
Mamello Matikinca-Ngwenya, FNB se hoofekonoom, verwag nie dat inflasie gaan hand uitruk nie. Dis deels omdat die swakker rand nie ten volle in prysstygings weerspieël word nie, tesame met die swak vraag van plaaslike verbruikers, wat dit vir winkels moeilik maak om pryse te verhoog.