Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Lewenspolis: Met dié firmas is kliënte tevrede

FNB Life is vir die tweede agtereenvolgende jaar die lewensversekeraar met wie kliënte die meeste tevrede is.

Openbare persepsies het ’n groot invloed op die beeld van versekeraars. Foto: iStock

Dit is volgens die jaarlikse peiling oor kliëntetevredenheid van Consulta.

FNB Life het 83,7 indekspunte in die oorhoofse indeks vir kliënttevredenheid, met Metropolitan op sy hakke met 81,1.

Daarna volg Old Mutual, Sanlam, Absa Life, 1Life Insurance en Discovery Life wat min of meer gemiddeld presteer het in die indeks, maar Liberty en Momentum, wat deel is van die Momentum Metropolitan Groep, wat ondergemiddeld presteer het.

Vergeleke met die vorige jaar het al die lewensversekeraars in die peiling effens swakker gevaar, behalwe Discovery en Sanlam wat verbeter het. Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat Momentum en Liberty minder kliënte het wat tevrede is met hul diens.

Prof. Adré Schreuder, stigter en voorsitter van die indeks, sê openbare persepsies het ’n groot invloed op die beeld van versekeraars, veral die afgelope jaar met die nuusberigte oor Nathan Ganas wat in ’n kapingsvoorval doodgeskiet is, maar toe wou Momentum aanvanklik nie ’n eis van sy weduwee uitbetaal nie omdat hy nie openbaar gemaak het dat hy ’n diabeet was nie. Momentum het wel later geswig te midde van ’n hewige openbare storm en die eis uitbetaal.

lewensversekeraars
Consulta doen jaarliks 'n peiling oor mense se tevredenheid met die diens van lewensversekeraars.

Daar was ook die kuberaanval op Liberty in 2018 wat nuusopskrifte oorheers het, en verskeie eise wat afgewys is waaroor daar in die jaarverslag van die Ombud vir Lewensversekering verslag gedoen is. Dit het alles ’n groot invloed op die openbare beeld van lewensversekeraars, ongeag die feit dat net 0,7% van totale eise afgewys is of na die ombud verwys is.

Die Vereniging vir Spaar en Beleggings se statistieke wys lewensversekeraars het verlede jaar 99,3% van alle eise uitbetaal, oftewel sowat R15,1 miljard.

Schreuder glo die lewensversekeringsbedryf sal die algemene wanpersepsie moet pak dat versekeraars altyd na redes sal soek om nie eise uit te betaal nie. Hy waarsku versekeraars sal ’n nuwe model van onderskrywing en eiseberamings moet ontwikkel wat nie net by blote voldoening en wetlike protokols stilstaan wanneer dit by kliënte se klagtes en -ervarings kom nie.

Die vraag wat getakel moet word is of die verwerping van eise of die hantering van klagtes op ’n wyse geskied wat redelik vir die kliënt is, pleks van op ’n rigiede, wetlike grondslag, sê Schreuder.

“In ’n bedryf wat op syfers en statistieke gegrond word, is dit maklik om te vergeet dat dit ’n mens is wat betrokke is en wie se lewe geraak word deur die besluite wat geneem word. Konteks maak saak vir Suid-Afrikaanse verbruikers en om net die letter van die wet uit te voer is bloot nie goed genoeg nie.”

Schreuder het die interessante aspek uitgewys dat FNB Life – die beste presteerder in die indeks – ’n bankgegronde versekeraar is en nie ’n tradisionele lewensversekeraar nie. Banke se vermoë om lewensversekering met digitale en vertroude bankstelsels te integreer as deel van ’n omvattende finansiëledienste-aanbod is mededingend en ’n bedreiging vir tradisionele versekeraars, sê Schreuder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.