Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Moenie Jan Taks op kantoor pla nie

Sowat 1,5 miljoen belastingbetalers wat nie belastingopgawes hoef in te dien nie omdat hulle onder ’n sekere inkomstevlak val, het dit verlede jaar gedoen. Boonop het 64% van hulle takke van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) besoek daarvoor, eerder as om aanlyn platforms te gebruik.

Belastingbetalers wat nie opgawes hoef in te dien nie, sal ’n skynopgawe (gesimuleerde opgawe) van die SAID ontvang asof hulle wel ’n opgawe ingedien het. Die belastingbetaler kan dan dié opgawe aanvaar of bywerk voordat dit teruggestuur word. Foto: iStock

Die SAID het vanjaar nie net die drempel vir verpligte opgawes verhoog van R350 000 tot R500 000 nie, maar gaan ook aktief uitreik deur SMS’e aan individue te stuur wat nie nodig het om die belastingopgawes in te dien nie, het Edward Kieswetter, nuwe SAID-kommissaris, Dinsdag in Pretoria gesê.

Die verhoogde drempel het sommiges verwar en die SAID het beklemtoon almal betaal steeds belasting, maar dat sekere mense nie nodig het om ’n vorm in te stuur nie omdat die SAID die inligting het en hul werkgewers die korrekte belasting deur die jaar afgetrek het.

Om onnodige besoeke aan SAID-takke te verminder, sal belastingbetalers wat nie opgawes hoef in te dien nie, ’n skynopgawe (gesimuleerde opgawe) van die SAID ontvang asof hulle wel ’n opgawe ingedien het. Die belastingbetaler kan dan dié opgawe aanvaar of bywerk voordat dit teruggestuur word.

Lees ook: Belasting: Opgawe of nié? Wat nou oor die R500 000?

Van vanjaar af hoef mense wat minder as R500 000 verdien én aan sekere ander kriteria voldoen, nie opgawes in te dien nie. Dié bykomende kriteria is:

  • Jy ontvang inkomste van net een werkgewer vir die volle belastingjaar;
  • Jy het geen ander vorm van inkomste soos ’n motortoelaag, sake-inkomste, rente-inkomste, belasbare rente of inkomste uit ’n ander werk nie.
  • Jy het geen bykomende toelaatbare aftrekkings waarvoor jy kan eis nie, soos mediese uitgawes, uittree-annuïteitbydraes en reisuitgawes nie.

Wat van jou terugbetaling?

Op sosiale media het baie mense bevraagteken of die SAID se stap nie daarop gemik is om mense te ontmoedig om opgawes in te dien sodat hulle nie terugbetalings kry nie, maar belastingkenners sê dié vrese is ongegrond.

Tertius Troost, bestuurder van belastingadvies by Mazars, sê die besluit het eerder te doen met koste en hulpbronne om onnodige werk te doen.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Lisa Hnatowicz

Charles de Wet, hoof van indirekte belasting by PwC Afrika, sê dis net mense wat private pensioenfondsbydraes maak of mediese uitgawes het waarvan hul werkgewers nie weet nie wat moontlik daarby kan baat vind om ’n opgawe in te dien.

Volgens Kieswetter verwelkom die SAID individue wat werklik hulp nodig het met hul belasting by takke, maar onnodige besoeke aan takke het ’n impak op dienslewering.

Oproepsentrums bied vanjaar ’n opsie vir inbellers dat ’n SAID-amptenaar hulle terugbel. Die SAID sal kennisgewings met versoeke vir spesifieke dokumente – eerder as ’n algemene versoek vir “alle ondersteunende dokumente” – stuur wanneer ’n belastingbetaler geoudit word.

Kieswetter sê Jan Taks het sy vermoë verbeter om nie-nakoming uit te vind en op te tree. Die SAID werk al hoe meer met derde partye soos banke en mediese fondse saam om belastingbetalers se inligting te verifieer met dit wat Jan Taks op sy stelsel het.

Die hoe en wanneer
  • Belastingbetalers wat vir eFiling geregistreer is en toegang het tot die MobiApp, kan hul opgawes van 1 Julie via die aanlyn kanale indien.
  • Die belastingseisoen open op 1 Augustus vir belastingbetalers wat hul opgawes by ’n SAID-tak indien. Dié belastingbetalers sal daar aangemoedig en gehelp word om vir eFiling en op die MobiApp te registreer. Sodra hulle geregistreer is, sal personeel hulle help om hul opgawes aanlyn in te dien.
  • Opgawes by takke moet teen 31 Oktober 2019 ingedien word.
  • Nie-voorlopige belastingbetalers wat aanlyn platforms gebruik, moet hul opgawes teen 4 Desember 2019 indien.
  • Voorlopige belastingbetalers wat eFiling gebruik, se opgawes moet teen 31 Januarie 2020 ingedien word.

Belastingteikens

Hy sê sy span gaan alles doen om die belastingteikens te haal wat die afgelope jaar gemis is.

Ekonome sê swak ekonomiese groei van minder as 1% wat vanjaar verwag word, kan dit vir Jan Taks moeilik maak om sy teiken van R1 422 miljard te haal.

Maarten Ackerman, hoofekonoom en adviserende vennoot by Citadel, sê laer groei sal die regering se fiskale teikens onder druk plaas.

Prof. Raymond Parsons, ’n ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê swak groei is negatief vir belastinginkomste, en verhoog ook die skuldlas in verhouding tot BBP.

Kieswetter sê hulle fokus op die grondbeginsels wat binne hul beheer is. “Ons fokus is op die gehalte van ons dienslewering sodat belastingbetalers hul belastingverpligtinge nakom.”

Die SAID probeer ook wys dat hy teen gewoontemisdadigers optree. Mark Kingon, voor Kieswetter waarnemende taksbaas, is aangestel by ’n spesiale eenheid om te fokus op onthullings by die staatskapingkommissie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.