Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Meer gebruik nou spaargeld, leen by familie, vriende
Mense delf in hul spaargeld in of leen geld by vriende en familie om tydens die inperking te oorleef, wys ’n peiling van Statistieke Suid-Afrika.

Mense delf al hoe meer in hul spaargeld en beleggings in, of leen geld by vriende en familie om aan die lewe te bly tydens die Covid-19-inperking.

Dít blyk uit Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste peiling oor hoe sakelui die nasionale inperking hanteer.

SSA se peiling wys 8,1% van respondente het hul werk verloor of moes hul ondernemings sluit, en 1,4% is werkloos. Byna nege uit tien respondente het darem steeds hul werk behou tydens die inperking.

Die peiling wys minder mense kry ’n inkomste van salarisse, maar meer kry nou inkomste uit spaargeld en beleggings. Dit het toegeneem van 4,8% voor die inperking tot 6% tydens die inperking. Meer mense leen geld by vriende, familie of ondernemings – dit het toegeneem van 1,7% tot 3,3%.

Respondente meld ook dat hulle hul geldsake laat klop deur bloot minder uit te gee.

Die mense wat geen inkomste ontvang nie, het skerp gestyg van 5,2% voor die inperking tot 15,4% teen die sesde week van die inperking.

’n Kwart van die deelnemers aan die peiling verdien ’n kleiner inkomste as voor die inperking, maar 56,2% sê hul inkomste het dieselfde gebly.

Sowat ’n derde verwag die inperking sal nie hul vermoë raak om hul finansiële verpligtinge na te kom nie.

geldsake

Die peiling wys ’n skerp skuif in waar mense werk. Voor die inperking het 95,6% van die respondente hul werk vanuit nie-residensiële geboue gedoen, terwyl 77,9% tydens die inperking van die huis af werk.

Die meeste (60%) verwag hulle sal na hul werk terugkeer ná die inperking, maar net meer as 5% is nie seker of hulle sal terugkeer nie, en 1% is seker hulle sal nie na dieselfde werk terugkeer nie.

Net 5,4% wat aangedui het hulle bedryf kleinsakeondernemings, het aangedui dat hulle wel geldelike verligting van die regering ontvang het.

SSA het die peiling tussen 29 April en 6 Mei via die internet met 2 688 deelnemers gedoen. Hiervan was 57,6% vroue, 57,6% swart, 35,2% wit, 8,6% bruin en 4,4% Indiër. Sowat ’n kwart van hulle is jonger as 35, maar almal is ouer as 17. Die meeste deelnemers is van Gauteng (52,2%) en 18% is van die Wes-Kaap.

Dit is die tweede peiling wat die SSA oor die invloed van die Covid-19-pandemie doen. Die eerste een was gesondheidsverwant, en ’n derde een is tans aan die gang oor die invloed van die pandemie op onderwys en mense se gebruik van tyd.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Werksverliese  |  Koronavirus  |  Begroting  |  Covid-19  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.