Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
MuntSlim 101: Wat millenniërs oor geldsake moet weet

MuntSlim met Netwerk24 het verlede week op die US Woordfees op Stellenbosch ’n reeks van drie gesprekke oor finansiële beplanning en beleggings gehou. Die eerste gesprek was tussen Letitia Watson, geldsake-rubriekskrywer van Huisgenoot, You en Drum, en Hanlie Stadler, Netwerk24 se sakeredakteur. Hier is dit: 7 wenke wat millenniërs sal help om welvaart te begin bou, van hul eerste salaristjek af.

  

Lees ook:

      

1. Rock dit met ’n finansiële mentor

  

As jy amper graad vang, is dit tyd om finansiële advies in te win. Foto: iStock

Dit klink vir jou dalk belaglik om ’n finansiële adviseur te nader om jou te help om die vyf pitte wat jy aan die begin van jou loopbaan verdien, te help bestuur.

Maar dit maak beslis sin om ’n finansiële adviseur te gaan sien, selfs voordat jy jou eerste salaris verdien, terwyl jy nog studeer. Dis veral sinvol indien jy in jou laaste jaar op universiteit is, en veral ook indien jy met studieskuld gaan begin werk.

Selfs – dalk veral – indien jy nie dadelik werk kry nadat jy klaar gestudeer is nie, gaan sien ’n raadgewer, wat jou kan help om ’n plan op te stel vir die afbetaling van jou skuld.

Finansiële adviseurs is nie net vir die Christo Wieses of Johann Ruperts van die wêreld nie. Hulle kan jou help om ’n finansiële plan vir jou lewensdrome uit te werk – selfs al kan jy dit nog nie bekostig nie.

Onthou dat ’n adviseur nie dieselfde is as ’n makelaar nie. Die idee is nié dat polisse dadelik aan jou verkoop word nie. Die idee is om ’n omvattende finansiële plan daar te stel wat jy stelselmatig in werking kan stel.

Indien jy besluit om nie ’n professionele adviseur te gaan sien nie, moet jy beslis iemand vind wat jy as finansieel selfstandig beskou wat soos ’n mentor vir jou kan wees. Dit is nie noodwendig iemand wat ryk is nie, maar iemand wat gemaklik is met geld en nie diep in die skuld is nie.

  

2. Dis nie wat inkom nie, dis wat uitgaan!

    

Dis nie jou inkomste wat bepaal of jy welvaart bou nie, dis jou uitgawes – en die meeste daarvan is 100% binne jou beheer.

Studies wys selfs welvarende mense sukkel om uit te kom met hul geld, maar dan ry hulle duur, nuwe motors wat op skuld gekoop word.

Dit ís moontlik om te spaar en te belê op selfs ’n intern se salaris, maar dan moet jy slim wees oor hoe jy jou geld bestee.

Dit ís moontlik om te spaar en te belê op selfs ’n intern se salaris, maar dan moet jy slim wees oor hoe jy jou geld bestee.

Oppas vir die tendens dat jy jou leefstyl verbeter elke keer as jy ’n salarisverhoging kry. Deel liewers langer ’n huis of woonstel met ander mense om verblyfkoste laag te hou as wat jy dadelik op jou eie gaan woon; hou aan om openbare vervoer te gebruik, selfs al voel jy jy kan dit bekostig om elke dag met jou eie motor werk toe te ry; en moenie sommer oornag al jou inkopies by Woolies begin doen as jy steeds ’n deel daarvan by Shoprite kan doen nie!

Dié verskynsel staan as leefstylinflasie bekend – jy gee meer geld uit namate wat jy meer geld verdien, wat eindelik beteken jy is slegter daaraan toe.

Met Netwerk24 se 2017-spaarveldtog #Net1Ding het ons bewys: Deur net een ander keuse te maak, kan jy baie spaar. Byvoorbeeld pleks van vloeibare seep (shower gel), wat sowat R50 per maand kos, gebruik ’n koekie seep teen sowat R15 per maand. Jy spaar R35 per maand, wat eindelik R420 per jaar word.

Net so, as jy elke naweek net een minder bier drink, kan jy R15 per week, oftewel R60 per maand en R720 per jaar spaar.

Wanneer jy daardie salaris dus bestee, onthou dat jy self kies of jy spaarsaam, gebalanseerd of op die “lekkerleef”-begroting leef.

  

3. Tyd is aan jou kant – gebruik dit

  

Daar is ’n paar werklikhede van die moderne werkomgewing wat dit wel vir jong mense moeiliker maak om finansieel die mas op te kom. Selfs met ’n graad agter jou naam is die kans goed dat jy eers ’n klerkskap of internskap sal moet deurloop, en daarna op ’n termynkontrak (ses maande of ’n jaar) aangestel gaan word.

Dit is deesdae skaars dat mense sommer dadelik in ’n heeltydse werk, met al die byvoordele (bv. ’n pensioenfonds, mediese fonds en motor- of selfoontoelaag), instap.

Nog ’n werklikheid is dat baie jong mense dalk glad nie formeel werk sal kry nie en as entrepreneurs of kleinsakelui die mas sal moet opkom.

In al dié gevalle is dit belangrik dat jy sélf voorsiening maak vir jou toekoms. Jy móét gedissiplineerd vir aftrede begin spaar, self al voel dit vir jou belaglik om nou reeds te dink aan wat jy gaan nodig hê as jy 60 of 70 jaar oud is.

Onthou dat jy meer vir aftrede gaan nodig hê as wat jy nou dink; ’n al hoe groter persentasie mense as voorheen gaan 100 jaar oud word!

Indien jou inkomste wisselvallig is, is dit baie belangrik dat jy jou eie uittreeannuïteit (UA) slim kies – een wat buigsame bydraes moontlik maak eerder as ’n polistipe UA waar jy finansieel gestraf word indien jy bydraes moet staak of verminder voordat die polis se termyn eindig.

Met tyd aan jou kant, kan jy die sogenaamde agtste wonder van die wêreld – saamgestelde opbrengs – ten volle benut. Jy sal minder hoef te spaar vir langtermyndoelwitte as wat jy sal moet spaar indien jy eers vyf of tien jaar nadat jy begin werk het, begin spaar.

  

4. Skuld: The good, the bad and the ugly

  

’n Gesonde aversie vir skuld sal jou geldsake gesond hou.

Daar is eintlik twee soorte skuld. Ken die verskil – en moenie jouself flous nie!

  • Goeie skuld is as jy iets op skuld koop waarvan die waarde toeneem (huis) óf wat jou vermoë om ’n hoër inkomste te verdien, verbeter (studielening).
  • Slegte skuld is as jy skuld maak op goed waarvan die waarde daal (klere, huisware) of verbruiksgoedere of vermaak (kos, fliek, vakansie).

    Daar is wel ’n paar grys gebiede met skuld.

    • Wat van ’n motor? Sy waarde daal, maar dit kan jou help om by die werk te kom en dus ’n inkomste te verdien. Dit is inderdaad so, maar maak seker jy flous jouself nie. As jy in ’n stad woon wat wel goeie openbare vervoer het, het jy dalk nie régtig ’n motor nodig nie. En ’n klein, tweedehandse motortjie sal jou ewe goed van punt A tot punt B bring as ’n blinknuwe of groot motor.
    • Wat van geld leen om te belê? Hefboomfinansiering, noem hulle dit, en dis hoe die meeste van ons huiskoop. Hefboomfinansiering vir beleggings van enige aard is slegs slim indien jy seker is jou opbrengs gaan meer wees as die rente wat jy betaal. En ook as jy in iets belê wat jy 100% seker is gaan wel in waarde toeneem.

    Wenke met skuld:

    • Maak seker jy weet presies wat iets jou altesame gaan kos (nie net die paaiemente nie).
    • Maak seker jy weet wat die bykomende koste (administrasiegeld, versekering, ens.) is.
    • Bestee minder as wat jy dink jy kan bekostig – rentekoerse kan styg of noodgevalle kan opduik.
    • Kry hulp sodra jy vasbrand. Skuldberading is een opsie indien jy in skuld verswelg, maar onthou dat dit ook geld kos. Terwyl jy onder skuldberading is, kan jy géén rekeninge oopmaak nie. Jy sal dalk nie eens ’n huurkontrak kan onderteken nie. Jy kan egter wel ’n skuldberader gaan sien om jou situasie te ontleed, wat jou niks sal kos totdat jy skuldberading amptelik aanvaar nie.

        

    5. Beskou jouself as ’n belegger

      

    Al het jy nie geld om te belê nie, moet jy jouself as ’n belegger beskou.

    Begin deur alles uit te vind oor beleggings.

    Wat is die belangrikste bateklasse?

    • Die vier grotes is aandele, effekte (skuldbriewe), kontant en eiendom. Op lang termyn is genoteerde eiendom die bateklas wat die beste vaar, met aandele net ’n kortkop agter.
    • Hulpbronne soos goud, kuns, kriptogeld en waagkapitaal word as sogenaamde alternatiewe beleggings beskou en moet elkeen net ’n klein deeltjie van ’n beleggingsportefeulje uitmaak.
    • Jy kan maklik en goedkoop toegang kry tot alle bateklasse deur effektetrustfondse, maar besluit ingelig oor hoeveel blootstelling jy aan verskillende bateklasse wil hê. Effektetrustfondse word verdeel in fondse wat net in aandele belê en fondse met lae, matige of hoë blootstelling aan aandele. (Jy’s jonk, maak seker jy belê die meeste van jou geld in aandele en genoteerde eiendom.)
    • Moenie van indeksfondse vergeet nie – dis goedkoper en gee jou ook ’n groot verskeidenheid maniere om in aandele en/of hulpbronne te belê.
    • Gebruik jou kennis van tegnologie tot jou voordeel. Doen navorsing aanlyn, span apps in en vind uit van maklike maniere om te belê.
    Letitia Watson, geldsake-rubriekskrywer vir Huisgenoot, You en Drum. Haar rubrieke kan elke Vrydag op Netwerk24 gelees word.

    In watter “pakkies” word beleggings toegedraai?

    Dieselfde gebalanseerde effektetrustfonds kan toegedraai word in verskillende pakkies, byvoorbeeld ’n UA, belastingvrye spaarrekening (dis nie ’n bankrekening nie!) of ’n diskresionêre belegging. Maak seker jy verstaan die voor- en nadele van elk.

    Byvoorbeeld, met ’n UA “wen” jy omdat jou bydrae van belasting afgetrek word, maar jy kan nie voordat jy 55 jaar oud is toegang kry tot jou geld nie. Met ’n belastingvrye belegging wen jy ook omdat die opbrengs belastingvry is, maar as jy geld onttrek, kan jy dit nie weer vervang nie omdat daar ’n jaar- (R33 000 per jaar) en lewenslange limiet (R500 000) op dié soort belegging is.

    ’n “Gewone” effektetrustfonds het die groot voordeel dat jy binne 48 uur toegang tot jou geld kan kry, maar dis ook ’n nadeel indien jy nie selfdissipline het nie!

    Wat van kriptogeld?

    Daar is al baie geskryf oor bitcoin, ethereum, ripple en die derduisende kriptogeldeenhede wat reeds bestaan, asook oor die tegnologie daaragter, blokkettings. Mense het gewoonlik ’n sterk mening oor bitcoin as belegging al dan nie. Is dit ’n prysborrel wat gaan bars of is dit ’n langtermynbelegging?

    • Lig jouself in oor die argumente en besluit self of jy dit as ’n bate beskou.
    • Oppas vir die tropmentaliteit waar almal meegevoer raak met ’n beleggingsgeleentheid. Moenie dat gierigheid jou besluite beïnvloed nie!
    • Verstaan wat die risiko is met enige belegging, ook in kriptogeld. Byvoorbeeld, omdat dit nog nie gereguleer is nie, het jy nie ’n veiligheidsnet as jou platform vou of gekraak word nie.
    • Moenie geld waag wat jy nie kan bekostig om te verloor nie!

        

    6. Wat Mamma (en Pappa en Ouma en Oupa) moet weet

      

    Ouers ondersteun hul kinders deesdae al hoe langer. Dit beteken ouers kan nie bekostig om af te tree nie en is later dalk sélf afhanklik – van wie? Van hul kinders!

    Laat jou kinders eerder ’n klein bietjie sukkel maar op hul eie twee bene staan. Onthou, dit beteken nie hulle sal honger ly nie, maar dalk net nie elke week pizza eet nie.

      

    7. Kry die basiese dinge reg

      

    Vinnige wenke wat jy mettertyd in jou geldsake moet regkry, sluit in:

    • Skep ’n noodfonds (van drie maande se salaris).
    • Beskerm jou vermoë om geld te verdien, bv. met ongeskiktheidsdekking.
    • ’n Mediese fonds is ook belangrik.
    • Lewensversekering raak belangrik as iemand van jou inkomste afhanklik is of as jy baie skuld het.
    • Korttermynversekering beskerm jou teen ongelukke en misdaad – wie kan bekostig om ’n motor af te betaal wat afgeskryf is én ’n nuwe motor koop?
    • Stel ’n wettige testament op, selfs al het jy niks om na te laat nie – dit maak die administrasieproses net baie makliker vir jou familie.

       

    • Onthou dat Huisgenoot aanlyn ook op Netwerk24 gelees kan word. Letitia Watson se rubriek word elke Vrydag gepubliseer.
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    • INDEKS
    • GELDEENHEDE
    • KOMMODITEITE
    Data word met 15 min. vertraag
    • Gold Mining 2521,3 (781)
    • Top 40 48435,04 (-40196)
    • All Share 54187,92 (-45010)
    • Resource 10 42508,28 (-27618)
    • Financial and Industrial 30 73364,47 (-64797)

    Sakegesprek

    Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.