Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Dink só oor aftreegeld in dié tye

Onderwyl die ANC-regering se eie lady Kitchener (ook bekend as min. Nkosazana Dlamini-Zuma) domastrant en roekeloos voortstoomroller met haar beleid van verskroeide aarde, het ek tot ’n besef gekom.

Nico van Gijsen

Eerstens, dit wat in 26 jaar onder die ANC-regering nie kon gesteel, gekorrupteer of vernietig is nie, is hy nou besig is om finaal te verwoes. Die virus is ’n bysaak. Dit gaan nou oor mag. Ongeag die prys.

En tweedens, besef ek, vroue raak ook grys. Regtig. Ek sien dit nou die aand toe ek my vrou se tee voor haar neersit en haar ’n soentjie op die kop gee. Die grys haartjies begin wys noudat sy nie ’n haarkapper mag besoek nie.

Maar kom ons praat eers geldsake. Wie het al gehoor: Aan die wat het, sal gegee word. En van die wat nie het nie, sal weggeneem word, ook dit wat hulle het. Of so iets.

Nou sien ons dit. Die armes word armer. Die hongeres is besig om dood te gaan. Maar die vet katte in die parlement word net vetter. En meer bleddie verwaand.

Ek sien onder my meer vermoënde kliënte dat hulle gebruik maak van geleenthede om meer te spaar en ryker te word. Terselfdertyd sien ek ook diegene wie se spaargeldjies ek volgens ’n plan probeer laat rek vir oudag, wat nou weens inkomsteverlies of kinders wat gehelp moet word, genoodsaak is om daardie oudag se geld te begin gebruik.

En dan kry ek die vraag: Moet ek my aftreegeld in ’n lewende annuïteit hou, of moet ek ’n gewaarborgde lewensannuïteit koop? Dié vraag hoor ’n mens gereeld, maar in die huidige konteks het dit ’n heel ander klem, ’n heel ander betekenis.

My normale reaksie sou wees, nee (en lesers weet hoe gereeld ek lewensannuïteite aanbeveel teenoor lewende annuïteite). Wat is dan nou anders?

Eerstens het jou spaargeld skerp gedaal met die korona-paniek. Eintlik het dit gekom net toe die mark sy kop mooi begin optel het, soos ek en baie van my kollegas in die bedryf drie jaar lank voorspel het. Maar toe daal dit skielik en onverwags en nou het almal minder geld waarmee hulle ’n pensioen kan aankoop.

Dis die een rede. Die ander is dat rentekoerse nou al twee keer vanjaar verlaag is. En rente bepaal hoeveel pensioen jy kan koop.

Rente bepaal hoeveel pensioen jy kan koop. Foto: iStock

Maar as jy die pot aan die kook moet hou? Moet jy hoop op groei, of besluit jy wat is die beste, nie net vir vandag en môre nie, maar vir oormôre en die dag daarna? Dan kan jy gerus tog kyk na ’n lewensannuïteit, ondanks my “nee” hierbo.

Ons het die afgelope week vir ’n 60-jarige kliënt (vrou) ’n kwotasie gedoen. Vir R3 miljoen kan sy vir die res van haar lewe tot R28 068,76 per maand kry. Dit is gelyk aan ’n opbrengs van 11% per jaar. Vir dié bedrag en dis gewaarborg? Ek sal sê vat dit.

Daar is ook die ander kant. Diegene wat nie hul geld in geldmarkfondse of in banke gaan belê het ná die korona-val nie, glimlag reeds al die pad. My eie kliënte wys al groei van tussen 10% en meer as 20%. En dit binne ’n maand.

O ja, die grys hare. Dis sommer net om te wys daar is lewe. Al sit ons in huisarres terwyl ons dapper polisie, gewapen met skietysters en boeie, atjar-tannies en branderplankryers terroriseer.

Waar lewe is, is hoop. En as daar hoop is, is daar ’n beter toekoms.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingprak-tisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Sakegesprek

    Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.