Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Dis jou reg om self te besluit wie erf

Ons kyk vandag na die aanwysing van begunstigdes in ’n testament of trust en veral jou vryheid van keuse om oor jou goed te beskik soos jy wil.

Nico van Gijsen

Ek doen dit aan die hand van ’n appèlhofuitspraak vroeër die maand.

Ek kies om nie die saak te noem nie omdat ek nie die betrokkenes se name onnodig aan die groot klok wil hang nie. Dit gaan oor die hof se beslissing, nie die wie nie.

Die saak spruit uit ’n trust wat in 1953 opgerig is en waarin die trustoprigter sy vier kinders as kapitaalbegunstigdes benoem het.

Sou ’n kind reeds oorlede wees (by beëindiging van die trust en die verdeling van die trustbates), sal daardie kind se begunstiging oorgaan na sy of haar wettige afstammelinge.

Sy een dogter had twee miskrame en het mettertyd toe twee kinders aangeneem. Die vraag voor die hof was of die aangenome kinders as “wettige erfgename” beskou moes word vir die doeleindes van verdeling van die trustbates.

Die trustees was van mening dat die trust nie vir die aangenome twee voorsiening maak nie.

Die saak vir die aangenome kinders is gevoer hoofsaaklik rondom onbillike diskriminasie op grond van geboorte soos in art. 9 van die Grondwet.

Interessant hieruit is dat aangenome kinders in die tyd toe die trustakte opgestel is, nie geregtig was op eiendom van sy of haar aanneemouers by wyse van enige instrument (trustakte of testament) wat uitgevoer is voor die aanneming nie. Sulke kinders kon ook nie intestaat erf van hul aanneemouers nie. (Intestaat is wanneer iemand sterf sonder ’n testament.)

Dit is belangrik om ’n testament te hê. Maar net so belangrik is dat jou testament duidelik is oor hoe jou goed moet vererf.

Die situasie vandag is natuurlik heeltemal anders, en ’n aangenome kind het presies dieselfde regte en voorregte as ’n bloedverwante kind ten opsigte van die aanneemouers, ingesluit die reg om intestaat te mag erf.

Nietemin, die hof het die aansoek van die aangenome kinders verwerp, nie soseer omdat hulle, ingevolge die ou wet, nie geregtig was op begunstiging uit die trust nie, maar op grond van art. 25 van die Grondwet.

Maak seker jy sê in jou testament wat jy wil sê op ’n manier wat almal sal verstaan. Foto: Pixabay

Dié artikel beskerm die reg van die eienaar van eiendom om daarmee te handel na goeddunke, solank as wat dit nie onregmatig ander regte wat in die Grondwet beskerm word, skend nie.

Die uitspraak beklemtoon ook verder die gevestigde reg dat ’n persoon sy eiendom kan bemaak of daarmee handel soos hy wil – net solank dit nie onregmatig diskrimineer of teen die openbare orde is nie, soos ons sien in die bekende BoE-saak waar die bepalings in ’n trust beskou is as rassediskriminasie.

Niemand het dus ’n reg op jou goed of om van jou te erf nie.

Ja, jy kán jou kind “onterf” ook, selfs al is dit net omdat hy rook, soos in die saak Van Vuuren vs. die Meester.

Dit alles bring my by die belangrike punt. Dit is belangrik om ’n testament te hê. Maar net so belangrik is dat jou testament duidelik is oor hoe jou goed moet vererf.

Dieselfde geld ’n trust.

Kortom: Maak seker jy sê wat jy wil sê op ’n manier wat almal sal verstaan. En moenie onredelike of immorele voorwaardes stel nie.

Woorde, sou daar ’n latere hofgeding wees, word geïnterpreteer volgens hul normale betekenis.

Gebruik kundiges om jou by te staan hiermee en hou liewer jou mense uit die hof uit.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Trusts  |  Testament  |  Boedelbeplanning  |  Boedel  |  Erf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.