Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Brandarm maar hy ry ’n Ferrari

Van die 26 superrykes wie se blink Ferrari’s tydens ’n geleentheid by ’n luukse hotel in dié se parkeerterrein gepryk het, het nie een luidens hul belastingopgawe jaarliks meer as R400 000 verdien nie.

’n Ferrari F8 kos sowat R5,5 miljoen.

Die motors kos meer as R5 miljoen stuk.

“Ek vind dit verstommend,” het regter Dennis Davis, voorsitter van die Davis-belastingkomitee wat die land se belastingstelsel hersien, dié week in ’n bespreking oor onder meer ’n welvaartbelasting gesê. Die bespreking is aangebied deur Nedbank Private Wealth.

Volgens Davis het hy en ’n amptenaar van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die motors onlangs by ’n hotel gesien. Die amptenaar het die voertuie se registrasienommer neergeskryf en met die eienaars se belastingopgawe vergelyk.

Davis is uitgesproke oor die belastinggaping (die verskil tussen die totale bedrag belasting betaalbaar en dit wat betyds aan Jan Taks betaal word), omdat baie mense nie hul volle inkomste verklaar nie en dus te min belasting betaal.

Hy het vroeër vanjaar in Business Day geskryf die SAID kan maklik ’n bykomende R20 miljard insamel as almal betaal wat hulle moet. Dít sal genoeg wees om vir die regering se Covid-19-entstofprogram te betaal.

Davis sê dis “lagwekkend om voor te stel dat ons vanjaar, volgende jaar of die jaar daarna” ’n welvaartbelasting sal instel gegewe die omstandighede: Die SAID fokus daarop om in te kry wat hom toekom uit bestaande belasting “en boonop het ons nie die inligting tot ons beskikking om ’n welvaartbelasting in te stel nie”.

Niks daarvan is nog bespreek nie, want ons is nie naby ’n welvaartbelasting nie. Ons moet eers weet wié wátter bates besit.
Regter Dennis Davis

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy begrotingsrede gesê die SAID sal na verwagting in 2020-’21 sowat R213 miljard minder insamel as wat in die 2020-begroting voorsien is.

Davis verduidelik ’n welvaartbelasting word nie outomaties gehef omdat daar ongelykheid in ’n land is nie. Welvaart moet eers gedefinieer word volgens mense se bates, daar moet genoeg inligting wees oor wie die mense met dié bates is en dan sal daar waarskynlik sekere kwytskeldings wees.

“Niks daarvan is nog bespreek nie, want ons is nie naby ’n welvaartbelasting nie. Ons moet eers weet wié wátter bates besit.”

Regter Dennis Davis, voorsitter van die Davis-belastingkomitee. Foto: Yunus Mohamed

Hy beskou dit as ’n populistiese debat en sê mense kan die histerie laat staan. “Ek wil met vertroue voorspel dat Suid-Afrika nie in die afsienbare toekoms ’n welvaartbelasting sal instel nie, en indien wel, sal dit beslis nie die groot middelklas raak nie.”

Dit sal geen punt hê om die middelklas met ’n welvaartbelasting te belas nie, want dit sal min inbring. Die administrasiekoste sal hoër wees as die inkomste daaruit.

Die Davis-komitee se oorweging van ’n welvaartbelasting beteken bloot daar sal gekyk word of die land die infrastruktuur vir so iets sal kan kry.

“Geen van daardie werk is nog gedoen nie en totdat dit gedoen is, neem ek ’n welvaartbelasting beslis nie ernstig op nie.”

Net 5 000 superrykes?

Die beteken nie die SAID fokus nié op superrykes nie. Mboweni het in sy begrotingsrede gesê die SAID het die eerste van ’n groep welvarende belastingbetalers met “ingewikkelde finan­siële reëlings” geïdentifiseer met wie hy sal kommunikeer.

Davis sê diegene wat hul breë belastingplig nakom, het niks te vrees nie.

“Almal eis waarskynlik iewers vir ’n bykomende ete wat hulle nie moet nie, maar ons gaan nie aan jou deur kom klop as jy R3 skuld nie.

“Ons is bekommerd oor groot lekplekke in die stelsel waardeur die SAID meer as R100 miljard se inkomste per jaar verbeur. Dít is byna 8% van die land se belastinginkomste.”

Een daarvan is belastingbetalers wat nie hul volle inkomste verklaar nie. Belastingtabelle toon Suid-Afrika het sowat 5 000 individue wat R5 miljoen of meer per jaar verdien.

Dit maak glad nie vir my sin nie, want kyk na die huise wanneer jy deur Kampsbaai, Sandton, Bryanston, Bishopscourt of Plettenbergbaai ry.
Regter Dennis Davis

“Dit maak glad nie vir my sin nie, want kyk na die huise wanneer jy deur Kampsbaai, Sandton, Bryanston, Bishopscourt of Plettenbergbaai ry,” sê Davis.

Ander lekplekke is oordragprysing, BTW-bedrog en aksyns- en invoerbelasting wat ontduik word.

Volgens Davis sal beter belastinginsameling doeltreffender wees om die belastinggaping te verklein as hoër belasting.

Clifton se eerste strand... net superrykes kan dié uitsig bekostig

Die R3 miljard wat die tesourie oor die middeltermyn aan die SAID toegewys het, sal ongetwyfeld help om IT-stelsels te moderniseer en honderde kundiges soos data-ontleders, forensiese ondersoekers en rekeningkundiges terug te lok wat tydens die staatskapingsprojek verlore gegaan en die SAID-eenhede vir superrykes en groot korporasies verlam het, sê Davis.

Edward Kieswetter, SAID-kommissaris, het onlangs gesê die diens het sowat 2 000 kundiges verloor wat die tegniese kennis gehad het om belastingvermyding en -ontduiking op te spoor en dus doeltreffender insameling te verseker.

Die SAID en die Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) finaliseer nog ’n memorandum om afgetrede rekeningkundiges na die belastinggaarder te lok.

Davis sê as hy sy sin kry, is daar ’n belastingamptenaar by die Zondo-kommissie en elke groot strafsaak oor korrupsie sodat lewenstyl- en ander oudits gedoen kan word oor elkeen teen wie daar geloofwaardige korrupsiebewerings is. Hy glo die SAID moet wetlik bemagtig word om self vervolging weens belastingoortredings in te stel omdat die nasionale vervolgingsgesag soveel hooi op sy vurk het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.