Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico Van Gijsen: Hou só kop bo water

spaarmaand
Maak jy verskonings om te spaar? Foto: iStock

My kleinkinders kom sit gereeld voor my op die mat en vra dan: “Vertel ons ’n ervaring.” Vandag wil ek graag dié een met lesers deel, want ek glo daar is vir ons finan­siële lesse in.

Ek was ’n jong polisieman op Retreat in die Kaap. My sersant, Johnnie de Klerk, was in sy vrye tyd ’n sportduiker wat my avontuurlus geprikkel het met sy stories oor onderwaterduik en vis skiet.

Sommer gou was ek in die duikwinkel om my toe te rus.

Geldjies was maar skraps vir ’n jong polisieman. Die verkoopsman doen toe wat verkoopsmense doen, hy verkoop waarvoor ek geld had. Duikbril, snorkel, paddavoete en pylgeweer. En vir die ekstra paar rand, sommer ook ’n duikgordel – basies 20 kg lood vir om my middellyf. My geld was op voordat ek by die duikpak kon kom.

En ek is af see toe vir hierdie nuwe avontuur. Alleen. Met duikbril, snorkel en paddavoete is ek die water in. Net in my swembroek. Geen duikpak. Maar met ’n loodgordel van 20 kg om my kaal heupe.

Met die water so amper skouerdiepte, duik ek vorentoe deur ’n brander vir my eerste ervaring van die onderwater. En bly toe sommer daar op die bodem. Was ek nie jonk en sterk nie sou ek seker nie vandag hier geskryf het nie. Skoppend en meer spartelend as swemmend, terwyl ek seewater sluk, kon ek gelukkig genoeg vorentoe beur tot waar ek weer kon regop staan.

Eers later toe ek my ervaring met Johnnie deel, leer ek die enigste doel vir die duikgordel is om die dryfvermoë van ’n duikpak te neutraliseer.

’n Duikpak wat ek nie gehad het nie.

Hierin is twee lesse vir ons.

Die eerste is, kry ’n kundige om jou raad te gee oor jou finansiële toekoms. Doen dit voordat jy jou in ’n ding begewe waarvan jy weinig of niks weet. En as jy een van daardie slim mense is wat alles weet, weet dan dit ook: Jy weet nie wat jy nie weet nie.

Foto: Nico van Gijsen

Finansiële beplanning, as dit reg gedoen word, behels sowel regs- as rekeningkundige elemente wat saamgetrek moet word om eerstens jou risiko’s aan te pak en tweedens vir jou langtermyn-welvaart te skep. Terwyl jy lewe en daarna.

Gee jou raadgewer kans om jou daarin te lei. Maak seker jy verstaan self ook wat jy wil bereik, watter toerusting nodig is daarvoor en wat jy moet doen om daar uit te kom.

Daar is nogal ’n sterk ooreenkoms tussen jou geldsake en die lewe. In albei gevalle het jy een pad wat jy stap, een geleentheid, en as jy dit opmors, is dit verby. Kies dus iemand wat jy weet jy kan vertrou.

Die Finansiële Beplanningsinstituut (FPI) is ’n goeie begin. Sy lede het die hoogste vlak van kundigheid en is onderworpe aan baie streng etiese norme.

Die tweede is om nie, soos in my geval met die duiktoerusting hier bo, jou op ’n verkoopsman (produksmous) se raad alleen te verlaat nie. Veral as dit kom by sogenaamde “gratis” finansiële beplanning.

Jy kan met produkte eindig wat dalk relevant is vir finansiële beplanning in die algemeen, maar wat heeltemal ontoereikend is vir jou omstandighede.

Die finansiële produkte (jou toerusting) moet toepaslik wees vir wat jy wil bereik.

Of jy kan sink en dalk nooit weer opkom nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finan­siële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Finansiële Adviseurs  |  Geldsake  |  Raad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.