Meer mense gaan vanjaar tuisbly weens die finansiële impak van die Covid-19-pandemie en minder mense gaan hul geliefdes bederf as verlede jaar, het ’n peiling van die mikrolener Wonga bevind.

Spaarvarkie is maar leeg dié Kersfees. Foto: iStock
Wonga het in ’n peiling wat jaarliks uitgevoer word onder verbruikers bevind mense gaan tot 15% minder in die feestyd bestee as verlede jaar.
Die deelnemers aan die peiling het te kenne gegee hulle beoog om gemiddeld R5 673 meer te bestee oor die feestyd as wat normaalweg maandeliks uitgegee word.
Gegrond op Statistieke Suid-Afrika se bevolkingsyfers beteken dit R210 miljard gaan in die feestyd deur verbruikers in die ekonomie gepomp word. Dit is egter 15% minder as wat ’n jaar gelede bestee is.
Die peiling is onder 8 200 individue gedoen.
Byna die helfte sê hulle is vanjaar swakker af as ’n jaar gelede.
Tuisbly is voorland
Meer as 75% van die deelnemers aan die peiling van Wonga sê dat hulle vanjaar in die feestyd gaan tuis bly. Sowat 38% van die deelnemers sê dit is weens die finansiële impak van die pandemie. Byna die helfte van die deelnemers gaan ’n braai hou om fees te vier.
Die daling in besteding hou verband met laer inkomstes, asook verbruikers wat nie geneë is om soveel uit te gaan midde die pandemie nie.
Die meeste van die deelnemers (42%) gaan hul jaareindbonus gebruik om die bykomende uitgawes te dek, terwyl 38% van hulle hul spaargeld gaan gebruik.
Tot 75% van die verbruikers bestee in die feestyd meer as gewoonlik.
Die mense bestee 34% van die geld aan kos en drinkgoed teen gemiddeld R1 909 per persoon.
Die tweede grootste deel van begrotings word op geskenke uitgegee, naamlik 19% of gemiddeld R1 034 van die ekstra besteding.
Minder gaan bederf word
Verlede jaar het 83% van die deelnemers gesê hulle beplan om hul geliefdes te bederf. Dié persentasie het tot 75% gedaal.
Boaan die lys van geskenke vanjaar is geld. Dit het met 13 persentasiepunte op die geskenklys gestyg.
Die tweede op die lys van geskenke waarvoor gewens word, is koopbewyse.