Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Lang tronkstraf vir BTW-bedrieërs

Twee mans wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uit R32 miljoen se BTW geswendel het, is gesamentlik tronkstraf van 26 jaar opgelê.

BTW-bedrog het geboemerang vir iemand wat hom as belastingpraktisyn voorgedoen het.

Cornelius Johannes Kriek (42) van die Oos-Rand het skuld op 29 aanklagte van bedrog, 21 aanklagte van geldwassery en een aanklag van die omkoop van ’n staatsamptenaar beken.

Hy is verlede Dinsdag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Johannesburg 20 jaar tronkstraf opgelê, sê die SAID in ’n verklaring.

Kriek het hom as ’n boekhouer voorgedoen wat namens ondernemings BTW-eise indien. ’n Regmatige belastingpraktisyn het agterdogtig geword toe ’n voormalige kliënt van haar ’n groot bedrag teruggekry het kort nadat sy Kriek as haar belastingadviseur aangestel het.

Kriek is weens geldwassery tot 84 jaar tronkstraf gevonnis, wat ten volle,opgeskort is, en tien jaar weens omkopery. Vyf van dié tien jaar gaan saam die vonnis vir die ander oortredings uitgedien word.

’n Voormalige personeellid van die SAID, wat langer as 30 jaar as BTW-ouditeur gewerk het, het Kriek na bewering gehelp om die bedrog te pleeg.

Die sake teen die twee is onlangs geskei toe Kriek skuld beken het.

Die saak teen die voormalige SAID-amptenaar gaan op 23 Oktober voort.

Volgens die SAID se ondersoekers het die BTW-ouditeur na bewering die bedrog moontlik gemaak deur wesenlike terugbetalings vir BTW te gee nadat sy kwansuis die opgawes geoudit het. Die bedrieglike terugbetalings is onder die BTW-eisers, Kriek en na bewering die SAID-personeellid verdeel.

Sowat 18 maatskappye is betrokke.

Die fiskus het ’n verlies van sowat R32,9 miljoen weens die bedrog gely.

In ’n ander saak is Thomas Bloemeris (Tommy) Fortuin (66) van Ridgeworth in Bellville verlede Donderdag ses jaar se tronkstraf opgelê weens 236 aanklagte van bedrog en vervalsing wat met die belastingsake van beslote korporasies verband hou wat aan lede van sy familie behoort. Hy het skuld beken op al die aanklagte in die pleitooreenkoms wat met die staat onderhandel is.

Hy is ook tronkstraf opgelê weens twee inkomstebelastingopgawes wat hy nie ingedien het nie. Dié tronkstraf en drie van die ses jaar wat hy gekry het, is voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort.

Sy seun Tom-Ross Fortuin (35) en die boekhouer wat hulle bygestaan het om die misdaad te pleeg, Ivor Carlo Carolissen (38), het ook pleitooreenkomste onderteken.

Albei is tot vier jaar tronkstraf gevonnis wat opgeskort is vir vyf jaar, en 18 maande korrektiewe diens, wat huisarres en gemeenskapsdiens insluit.

Fortuin is op 79 aanklagte van bedrog en die verspreiding van vervalste dokumente skuldig bevind en Carolissen op 167 aanklagte van bedrog en die verspreiding van vervalste dokumente.

Fortuin jr. is beveel om die R615 592 wat so van die SAID gesteel is, terug te betaal.

Hy is ook 12 maande tronkstraf opgelê, opgeskort vir vyf jaar, omdat hy nie drie inkomstebelastingopgawes ingedien het nie.

Die vonnis kom nadat in ’n ondersoek deur die SAID se speurdiens gevind is dat Fortuin-hulle bedrieglike BTW-eise vir terugbetalings ingedien het wat op vals transaksies tussen die familie se vier beslote korporasies gegrond was.

Neo Tsholanku, groephoof van die speurdienste, verwelkom die vonnisse. Hy sê ook dit wys die howe neem toenemend standpunt in teen individue wat nie inkomstebelastingopgawes indien nie.

Volgens Tsholanku het die nasionale vervolgingsgesag 29 sake sedert April aanhangig gemaak en in 97% van die gevalle is skuldigbevindings behaal.

Meer as 400 ander sake wat met belastingmisdaad verband hou, is tans in die hof.

Meer oor:  Bedrog  |  Suid-Afrikaanse Inkomstediens  |  Btw  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.