Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Beplan ook vir slegte nuus

Ek hou vir eers by die tema waarmee ek verlede week die jaar begin het, finansiële beplanning vir jong mense.

Nico van Gijsen

Ek het toe daarop gewys dat om te spaar, om welvaart te skep, eerder as om net ’n paar rand bymekaar te maak vir ’n vakansie of iets, moet jy op lang termyn dink en op lang termyn belê. Dis oor tyd dat jou geld momentum kry en jy werklik die krag van saamgestelde rente sal sien.

Vandag kyk ons na ’n ander element van finansiële beplanning: die risiko’s. Nie beleggingsrisiko nie, maar wat ek noem die “wat as . . .”-vrae. Wat as dinge nie uitwerk soos jy beplan het nie?

Julle is twee jong mense wat bymekaargekom het en saam, soos die vraag in verlede week se rubriek, ’n neseier bymekaar wil begin maak. En dan dink mense aan spaar. Dit is ook reg, want dit is al hoe jy rykdom skep.

Maar daar is ’n verdere element wat nie uit die oog verloor moet word nie. Omdat julle bymekaar is, raak julle interafhanklik van mekaar. En nou praat ek nie net van stywe drukkies en die blink liggies van die toekoms nie. Ek praat van finansieel interafhanklik. En daarmee kom verantwoordelikheid teenoor mekaar.

Julle is verantwoordelik en begin vroeg al geld wegsit. Maar ’n jaar of vyf later tref die noodlot en een sterf in ’n motorongeluk. Wat word van daardie neseier? Die boedel moet afgehandel word, skuld moet eers betaal word, voor die langslewende iets daaruit kan kry.

Wat as die langslewende nou skielik ’n enkelouer is? Wie gaan omsien? Die lewe gaan nie net aan soos voor julle mekaar ontmoet het nie. ’n Paar jaar se spaargeld gaan nie genoeg wees om van te lewe nie. Jy kort ’n neseier van ’n ander aard. En dit is waar lewensversekering inkom.

Beplan vir die dinge wat jy hoop nooit sal gebeur nie, soos dat jou lewensmaat te jonk sterf of te siek word om te werk. Foto: iStock

Genoeg lewensversekering is belangrik, want dit dek die risiko van ’n inkomste wat wegval. Dit dek die risiko van geld wat gespaar sou word vir daardie neseier, wat nou nie meer gespaar gaan word nie.

Ek sien talle jong ma’s wat sukkel om die pot aan die kook te hou ná ’n man se ontydige afsterwe. En dit omdat hulle nie die belangrikheid van genoeg lewensdekking besef het, of wou aanvaar, nie. Moenie dat die ongemaklikheid om oor die dood te praat jou in so ’n situasie laat beland nie. Mense gaan dood, of ons daarvan hou of nie. En dit is gewoonlik ontydig ook.

Hiermee saam is ongeskiktheidsdekking ’n vereiste. Ongeskiktheid kan selfs erger finansiële gevolge hê. Jou inkomstevermoë val weg, maar jou inkomstebehoefte – en jou verpligtinge – is steeds daar.

En dis veral jong mense wat ’n hoë risiko vir ongeskiktheid het.

Natuurlik is lewens- en ongeskiktheidsdekking nie net vir jong mense nie, maar dit is waar jy begin. As jy jonk is. Soos wat jou verpligtinge toeneem, so moet jou risikodekking toeneem. Maar dit is verkeerd om te wag tot dan.

Baie mense, baie met klein kinders, leef in finansiële ellende omdat daar gewag is met risikodekking. Die dood wag nie.

Begin as jy jonk is, want dan is dit goedkoop. En maak seker dat die versekeringsbedrag aangepas sal word soos wat jy ouer word. Jy kan siek raak en onversekerbaar wees. Met so ’n outomatiese aanpassing in jou poliskontrak ingesluit, verseker jy sommer ook jou versekerbaarheid.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingprak­tisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2260,51 (7457)
  • Top 40 50341,63 (26385)
  • All Share 56406,88 (28305)
  • Resource 10 44220,72 (46209)
  • Financial and Industrial 30 76382,91 (30380)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.