Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Geldraad as jy dwelm-kinders het

Die talle navrae wat ek kry van ouers met kinders wat met dwelms deurmekaar is, is net so onrusbarend as wat dit tragies is.

Nico van Gijsen

Ek glo die omvang is só groot dat min lesers van die rubriek nie van iemand weet wat hierdeur geraak word, of dalk self geraak is nie. Die stories wat ek hoor en waarvan ek in briewe lees, skets ’n ouer-hel wat ek my grootste vyand nie toewens nie.

Ouers is eintlik ook magteloos. Die omvang van die dwelmprobleem is so groot dat ek en jy net mooi niks daaraan kan doen nie. Die polisie weet byvoorbeeld presies wie die verskaffers is, waar dit verkoop word en selfs hulle is magteloos (of lusteloos, besluit self).

Daardie persoon, die dwelmverslaafde, is die enigste een wat sy of haar lewe kan omkeer.

Jy kan help, ja. Daar is ook professionele mense wat kan help met behandeling. En daar is mense wat met geloof en gebed probeer om lewens om te keer. Maar uiteindelik is dit die dwelmverslaafde wat moet besluit.

Hoe help jy? Jy wat ouer is, of ouma of oupa is, broer of suster, oom of tannie? Liefde, deernis en gebed gaan jou net so ver bring.

Dwelmverslaafde kinders steel enigiets om dwelms te bekom. Baie rand selfs hul ouers aan. Hulle manipuleer, of probeer om almal rondom hulle te manipuleer.

Dit is ’n tragiese kringloop.

Sorg dat jy ’n ordentlike mediese skema het. Dit kan die koste van behandeling dek. Maar behandeling is een ding. Onderhoud en basiese versorging iets heel anders.

Jy kan nie die dwelmverslaafde kind toelaat om self met geld te werk nie, want ons weet almal waar dit gaan eindig.

Wees streng met daardie kind. Wees baie streng. Nie koud nie, net streng. Moet hom of haar nie aanhelp deur sagmoedig te probeer wees nie. Moenie die probleem probeer wegkoop deur te swig voor geldeise nie. Dit gaan jou inhaal en die kind se toestand versleg net.

dwelmslaaf, zol
Dwelmverslawing het finansiële implikasies. Foto: Unsplash

Jou geld, sy of haar geld ingesluit, moet beskerm word teen die kind self en teen buitestanders. Dit help dus ook nie as jy die geldsake self bestuur nie. Skuldeisers sal byvoorbeeld toegang tot die geld kan kry as jy dit bloot namens die kind bestuur. Dit moet liefs buite sy of haar besit wees.

’n Trust is na my mening die ideale manier om voorsiening te maak vir so ’n kind. En moet tog nou net nie die kind self ’n trustee maak nie. Dit moet ook ’n diskresionêre trust wees, want as die kind ’n gevestigde reg het, kan skuldeisers eweneens toegang tot die trustbate verkry.

Ek stel ook voor jy kry trustees buite die familie, verkieslik professionele mense wat klinies na die kind se behoeftes kan kyk en nie ingesleep sal raak by familie-afpersing nie.

Al is die trust in die stadium van jul lewens nie noodwendig van toepassing nie, is dit ’n goeie idee om die trust te skep en enige testamentêre bemaking wat na so ’n kind sou gaan, aan die trust te bemaak.

Om geld te skep vir so ’n trust is ’n lewenspolis op jou lewe seker die beste. Die polis moet aan die trust begunstig word, wat sal help met die verdere versorging van jou kind.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingprak­tisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Trusts  |  Dwelms  |  Trust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.