Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Geldmark se op-en-af-bewegings

Die afgelope week was Absa Bank in die nuus oor sy geldmarkfonds wat sluit. Dit is dalk goed dat ons vandag breër kyk na geldmarkfondse in die algemeen en rente as beleggingsklas in besonder.

Daar is niks fout met Absa se geldmarkfonds nie. Dit is ’n goeie fonds wat billike, tipiese geldmarkfonds-opbrengste gelewer het. Ek glo dis net ’n geval dat te veel mense dit aangesien het vir wat dit nie was nie.

My eie ervaring van beleggers wat hul geld in Absa se geldmarkfonds belê het, stem heeltemal ooreen met Absa se rede vir die sluit van die fonds. Volgens Absa “glo (kliënte) dat die fonds se kapitaal en die gepaardgaande opbrengste deur Absa Bank gewaarborg word”.

Kort termyn, met risiko

Geldmarkfondse is effektetrustfondse. Geldmarkfondse is gefokus op kort termyn met die klem op likiditeit. Dit word beskou as ’n relatief laerisikobelegging, juis vanweë hierdie likiditeitsfaktor.

Likiditeit het te doen met die onmiddellike beskikbaarheid van jou geld en hoe dit geraak word deur markbewegings. Effektetrustfondse wat byvoorbeeld hoofsaaklik in aandele en eiendom belê, het ’n baie laer likiditeitsfaktor en daarom word dit beskou as bateklasse met ’n medium- tot langtermynbeleggingsdoelwit.

Geldmarkfondse belê in rentedraende instrumente. Rente is niks anders nie as die prys wat betaal word op geld wat uitgeleen word.

En die prys word bepaal deur die normale gevolg van vraag en aanbod. As baie mense baie skuld maak, sal die rente hoër wees, want die vraag is hoër.

As mense min skuld maak, is die aanbod hoër en sal die rente laer wees.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) speel ook ’n rol hierin. Die SARB bepaal die hoeveelheid geld in die ekonomie deur sy rentekoersaanpassings. In tye van groot aanvraag (mense maak meer skuld) sal die prys van geld verhoog word, dus hoër rentekoerse. En andersom.

Wat sê dit vir ons in die konteks van wat ek hierbo sê oor geldmarkfondse en die rede waarom Absa sy geldmarkfonds sluit?

Die opbrengs in ’n geldmarkfonds is nie gewaarborg nie. Dit kan nie gewaarborg word nie.

Geldmarkfondse is net soos enige effektetrustfonds blootgestel aan die onderliggende kragte daarop van toepassing – die vraag en aanbod van skuld in dié geval. Anders gestel, dit wissel na gelang van die rentekoerse wat van tyd tot geld.

Dit verskil van ’n belegging in effektetrustfondse wat in aandele en eiendom as onderliggende bateklasse belê omdat daar nie soveel beweging tussen hoog en laag in ’n geldmarkfonds is nie.

Aandele en eiendom word juis beskou as langtermynbeleggingsklasse omdat jy die “laag” in die mark kan oorleef, want die “hoog” in die mark meer as vergoed altyd daarvoor – mits jy genoeg tyd toelaat.

Eenvoudiger gestel, as jy ’n langtermyndoelwit het met jou geld, bly weg van geldmarkfondse. As jy ’n korttermyndoelwit het met jou geld, bly weg van aandele en eiendom. Dit is so eenvoudig. En weer eens, daar is nie waarborge nie.

Dis g’n inkomstefonds

Wat my bring by ’n volgende probleem met geldmarkfondse. Baie mense gebruik dit om ’n inkomste te voorsien.

Afgesien van die foutiewe denke oor waarborge wat ek hier bo noem, is dit beslis ook nie die beste fonds om vir jou ’n inkomste te voorsien nie. Veral nie as jy jou kapitaal wil beskerm, of laat groei, nie.

Ek het die gemiddelde opbrengs per jaar oor ’n termyn van tien jaar van drie batebestuurders se geldmarkfondse, Absa (6,22%), Ninety One (6,30%) en Allan Gray (6,57%) vergelyk met die gemiddelde inflasie per jaar (4,94%) oor dieselfde tyd.

Vergelyk dit nou met die gemiddelde jaarlikse groei oor tien jaar van twee verdere (laerisiko)fondse, die Coronation- strategiese inkomstefonds (8,20%) en die Allan Gray- stabiele fonds (8,61%).

Benewens die groter groei, wys grafieke ook dat die laasgenoemde twee fondse heelwat meer beweeg as die geldmarkfondse oor tyd. Dit is omdat die fondse groeibates soos aandele en eiendom, asook effekte insluit. Ek meen dit is hierdie beweeglikheid wat dalk baie mense vreesbevange maak.

Totdat jy jou oë oopmaak. As jy kyk na die kumulatiewe groei van die vyf fondse oor die tien jaar, sien jy die werklike prentjie.

Dan steek die drie geldmarkfondse sleg af teen die twee inkomstefondse met die Allan Gray- stabiele fonds (128,1%) en die Coronation- strategiese inkomstefonds (119,65%), teenoor die geldmarkfondse van Absa (82,58%), Ninety One (84%) en Allan Gray (88,74%).

Wat sê dit? Geldmarkfondse is die fondse wat die laagste opbrengs lewer oor enige sinvolle beleggingstermyn.

As jy inflasie in ag neem, is dit seker die swakste fonds waaruit jy ’n inkomste kan neem, want jy gaan min of meer beperk wees tot ’n onttrekking van minder as 2% van jou kapitaal per jaar, anders gaan jy agteruit boer.

My raad vandag? Moenie raai nie. Kry vir jou ’n gekwalifiseerde, ingeligte en professionele finansiële beplanner om jou geldsake vir jou te hanteer. Mense is baie keer hul eie grootste geldvyand.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldmark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.