Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nedbank help nou met huislenings en meer

Nedbank gaan ook sy kliënte tydens die Covid-19-pandemie met hul oortrokke fasiliteite én huislenings help.

Nedbank se kantore in Sandton, Johannesburg.Foto: Argief

Kliënte met oortrokke fasiliteite sal vir die drie maande tot einde Junie verligting van een persentasiepunt kry.

Anton de Wet, hoof vir Nedbank se afdeling vir kleinhandel-en-besigheidsbankdienste, sê kliënte hoef nie die bank te kontak om daarvoor aansoek te doen nie – dit gaan outomaties gedoen word.

Die korting sal elke maand op hul bankstate in die vorm van ’n krediet aangedui word.

Net kliënte wat met hul paaiemente bygehou het, kwalifiseer vir dié korting.

Wat huislenings betref, kan kliënte die bank kontak om te reël dat hulle vir drie maande óf net die helfte van hul paaiement óf selfs geen paaiement betaal nie.

Die bank sê dit sal nie die kredietprofiel van kliënte beïnvloed nie.

De Wet waarsku egter dat rente, tariewe en versekering steeds elke maand betaal moet word.

Die paaiemente wat nié nou betaal word nie, sal later terugbetaal móét word.

“Dit bly dus in die kliënt se beste belang om aan te hou om hul maandelikse huispaaiement te betaal as hulle kan,” sê hy.

Net soos in die geval van FNB, doen Nedbank afstand van die verhuringskoste van Speedpoint-toestelle. Dit sal veral maatskappye help wat in die inperkingstydperk nie sake kan doen nie. Handelaars wie se banksake in orde is en wat bedrywig is in ’n sektor wat onder druk is, sal kwytgeskeld word van die minimum gelde wat op elke transaksie op sulke betaalpunte gehef word.

Nedbank het vroeër aangekondig dat hy die minimum betaling op uitstaande kredietkaartskuld tot 2,5% halveer.

Dié reëling geld van 1 April vir drie maande.

Hy doen ook afstand van enige boetes (tot ’n waarde van R200 000 op ’n algehele portefeuljevlak) wanneer vroeë onttrekkings uit beleggings gemaak word.

Maatreëls

  • Die meeste banke het betaalvakansies of soortgelyke maatreëls vir die delging van skuld aangekondig. Dit is van 1 April tot 30 Junie van krag.
  • Individue en/of ondernemings kan in die meeste gevalle by hul bank aansoek om skuldverligting doen.
  • Banke vereis wel dat aansoekers se geldsake in orde moet wees en dat hulle nie agterstallig met enige paaiemente mag wees nie.
  • Die skuldverligting beteken nie dat kliënte kwytgeskeld word van betalings nie, net dat hul skuld herstruktureer en dus later gedelg word.
  • Meestal word geen bykomende gelde gehef om skuld te herstruktureer wat deel van die Covid-19- skuldverligting vorm nie.
  • Saswitch-boetes word opgehef.

Absa

Absa se planne is in ooreenstemming met die algemene maatreëls waarop die sektor ooreengekom het.

Hy gee kliënte die opsie om of te reël om glad nie skuld in dié drie maande te betaal nie, of om wel ’n deel daarvan te betaal.

Dié verligting is nie net van toepassing op sy bedrywighede in Suid-Afrika nie, maar ook in die res van Afrika.

African Bank

Elke aansoek om skuldverligting word afsonderlik oorweeg.

Capitec

Elke aansoek om skuldverligting word afsonderlik oorweeg.

Hy gebruik sy bestaande skuldbeleid om te bepaal watter stappe gedoen kan word.

Discovery Bank

Discovery Bank het geen aankondigings gemaak oor spesifieke maatreëls om kliënte by te staan of bydraes om die pandemie te beveg nie.

FNB

FNB het maatreëls aangekondig soortgelyk aan dié wat deur die sektor oor die algemeen aanvaar is.

’n Voorkeurtarief word op maatreëls gehef wat weens die Covid-19-pandemie ingestel word.

FNB doen afstand van die verhuringskoste van Speedpoint-toestelle. Handelaars wie se banksake in orde is en wat bedrywig is in ’n sektor wat onder druk is, sal kwytgeskeld word van die minimum gelde wat gehef word op elke transaksie op sulke betaalpunte.

Die bank gee in April 1 GB se data aan individue en sakekliënte wat op FNB Connect geregistreer is.

Investec

Dié bank het geen aankondigings gemaak oor spesifieke maatreëls hoe hy kliënte bystaan nie.

Standard Bank

Kliënte van dié bank wat nie agterstallig is met betalings nie, en wat R7 500 per maand of minder verdien, kwalifiseer outomaties vir ’n betaalvakansie van drie maande op al hul skuld, insluitend hul huisverband, motorfinansiering, kredietkaart en persoonlike lenings.

Diegene wat méér as R7 500 per maand verdien, kan aansoek doen om skuldverligting.

Klein ondernemings met ’n omset van minder as R20 miljoen per jaar en heeltydse studente kan aansoek doen om drie maande lange verligting op die terugbetaling van lenings.

Tyme Bank

Dié bank het aangekondig dat hy geen gelde op sy Sendmoney-diens gaan hef nie.

Meer oor:  Nedbank  |  Fnb  |  Capitec  |  Standard Bank  |  Discovery Bank  |  Absa  |  Banke  |  Bankdienste  |  Betaalvakansie  |  Covid-19  |  Huislenings  |  Staat Van Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.