Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Lewenspolis: Te veel swyg steeds soos die graf

Baie mense verswyg steeds die ware toedrag van hul gesondheid of die aard van hul werk wanneer hulle lewensversekering uitneem. Dis ’n besluit wat eers jare later, ná hul dood, boemerang wanneer lewensversekering nie aan hul geliefdes uitbetaal word nie.

   

Die persentasie eise vir lewensdekking wat weens bedrog afgekeur is, het verlede jaar meer as verdubbel. Foto: Unsplash

Nie-openbaarmaking – die bedryf se term vir dié verskynsel – het in 2018 daartoe gelei dat 123 eise vir die uitkeer van lewenspolisse verwerp is. Dis ’n hele 55,4% van die 222 eise wat verwerp is, volgens syfers wat die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa) pas uitgereik het.

Dít nadat daar in 2017 ’n effense verbetering was en die persentasie polisse wat om dié rede afgekeur is, tot 50,4% van die verwerpte eise gedaal het. Dit was in 2016 55,3%.

Nie-openbaarmaking het die afgelope twee jaar die nuus gehaal nadat twee weduwees byna in armoede gedompel is omdat lewensversekering om dié rede nie wou uitbetaal nie.

In 2018 het Momentum aanvanklik geweier om die polis uit te betaal nadat Nathan Ganas in ’n motorkaping in Durban doodgeskiet is en in 2017 het Old Mutual eers geweier om Brent Kruger se polis uit te betaal nadat hy in Atlantis doodgeskiet is. Albei dié mans het nie verklaar dat hulle hoë bloedsuikervlakke of diabetes gehad het toe hulle die polisse uitgeneem het nie.

Hoewel hulle nie aan suikerverwante oorsake gesterf het nie, word premies bepaal op grond van iemand se leefstyl, mediese geskiedenis en beroep. Die enigste rede waarom iemand sy gesondheid sou verswyg, is om ’n laer premie te betaal of uitsluitings op die polis te vermy.

Die enigste rede waarom iemand sy gesondheid sou verswyg, is om ’n laer premie te betaal of uitsluitings op die polis te vermy.

Albei versekeraars het ná sterk openbare teenkanting wel besluit om die polisse uit te betaal, en Momentum het selfs so ver gegaan om te verseker hy sal in die vervolg in die geval van dood weens misdaad tot R3 miljoen van die poliswaarde uitbetaal indien daar nie-openbaarmaking oor gesondheidstoestande was.

Wanneer mense wel sterf aan risikofaktore wat nie verklaar is nie, haal dit nie noodwendig die nuus nie, maar die finansiële probleme van naasbestaandes wat gedink het hulle sou versorg word, is ewe werklik.

Rosemary Lightbody, senior beleidsadviseur van Asisa, sê as jy nie seker is of die lewensversekeraar sekere inligting as belangrik sal ag nie, maak dit liewers bekend.

“As jy nie die presiese tegniese besonderhede van ’n mediese voorval soos byvoorbeeld die diagnose kan onthou nie, meld dan die jaar, die naam van die betrokke dokter en min of meer wat verkeerd was. Die versekeraar kan dan self meer inligting van die betrokke gesondheidsorgverskaffer verkry.”

Die sake wat die nuus haal, beeld lewensversekeraars as boelies uit, maar Lightbody sê die bedryf probeer werklik nie om skuiwergate te soek vir die uitbetaling van geldige polisse nie.

Inteendeel, eise wat geweier word, was in 2018 vir die derde jaar in ’n ry slegs 0,7% van die eise wat ingedien is. (Sien ook grafika hieronder.)

Altesame 222 eise is in 2018 afgekeur. Dis effens minder as die 238 eise in 2017, maar die totale aantal eise was minder.

Die waarde van die 33 545 eise wat uitbetaal is, was R15,1 miljard. Dis byna 5% of R700 miljoen meer as die waarde van die eise wat in 2017 uitbetaal is.

Dié syfers is vir ten volle onderskryfde lewenspolisse, wat uitgereik word wanneer iemand deur ’n volledige onderskrywingsproses gegaan het, insluitende vraelyste oor hul leefstyl en mediese geskiedenis en familiegeskiedenis. Dit sluit dus polisse uit wat as deel van werknemervoordele namens werknemers uitgeneem word.

lewenspolis

Selfdood

Die aantal eise wat as gevolg van selfdood verwerp is, het van 65 gevalle in 2017 tot 45 in 2018 gedaal. Dis egter steeds persentasiegewys die tweede grootste rede waarom eise afgekeur word, teen 20,3%. (Sien ook grafika oor die redes waarom lewenspolisse nie uitbetaal is nie hieronder.)

Lewensversekeraars het gewoonlik ’n uitsluitingstydperk van twee jaar vir selfdood om te keer dat mense lewensdekking uitneem met die voorneme om hulself kort daarna om die lewe te bring, sê Lightbody.

Bedrog

Die persentasie eise vir lewensdekking wat weens bedrog afgekeur is, het verlede jaar meer as verdubbel. Dis die derde grootste rede waarom eise verwerp word.

Volgens statistieke oor lewensversekering is 36 polisse oftewel 16,2% van die 222 eise wat geweier is, in 2018 weens bedrog afgekeur. Dis teenoor 7,6% in 2017 en 7,3% in 2016.

Bedrog behels misdade soos die indiening van vervalste dokumente of die betrokkenheid van sindikate om die lewensversekeraar sover te kry om ’n eis uit te betaal aan iemand wat nie op die voordeel geregtig is nie.

Lightbody sê dis nie ongewoon om ’n toename in bedrog te sien wanneer die ekonomie swak is nie “omdat mense meer desperaat raak om kontant in die hande te kry”.

Onderskrywingsuitsluitings

Altesame 18 eise, oftewel 8,1% van die eise wat afgekeur is, was omdat mense dood is aan iets wat spesifiek van die dekking uitgesluit is.

Die meeste lewenspolisse sluit dekking uit as jy sterf terwyl jy ’n gevaarlike sport of stokperdjie beoefen, en ’n polis kan ook ’n sekere siektetoestand uitsluit. Daar is ook polisse wat nie uitbetaal as jy onder gevaarlike omstandighede in spesifieke wêreldstreke – soos oorloggeteisterde gebiede – werk nie.

lewenspolis

Meer oor:  Selfdood  |  Bedrog  |  Versekering  |  Lewensversekering  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.