Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Fokus nou op wat regtig saakmaak
Nico van Gijsen

Die afgelope week se hofuitspraak teen Nkosazana Dlamini-Zuma en trawante het my van mening laat verander oor die irrasionele Covid-19-regulasies. Ek dog heeltyd dis gedryf deur kollektiewe onkunde. Maar ek vermoed nou dis eerder gemotiveer deur venynigheid.

Onder leiding van NDZ is ons land ná skaars 70 dae in groter kollektiewe armoede en hongersnood as ná haar eksman se nege jaar as president waartydens korrupsie en selfverryking hoogty gevier het. Die groot gevaar is nie die virus nie, dis die magspel tussen politieke kripvreters wat ons beduiwel. Maar dit maak mense armer. Wat my bring by die vraag: Wat doen jy nou aan jou geldsake?

My skoondogter is lief vir die uitdrukking: Die gebrek aan alternatiewe fokus die brein absoluut. Ek kan dit nie beter stel nie. Fokus. Kyk wat het jy en wat kry jy in. Kyk waarop spandeer jy. Dink verder as nou. Dink aan môre en oormôre. Dink aan diegene wat van jou afhanklik is en wat van hulle gaan word as jy nie meer daar is nie.

En dan besluit jy wat is regtig nodig en wat kan jy maar los. Die gebrek aan alternatiewe sal jou help fokus.

Kom ek help ’n bietjie. Ek hou nie daarvan om vir mense begrotings uit te werk nie. Ek voel ek beledig hul intellek, want enigeen kan seker tog sien wat is belangrik en wat nie. Waarin ek wel spesialiseer, is om mense te help om voorsiening te maak teen finansiële risiko’s.

Met voorgaande as agtergrond, kom ons kyk na die “toegewings” van versekeraars vir die sogenaamde premie-vakansie op hul polisse. ’n Hulppakket in moeilike dae, of selfsugtige risikobeperking?

Hier is ’n voorbeeld. Jy hoef vir drie maande nie premies te betaal nie (premie-vakansie), maar jou lewensdekking val tot 25% van die versekerde bedrag. Anders gestel, jy gooi 75% van jou lewensdekking weg in ruil vir die premie.

En dit te midde van ’n wêreldwye pandemie met bykans 6,5 miljoen gevalle, waaronder sowat 400 000 sterftes. Ek daag enige versekeraar se aktuaris uit om vir ons hier op hierdie blad te kom verduidelik wie die eintlike voordeel trek uit die sogenaamde vergunning, die kliënt of die versekeraar.

Aktuarisse is sosiale wiskundiges. Etiek is aan die grondslag van hulle doen. Ek sien dit onder die wat ek ken. Ek glo dus dat hierdie premiebrousel ’n maaksel van die bemarkingsafdelings is.

My boodskap: Jou lewensdekking (risikodekking in die algemeen) is daar om te sorg vir wanneer jyself nie kan nie. Jy het nie beheer oor wanneer jy nie kan nie. As jy geweet het wanneer jy doodgaan, was dit maklik. Maar jy weet nie, daarom maak jy ’n plan vir geld vir daardie verpligtinge wat jy op jouself geneem het teenoor ’n gade, kinders en selfs kleinkinders.

Dis hoekom ons dit risiko-versekering noem. Dit dek jou teen die risiko’s. Teen dit wat jy weet gaan gebeur (dood) of kan gebeur (ongeskiktheid of gevreesde siekte).

Ek besef daar is mense wat regtig in geldnood sit. Nie noodwendig deur hul eie toedoen nie, maar in hierdie dae dalk as gevolg van bitter swak en roekelose politieke besluite (of dalk doelbewuste venynigheid). Dan gaan jy natuurlik doen wat jy moet doen om te oorleef.

Laat die gebrek aan alternatiewe jou fokus bepaal. Begin deur jouself die “Wat as . . .” vrae te vra. Byvoorbeeld, wat as ek vanaand doodgaan? Laat dit jou lei.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsenus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Betaalvakansie  |  Lenings  |  Staat Van Inperking  |  Skuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.