Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Bly weg van dié soort spaar

Dis Spaarmaand en ons word toegegooi onder “spaarwenke”. Ongelukkig is baie daarvan net produksmousery. Wees dus maar versigtig.

Nico van Gijsen

Laat ek sommer met die geld-deur in die spaar-huis val. Kry vir jou eers ’n kundige finansiële beplanner wat holisties na jou geldsake kyk. Hoe jy spaar, moet sin maak binne die raamwerk van jou finansiële behoeftes. Die nóú is belangrik, maar die toekoms is belangriker.

As jy genader word met ’n spaar- of dan beleggingsaanbod (gewoonlik met ’n belofte van opbrengste wat alles en almal klop), kan jy seker wees dis ’n smous wat meer in sy eie inkomste belangstel as in jou finansiële gemoedsrus. En as die “raad” boonop “gratis” is, loop ’n wye draai. Kom ons kyk na ’n praktiese voorbeeld na aanleiding van ’n leser se navraag.

Die leser het 14 jaar gelede ’n uittree-annuïteit (UA) by ’n versekeringsagent gekoop. Die onderliggende bate is ’n polis en die termyn is bykans 40 jaar. Hy het nou by ’n nuwe werk begin, waar hy lid is van ’n verpligte aftreefonds. Hy wil sy premies op die UA staak omdat hy nie méér geld per maand kan spaar nie, maar wil uiteraard die bestaande belegging behou (hy het in elk geval nie toegang daartoe voordat hy 55 jaar oud is nie).

Hy oorweeg om die UA oor te dra na ’n ander batebestuurder. Hy kan dit doen, ooreenkomstig art. 14 van die Pensioenfondswet (24 van 1956). Maar daar is ’n “beëindigingsheffing” van R52 240 wat verhaal word uit die “waarde” van sy UA.

Hy kan ook kies om die UA te hou by die versekeraar en die premie te verminder tot R300 per maand (tans R3 000 per maand) met ’n “heffing” van R41 585, of tot R1 000 per maand met ’n “heffing” van R30 406. En hy moet weer kommissie betaal op die gewysigde UA, asof dit ’n nuwe polis is.

Die belangrike punt is dat dié polis-tipe-UA’s eerstens kommissiegedrewe is. Dat dit bydra tot ’n finansiële behoefte by aftrede is sommer terloops.

Polistipe aftreeprodukte teken jou tot 40 jaar lank vas. En dinge verander.

Die kommissie word vooruit betaal aan die smous en dit word bereken oor die termyn van die poliskontrak. Vandaar hierdie lang kontraktermyne van 40 jaar, want dit verhoog die kommissie.

En voordat iemand my takel oor “gedissiplineerde spaar” met hierdie gekontrakteerde polis-UA’s, spaar liewer jou energie. Dis ’n spul twak.

Mense se finansiële situasie verander. En soos in die leser se geval is hy nou kontraktueel gebind aan kommissie (en administrasiegeld) wat vooruit betaal is. Met ander woorde: Hy sit met skuld. Kortom, sy aftree-spaarvarkie skuld die versekeraar geld. Dis dié geld wat hulle terugeis as “heffings” as hy iets wil verander.

Wat my bring by die volgende punt. Die “beleggingswaarde” wat jou versekeraar aangee, is die werklike waarde in die spaarvarkie, plus die geld wat jy hulle skuld.

Hulle lieg dus ook nog vir jou.

Bly liewer weg hiervan. As jy so iets het, oorweeg gerus om dit te skuif ooreenkomstig die wet hierbo genoem na ’n batebestuurder waar jy premies kan verminder, staak of verhoog sonder penalisering of snaakse heffings.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Spaar  |  Uittree-Annuïteite  |  Aftreebeplanning  |  Geldsake  |  Pensioenfonds  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2185,94 (918)
  • Top 40 50077,78 (-5644)
  • All Share 56123,83 (-9658)
  • Resource 10 43758,63 (-5410)
  • Financial and Industrial 30 76079,11 (-10135)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.