
Baie Suid-Afrikaners dra swaar aan hul skuldlas.
Net omdat baie Suid-Afrikaners kniediep in die skuld is, beteken dit nie dié skuld moet afgeskryf word nie.
Dit is die mening van Katherine Gibson van die nasionale tesourie, wat Woensdag ’n voorlegging aan die parlement se portefeuljekomitee vir handel en nywerheid oor skuld gemaak het.
Sy sê baie van hierdie mense het steeds bates en verdien ’n inkomste.
Volgens Gibson moet daar dus onderskeid getref word tussen mense wat regtig nie hul skuld kan betaal nie en mense wat nog ’n salaris verdien.
Die portefeuljekomitee is besig om wetgewing op te stel wat volgens sy beleid die departement van handel en nywerheid sal toelaat om skuldverligting aan verbruikers te bied.
Gibson sê die tesourie probeer nog bepaal hoe die afskryf van skuld die fiskus sal beïnvloed.
“Daar is koste daaraan verbonde en ons moet vasstel wie hierdie koste gaan dra. Dit is belangrik om stabiliteit in die stelsel te handhaaf.”
Voorlopige bevindinge dui daarop dat skuld van mense wat ’n gereelde inkomste ontvang in minder as vyf jaar herstruktureer kan word sonder om wéér gefinansier te word.
“Meer as 90% van hierdie gevalle kan deur middel van skuldberading opgelos word. Daar is meganismes om hierdie mense te help om weer op hul voete te kom.”
Wanneer jy oorweeg om skuld af te skryf, moet jy jou prioriteite in ag neem.
Katherine Gibson
Gibson het die tesourie se standpunt herhaal dat verbruikers die manier hoe hulle geld leen, moet verander eerder as om op skuldverligting te fokus.
“Wanneer jy oorweeg om skuld af te skryf, moet jy jou prioriteite in ag neem. Doen jy dit vir die armstes van die armes of is dit belangriker vir ’n land se ekonomiese stabiliteit om eerder op mense – soos onderwysers en mynwerkers wat ’n bydrae tot die ekonomie maak – te fokus?” vra sy.
Volgens die tesourie sukkel die meeste verpleegsters, polisielede en onderwysers om elke maand hul skuld te betaal. Hul skuld hou hoofsaaklik verband met motor, huis- en persoonlike lenings.
Dit is nie duidelik wat die totale bedrag is wat landswyd aan krediteure geskuld word nie, maar syfers wat in 2016 deur die Nasionale Kredietreguleerder bekend gemaak is, wys verbruikers skuld ongeveer R1,7 miljard. Onversekerde krediet beloop meer as R160 miljard terwyl kleinhandelaars sowat R37 miljard geskuld word.
Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, het in 2016 tydens openbare sittings oor die volhoubaarheid daarvan om skuld af te skryf gewaarsku dat dit tot die onverantwoordelike leen van geld kan lei.
Coovadia het daarop gewys dat banke reeds uitgebreide skuldverligting deur middel van die skuldberadingstelsel bied. Dié stelsel laat onder meer “vakansies” of te wel ’n tydperk waar verbruikers tydelik nie hul skuld hoe te betaal nie toe. Verder word daar gekyk na die herstrukturering en konsolidasie van skuld en spesifieke reëlings hoe die skuld terugbetaal word.
– Fin24