Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Help jou kind in dié tyd, maar...
Hoe hanteer jy ’n hulppakket aan jou kind nou sonder om sy sibbes te na te kom?

Ek dink in hierdie dae waarin die ANC-regering oënskynlik uit sy pad gaan om werkloosheid te skep, hoor al hoe meer ouers die noodroep van kinders in geldnood: Help, asseblief.

Hoe hanteer jy so ’n hulppakket? En hoe maak jy seker dat die ander kinders nie te na gekom word by jou afsterwe nie? Ek het sulke vrae gekry van lesers. Kom ons kyk.

Die jammerte van ons situasie is dat die regering met sy militaristiese boelietaktiek teenoor sy eie mense miljoene rande se belastinginkomste laat verlore gaan, of liewer wegsmyt, in my oë. Terselfdertyd bedel hy skaamteloos geld om hongersnood te help verlig waarvoor hyself grotendeels verantwoordelik is.

Maar as jy jou kind help wat sy werk verloor het – nie deur sy eie toedoen nie – verwag Jan Taks dat jy op hierdie geld, waarop jy reeds inkomstebelasting betaal het, verdere belasting moet betaal in die vorm van geskenkbelasting. So, hier is iets om aan te dink – nie finansiële raad nie (om redes wat verder duidelik sal blyk), net iets om aan te dink.

As jy die geld skenk soos genoem, moet jy dit verklaar in jou inkomste­belastingopgawe en is jy onder verpligting om 20% geskenkbelasting daarop te betaal (op alles bo die R100 000 per jaar wat jy toegelaat word). Maar as jy die geld gee en dit ’n lening noem, is daar nie geskenkbelasting nie.

Hoe hanteer jy dit in jou testament, veral as jy ander kinders het en jy wil almal gelyk laat erf?

As die lening formeel (op skrif) opgestel is en die ander erfgename weet dit, is daar nie ’n probleem nie. Dit is die eksekuteur se werk om alle lenings op te roep in die afhandeling van die boedel en só sal gelyke vererwing, of dan soos jy bepaal in jou testament, plaasvind. Maar wat as jy vir die kind net die geld “gee”, nie leen nie (dit is eintlik wetlik ’n skenking, jy het dit net nie verklaar nie) en jy wil tog jou kinders gelyk laat erf?

Nico van Gijsen

Nou kom ons te staan voor ’n regs­beginsel wat neerkom op die “inbring” van bates in jou boedel. Dit beteken basies dat die reg aanvaar dat elke ouer sy kinders gelykop wil laat erf. Sou daar dus ’n onenigheid onder die kinders ontstaan wanneer jou aardse goed verdeel moet word, kan hierdie regsbeginsel ’n rol speel in ’n hof se beslissing. Die probleem is dat die meeste testamente (daardie standaard-tipe waarteen ek gereeld in my rubrieke waarsku) na my mening so geskryf word dat dit juis die inbring-beginsel uitsluit. En siedaar, jy het ’n paar honderdduisend of ’n miljoen rand aan een kind gegee, wat verder ook gelykop deel met sy of haar sibbes.

In so ’n geval sou ek voorstel dat jy seker maak deur dit duidelik in jou testament te bepaal dat die inbring-beginsel wel van toepassing sal wees. Maar pasop nou ook, want as dit nie reg gedoen word nie, gaan die ander kinders ook dit wat jy deur die jare vir hulle gegee het moet inbring. Dit kan nogal chaoties raak.

Spesifiseer liewer dit wat ingebring moet word, sou ek sê.

Maar dalk is die lening-pad die maklikste. Dit hou Jan Taks weg van jou geld af en die kinders klim nie in mekaar se hare nog voordat jyself beendere geword het nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingprak­tisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.gijsen.
Meer oor:  Werkloosheid  |  Jan Taks  |  Inkomstebelasting  |  Belasting  |  Nico Van Gijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.