Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Kry só geld van hulpskema
Charné van der Walt, finansiële beplanner en belastingpraktisyn van die Stellenbosse onderneming Lemons into Lemonade Financial Planners.

Daar is nog heelwat vrae van lesers oor Covid-19-verligting en die invloed van die pandemie op hul onderneming en lewe. Ek het die vrae op so ’n manier beantwoord dat mense wat nie noodwendig presies dieselfde vrae het nie, steeds daaruit kan leer.

   

Ters-eise vir Mei

    

Vraag

My personeel moes vandeesweek salarisse kry en ek het nie geld om hulle te betaal nie. Wanneer word Mei se Ters-eise oopgestel?

Antwoord

Mei-eise is meer kompleks as April s’n. Party ondernemings kon gedeeltelik oopmaak op vlak 4 van die inperking. Sekere personeellede het begin werk en ander nie, wat eise beïnvloed.

Mei se eise sal moontlik net uitbetalings aan die personeellid self toelaat, aangesien sekere werkgewers uitbetalings vir April ontvang het, maar dit nie aan hul personeel oorbetaal het nie.

Vraag

Ons het vir ons personeel by die Ters-fonds geëis vir April. Almal behalwe vyf is betaal en een werknemer het volgens my te veel ontvang. Kan ek die oorskot hou?

Antwoord

Die maksimum wat enige personeellid kan kry, is 60% van hul laaste salaris voor aftrekkings met ’n minimum van R3 500, maar daar was foute met sommige eise vir April. As een werknemer te veel ontvang het, moet jy dit aan die departement van arbeid terugbetaal.

Wag net eers daarmee, want dit kan moontlik aandag kry in die prosedure wat die departement opstel vir Mei se eise. Hou die oorskot apart en meld die mense wie se eise nie betaal is nie per e-pos in by Covid19compliance@labour.gov.za aan.

Dien soveel dokumente van die laaste drie maande in wat jy beskikbaar het, naamlik: die personeellede se salarisstrokies; bewys op bankstate dat jy hulle betaal het; en die opgawes van betalings aan die Werkloosheids-versekeringsfonds (WVF) en aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Daar is ook ’n verklaring wat jy moet onderteken.

Vennootskappe en eise

Vraag

My vrou, haar broer en ek bedryf ’n vennootskap en wou van die Sukuma-fonds van die Rupert-familie eis. Die platform het net voorsiening gemaak vir eise van eenmenssake en geregistreerde maatskappye en trusts, maar nie vir vennootskappe nie.

’n Eenmenssaak is ook tog, soos ’n vennootskap, nie formeel geregistreer nie? Ons het ’n ooreenkoms deur ’n prokureur laat opstel toe ons die onderneming begin het, ons het ’n aparte sakerekening en ons finansiële state is altyd op datum.

Waarom kon ons nie eis nie?

Antwoord

’n Eenmenssaak het een persoon as eienaar en daarom is dit duidelik wie beheer het oor sake. Met ’n vennootskap (al is daar ’n ooreenkoms) is dit nooit werklik seker wie in beheer is nie. Mits die ooreenkoms dit stipuleer as ’n vereiste, word finansiële state nie soos in ’n maatskappy afgeteken nie (wat kredietwaardigheid aan die onderneming gee).

Vanuit ’n boedelbeplanning- en testament-oogpunt is ’n maatskappy beter as meer as een persoon betrokke is. In ’n maatskappy is dit duideliker watter salaris elke direkteur verdien en aandeelhouer-sertifikate dien as bewys van elke eienaar se persentasie aandeelhouding.

Kry advies en oorweeg dit om ’n maatskappy op te rig.

Om vir lenings aansoek te doen

    

Vraag

My onderneming het voor die pandemie finansieel goed gevaar en ek hoop om binne ’n jaar finansieel ten volle te herstel. As ek nou geld nodig het, kan ek aansoek doen om ’n lening by die bank of selfs my huisverband vergroot?

Antwoord

Met enige vorm van skuld gaan die bank fokus op jou laaste drie tot ses maande se inkomste en uitgawes, ten spyte van wat jy voor die pandemie verdien het.

Aangesien jy ’n sake-eienaar is, sal die bank bykomende historiese inligting aanvra, soos drie jaar se finansiële state, tussentydse finansiële state tot by die laaste maand of twee voor jou aansoek (waarna ons verwys as bestuurstate), asook jou laaste belastingaanslag.

Die bank kyk bloot hierna om te bepaal of die inkomste wat jy verklaar, stabiel is en of die onderneming minstens twee of drie jaar (of langer) bestaan.

Die maksimum wat enige personeellid van die WVF kan kry, is 60% van hul laaste salaris voor aftrekkings met ’n minimum van R3 500. Foto: istock
Eenmansake

Vraag

Ek het ’n eenmenssaak en moes by verskeie eise vir Covid-19-verligting bewys lewer daarvan. Dit is soms ook ’n probleem as ek vir kontrakte aansoek doen. 

Antwoord

Met ’n eenmenssaak is daar geen onderskeid tussen die onderneming en die eienaar nie. Gevolglik is registrasie nie nodig nie en ’n formele bewys nie beskikbaar nie.

My eerste voorstel aan eenmenssake om te kan bewys dat jy wel ’n onderneming het, is om spesifiek ’n sake-bankrekening oop te maak. Die feit dat eenmenssake nie formeel by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) geregistreer word nie, word nie altyd in die praktyk verstaan nie, so ek gee eerder te veel inligting as te min (sien die volgende vraag).

Of oorweeg dit om ’n maatskappy op te rig.

Vereistes van skemas wat Covid-19-verligting bied

Vraag

Ek is onkant betrap met die vereistes vir skemas wat Covid-19-verligting aanbied. Wat moet ek as sake-eienaar op datum hou om gereed te wees vir so ’n eis?

Antwoord

Of jou onderneming nou as ’n eenmenssaak, maatskappy of trust bedryf word, moet jy altyd die volgende gereed hê:

  • Die registrasiedokument (maatskappye) of akte (trusts).
  • Bewys van identiteit van die eienaar(s), direkteure of trustees.
  • Bewys van adres van die onderneming, die eienaar(s), direkteure of trustees.
  • Alle beskikbare belasting- en verwante verwysingsnommers, wat insluit die inkomstebelastingnommers van die onderneming en die eienaar(s), direkteure of trustees; die lopende betaalstelsel-nommer as jy as werkgewer by die SAID geregistreer is (“PAYE” in Engels); die onderneming se WVF-registrasienommer; die belasting op toegevoegde waarde- (BTW-) nommer; registrasie-inligting van die onderneming by die Vergoedingskommissaris en, laastens, as jy sake met die staat doen, jou inligting in die databasis vir sentrale verskaffers.
  • Finansiële en bestuurstate, wat impliseer dat jy jou onderneming se boekhouding maandeliks op datum hou.
  • Belastingklaring van die SAID wat wys jou onderneming se opgawes en belastingbetalings is op datum. Dit is ’n jaar geldig en ek sal voorstel dat jy dit in ’n dagboek aanteken en jaarliks vooruit een aanvra en byderhand het.
  • Bewys van lidmaatskap as jy lid is van ’n professionele organisasie.
  • Kontrakte soos huurkontrakte as jy ’n perseel of enige toerusting huur of kontrakte wat jy met klante het wat vaste inkomste vir die onderneming inbring.
  • ’n Profiel van die onderneming (op ’n briefhoof), sakeplan en/of webadres.
  • Bankstate.
  • Jou sertifikaat vir breë swart ekonomiese bemagtiging, of ’n beëdigde verklaring in die voorgeskrewe formaat as jy nie ’n sertifikaat het nie.  
  • Waar nodig, ’n brief van ’n rekenmeester of belastingpraktisyn om jou inkomste, eenmenssaak-status of enige ander belangrike inligting te bevestig.

My volgende rubriek sal fokus op jou voorbereiding vir die 2020-belastingopgawe wat van 1 Julie af ingedien kan word.

  • Daar is lesers wat op die koste van ’n belastingpraktisyn wil bespaar en oorweeg om hul opgawes self in te dien, vir wie ek raad het. Ander lesers wat bates verkoop om aan die lewe te bly, wil weet wat die belastingimplikasies daarvan is.
  • Charné van der Walt (bekend as The Lemon Lady), is ’n finansiële raadgewer en belastingpraktisyn in Stellenbosch. Lesers kan enige tyd ’n e-pos stuur aan info@lemons. co.za met vrae wat in opvolgende rubrieke beantwoord sal word. Die artikel is in leketaal geskryf en bevat nie spesifieke of persoonlike raad nie. Sy skryf gereeld vir Sake.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.