Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Lewenseis geweier: ‘Covid-19 is nie ’n ongeluk’

Moenie jou motorsleutels vir iemand gee wat nie ’n rybewys het nie. Dit kanselleer doodeenvoudig jou dekking as enigiets met jou motor gebeur.

Regter Ron McLaren, ombud vir versekering.

Moenie dink omdat die bank se assessor jou huis kom waardeer het voordat ’n huisverband aan jou toegestaan is, beteken dit die gebou se defekte is outomaties verseker nie. Dit bly jou verantwoordelikheid om seker te maak foute word herstel en die gebou word in stand gehou, anders kan eise geweier word.

Moenie jok oor wie die gereelde bestuurder van jou versekerde motors is net om ’n goedkoper premie te beding nie.

Moenie roekeloos bestuur nie. ’n Eis sal nie noodwendig geweier word as jy vinniger as die spoedgrens ry nie, maar al hoe meer versekeraars probeer bewys dat mense wat gejaag het, roekeloos was.

Moenie jok oor bestaande gesondheidsprobleme as jy langtermynversekering uitneem nie.

En, les bes, lees jou polisdokument en vra vrae as jy nie seker is waarvoor jy gedek is nie.

Dís onder die dinge waarop die ombud vir kort- en vir langtermynversekering klem lê in hul gesamentlike jaarverslag. Dis vanjaar vir die eerste keer as een dokument aangebied nadat die twee kantore verlede jaar saamgesmelt het.

Regter Ron McLaren is die oorhoofse ombud vir versekering, Jennifer Preiss is die uittredende ombud vir langtermynversekering en Edite Teixeira-Mckinon is die uitvoerende hoof van die kantoor van die ombud vir korttermynversekering.

Die jaarverslag dui op ’n skerp styging in klagtes oor versekeraars – 7% vir kort- en byna 11% vir langtermynversekeraars.

k

Klagtes weens Covid-19-probleme

’n Groot aantal van die klagtes wat die twee kantore moes behartig, het juis met die pandemie en gepaardgaande inperkings verband gehou.

Daar word ook verwag dat Covid-19-verwante klagtes nog vanjaar ingedien sal word.

Wat korttermynversekering betref, was daar 786 klagtes na die ombud wat met Covid-19 verband hou, 562 daarvan oor die omstrede versekering vir sake-onderbreking weens ’n pandemie wat verlede jaar in die nuus was. Howe het uiteindelik beslis versekeraars moet ondernemings wel vergoed omdat hulle gedwing is om hul deure tydens die inperking te sluit.

Die ander 224 was oor reisversekering.

k

Covid-19-verwante klagtes het 7% van al 11 095 nuwe klagtes oor korttermynversekering in 2020 verteenwoordig.

Wat langermynversekering betref, was daar 456 klagtes wat met Covid-19 verband gehou het. Dit het ingesluit 164 sake oor kredietlewensversekering, 134 oor lewensversekering, 111 oor begrafnispolisse, 31 oor gesondheidspolisse, 12 oor ongeskiktheidsdekking en vier oor ander polisse.

Baie versekeraars het geweier om polisse te huldig waar mense vir verlies aan inkomste gedek was (soos met kredietlewensversekering) omdat mense wel ’n fraksie van hul salaris by die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters gekry het. Die ombud het beslis die eise moet wel eerbiedig word omdat hulle nie kon werk nie en dís waarvoor hulle verseker was.

In een interessante geval het ’n weduwee aangedring dat ’n lewensversekeringspolis eerbiedig word nadat haar man aan Covid-19 dood is. Hy was nie gedek vir sterfte weens natuurlike oorsake nie.

Die vrou het gaan kyk na die definisie van die dekking. Haar man se lewe is gedek as hy sou sterf “weens ’n onsekere toekomstige gebeurtenis wat alleenlik en regstreeks veroorsaak is op ’n gewelddadige, toevallige, fisieke en sigbare wyse en onafhanklik van enige ander oorsaak” (vrylik vertaal).

k

Sy het toe aangevoer die virus was onverwags (dus onseker), hy het dit per ongeluk opgedoen, en sy dood was gewelddadig omdat hy nie kon asemhaal nie.

Preiss en haar kantoor kon geen regsgronde vind op grond waarvan sterfte aan ’n siekte as ’n “ongeluk” gedefinieer kon word nie en sy het die versekeraar se beslissing bekragtig.

In haar opmerkings skryf Preiss daar is ’n styging in klagtes deur mense wat nie besef het daar is uitsluitings op hul polis nie.

“Dié polisse word gewoonlik verkoop deur middel van direkte bemarking, sonder advies. Verbruikers wat lewenspolisse koop, aanvaar hulle sal gedek wees, ongeag of die versekerde gebeurtenis die gevolg is van toevallige of natuurlike oorsake.

“As die verkoopsproses nie só uitgevoer word dat dit in maklik verstaanbare begrippe verduidelik word dat die polis slegs ongeluksdekking bied nie, en wat dit beteken, kan dit lei tot teleurstelling wanneer mense (of hul naasbestaandes) eis.”

Sy waarsku ook dat polisse tot ongeluksdekking afgeskaal kan word as mense nie hul behandeling vir bestaande siektes volhou soos toe hulle die polis uitgeneem het nie.

k

Moeilik om beslissings om te keer

Die ombud vir langtermynversekering kon daarin slaag om in 31,7% van alle klagtes ’n beslissing te maak wat ’n uitbetaling aan verbruikers verseker het. Altesame is R177,9 miljoen só aan verbruikers uitbetaal, asook R817 970 se skadevergoeding.

Skadevergoeding word soms toegestaan as die versekeraar se diens werklik swak was of as die verbruiker finansieel benadeel is bo en behalwe die geld wat nie uitbetaal is nie (bv. waar iemand skuld moes aangaan om ’n familielid te begrawe en rente daarop moes betaal omdat ’n begrafnispolis nie uitbetaal is nie).

Die ombud vir korttermynversekering kon in ’n selfs kleiner persentasie klagtes vir verbruikers geld terug beding. Dit was sowat 16% in die geval van motorversekering, 11% vir geboueversekering, 16,5% vir huisinhoudsversekering en 29,2% vir ander versekering (wat reisversekering insluit). Vir sakeondernemings kon die ombud 16,5% van klagtes in hul guns beslis.

R119,6 miljoen is in die jaar aan verbruikers terugbetaal vir klagtes oor korttermynversekering.

Baie klagtes na die ombuds word terugverwys na versekeraars. Mense moet éérs hul versekeraar se interne klagteproses uitput voordat die ombud ’n saak sal opneem.

Dis ook ’n proses waarvoor mense geduld sal moet hê. Die ombud vir langtermynversekering behartig 38,4% van klagtes binne ’n maand en 69,6% binne drie maande.

Die ombud vir kortermynversekering behartig 69% van klagtes binne ses maande. Die gemiddelde tyd voordat ’n klag opgelos is, is 136 dae, dus meer as vier maande.

k
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.