Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Meer eise vir trauma as dood in 2018

Die versekeraar Liberty het verlede jaar ’n veel groter deel van sy totale eise uitbetaal aan mense wat lewensveranderende trauma oorleef het. Dit het 69,22% van eise uitgemaak, met doodsdekking wat 30,78% van uitbetalings uitgemaak het.

Dít wys ’n belangrike verskuiwing in die mark vir langtermynversekering, het Ursula Torr, aktuariële spesialis van Liberty, Maandag in Johannesburg gesê met die bekendmaking van die versekeraar se eisstatistieke vir 2018.

Liberty het in 2018 eise ter waarde van R4,69 miljard aan 28 453 individue en hul begunstigdes uitbetaal. Dit is R18,8 miljoen se eise elke werkdag van die jaar, het Torr gesê.

Die topvyf-eise in 2018 was vir:

  • Kanker (27,9% van alle eise);
  • Kardiovaskulêre siektes (24,3%);
  • Respiratoriese toestande (6%);
  • Beroertes (5,7%); en
  • Nierverwante eise (4,3%).

Met ouergenerasiepolisse is 68,79% aan sterfte-eise uitbetaal en 31,21% aan oorlewendes.

Prostaatkanker is die belangrikste rede vir kanker-eise onder mans en maak 32,3% uit, terwyl dit by vroue borskanker is met net minder as 50%. Kolon- en rektum-kanker is die tweede grootste oorsaak van kanker-eise onder mans en vroue. Foto: iStock

David Jewell, groepbestuurder vir kleinhandeloplossings by Liberty, sê meer kliënte het in die verlede lewensdekking gekoop, terwyl oorlewingsvoordele soos ongeskiktheid, inkomstebeskerming en dekking vir ernstige siektes afgeskeep is.

Liberty se statistieke vir 2014 tot 2018 wys net 10% van kliënte het vir meer as een basiese nood (lewensdekking, inkomstebeskerming en dekking vir ernstige siektes) geëis, wat kan beteken hulle het nie die nodige veeldoelige voordeelprodukte nie.

Volgens Torr is daar ’n behoefte en geleentheid om weer te kyk na die dekking en die samestelling daarvan wat mense in plek het.

Van die mense wat wel vir leefstyl en verlies aan inkomste geëis het, het 12% uiteindelik lewensdekking geëis. Dit beteken 88% van die beskerming wat hulle nodig gehad het, was gedurende hul lewe en nie aan die einde daarvan nie, sê Torr.

Dr. Thabani Nkwanyana, Liberty se mediese hoof, sê kanker bly die grootste rede vir eise wat met ernstige siekte, dood en ongeskiktheid verband hou.

Kanker

Die realiteit van ’n kanker-diagnose is dat die behandeling en herstel ná diagnose jare kan neem. Daar is al hoe meer gevalle van pasiënte wat nie sterf weens kanker nie, en die kanse is daar dat ’n kankerlyer ’n ander siekte sal kry wat verdere mediese sorg vereis en ’n groot finansiële impak op ’n huishouding kan hê.

  • Prostaatkanker is die belangrikste rede vir kanker-eise onder mans en maak 32,3% uit, terwyl dit by vroue borskanker is met net minder as 50%. Kolon- en rektum-kanker is die tweede grootste oorsaak van kanker-eise onder mans en vroue.

Sterftes

  • Wat sterfte-eise in 2018 betref, was 30,5% weens harttoestande en 24,6% weens kanker. Die gemiddelde ouderdom van sterfte-eise was 64 jaar.
  • Die jongste manlike eiser was 20 en die oudste 96. Die jongste vroulike eiser was 23 en die oudste 103 jaar.
  • Verlede jaar het selfmoordeise tot 152 gestyg (2017: 78) en 2,51% van alle eise uitgemaak. Mense in die ouderdomsgroep 35 tot 44 jaar het die hoogste selfmoordkoers gehad (36,7%), gevolg deur mense van 55 jaar en ouer (35%) en dan die ouderdomsgroep 45 tot 54 jaar (25%).

Ongeskiktheid

  • Wat ongeskiktheidsuitbetalings betref, was kanker (12,3%) en toestande wat verband hou met die spier-skelet-stelsel (11,3%) die hoofoorsake van enkelbedrae wat vir permanente ongeskiktheid uitbetaal is.

Afleggings

  • Vir tydelike of gedeeltelike verlies aan inkomste is maandelikse bedrae meestal weens afleggings (38,3%) uitbetaal.
liberty
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.