Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico Van Gijsen: Crowd1 lyk alte veel na piramideskema

Die berigte die afgelope twee Sondae in Rapport oor die sogenaamde beleggingskema Crowd1 het my gedagtes teruggeneem na ’n gesprek wat ek destyds gehad het met Adriaan Nieuwoudt, kubuskoning van Garies, toe sy vrotmelk-piramideskema in duie gestort het. En nadat baie mense baie geld verloor het.

Nico Van Gijsen. Foto: Verskaf

Hy het twee dinge gesê wat my tot vandag toe bybly.

“As ek straat-af stap,” het hy gesê, “en ek sien ’n sent daar lê, dan tel ek dit op.” En die tweede ding: “Ek forseer niemand nie, dis mense se eie gierigheid wat hulle na my toe bring.”

Crowd1, so lyk dit vir my ná so ’n bietjie leeswerk en oplet na hoe die Reserwebank en die Gedragsowerheid vir Finansiële Dienste (FSCA) hieroor voel, is ’n piramideskema, nie veel anders as Adriaan Nieuwoudt se “melkkulture” van die 1980’s nie. Dis net baie meer hoë tegnologie.

’n Koevertjie met vrotmelkpoeier, of ’n selfoon-app, dit lyk vir my soos dieselfde swendel. Die jakkalse het nie van streke verander nie. Net van hare.

Daar is reeds genoeg oor Crowd1 geskryf. Ek kan niks meer bydra nie en ons sal weldra sien of dit volhoubaar is. Waarby ek egter wil stilstaan, is wat kan jy doen om jouself te beskerm teen die piramide-jakkalse?

Aanvaar dat daar mense is wat “straat-af stap op soek na sente wat rondlê”. Wat die heeltyd op die uitkyk is vir geleenthede om hulself te verryk. Nie deur te werk nie, deur geld “op te tel”. Daar is mos die Engelse gesegde, “a fool and his money are easily parted”.

En dan, pasop vir jou eie gierigheid. Ons kan nou mooi woordjies probeer, ons kan politiek korrek probeer wees, simpatiek wees teenoor minder gegoedes, maar dis gierigheid wat mense met oop oë in sulke strikke laat beland. Ons noem hulle slagoffers, want die samelewing verwag van ons om empatie te toon, maar dis gierigheid wat van mense slagoffers maak.

’n Piramideskema kan nooit werk nie. Gewoonlik word mense ingetrek deur bekendes, soos sportsterre (of jou vriende en familie) te gebruik as “getuies” van die groot geld wat te maak is.

Dit werk só: Kom ons sê die meesterbrein begin deur net vier mense te betrek. Elkeen van hulle moet vier ander werf, hulle elkeen weer nog vier, en so aan. Jou “beleggingsopbrengs” is afhanklik van volgehoue werwing. Maar hier is nou die wiskunde.

Teen die tyd dat jy by vlak 12 van die werwing uitkom, moet daar reeds meer as 16,8 miljoen nuwe “lede” gewerf word. Die totale aantal mense wat dan al deel van die skema moet wees, is reeds sowat 22,4 miljoen. Dit is min of meer Suid-Afrika se totale volwasse bevolking, wat almal aan die skema moet behoort as jy ná vlak 12 nog wil geld maak. En as jy glo dis moontlik, het jou gierigheid jou nog dom gemaak daarby.

Geldmaak deur beleggings het ’n paar baie eenvoudige reëls en as dit nagekom word, sal jy rykdom skep.

Begin vroeg en spaar gereeld. Geld wíl groei. Maar dit neem tyd. Jy gaan nie eendag sommer net ’n geleentheid kry en jare se niksdoen uitwis nie. Dit kort dissipline.

Spaar in produkte by erkende gelisensieerde produkverskaffers, of batebestuurders. En kry beleggingsraad by kundige raadgewers wat gelisensieer is by die FSCA. Nie by jou tjommies langs die vleisbraaivuur nie. Vra vir bewys van registrasie by die FSCA, vra vir bewys van kwalifikasies, vra vir bewys van ervaring.

En laastens, as dit te goed klink om waar te wees, glo my, dan is dit.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac. com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Crowd1  |  Nico Van Gijsen  |  Piramideskema  |  Geldsake  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.