Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Jou les uit Momentum-debakel

Lanklaas is daar so baie nuusruimte aan lewenspolisse afgestaan en op sosiale media gal gebraak soos die afgelope week nadat Momentum geweier het om ’n polis uit te betaal.

Nico van Gijsen

Die rede vir die moles? Die oorledene is dood in ’n skietery. Momentum het geweier om die polis op sy lewe uit te betaal, omdat hy in sy polisaansoek nie verklaar het dat sy bloedsuiker hoog was nie.

Maar uiteindelik het Momentum se knieë lam geraak vir die “geraas” op Twitter en in die nuuskolomme van die media en toe besluit hy om tog maar ’n bedrag uit te betaal.

Ek wil nie betrokke raak by ’n debat oor Momentum se aanvanklike besluit of sy terugkrabbeling daaroor nie, buiten om te sê ek het geen geduld met leuenaars en bedrieërs nie. In ons praktyk pos ons kliënte wat tersaaklike inligting van versekeraars probeer weerhou nog voordat ons by die aansoekvorm kom.

Terloops, Momentum was in 2012 in ’n soortgelyke situasie. Die oorledene is geskiet in ’n taxiverwante voorval. In sy polisaansoek is sy beroep aangegee as ’n passasiersbusoperateur/eienaar. Omdat hy nie bygevoeg het dat hy ook ’n taxi-eienaar was nie, was dit genoeg rede vir Momentum om nie uit te betaal nie. Momentum het destyds nie vir taxi-operateurs dekking gegee nie.

’n Lewenspolis, of enige risikopolis, koop jy om voorsiening te maak vir ’n finansiële risiko. Ontydig doodgaan is so ’n risiko. Die polis moet sorg vir geld as jy nie meer daar is nie. Dis hoe eenvoudig dit is.

Die belangrikste oorweging as jy ’n polis koop, is dat jy moet seker wees dat die polis, sou ’n eis ontstaan, wel sal uitbetaal. En dit kan net gebeur as die versekeraar by die aanvang van die polis ál die inligting tot sy beskikking het om ’n besluit oor die risiko te neem. Ons noem dit onderskrywing.

Dis die menste wat jy die liefste het, wat in die nood gaan beland as jy jok wanneer jy ’n lewenspolis uitneem. Foto: Pixabay

Dit beteken onder meer ook mediese vrae en selfs mediese en bloedtoetse. Party versekeraars doen nie die volle onderskrywing by die aansoekstadium nie, maar wel by eisestadium. As jy dus gelieg het – en om iets soos diabetes of rookgewoontes te verswyg is lieg – kan dit beteken dat die polis nie uitbetaal nie.

Wat het jy dus reggekry? Jy het dalk ’n paar rand aan premies gespaar, maar wat doen jy aan jou naasbestaandes?

Oor die algemeen, hoe makliker en korter die pad is om ’n polis uit te neem, hoe sekerder kan jy wees dat verdere onderskrywing gedoen gaan word by eise-stadium. Anders gestel, kan daar gesoek word na redes om nie die polis uit te betaal nie.

Ek weet van twee versekeraars, Sanlam en Old Mutual, by wie jy seker kan wees dat, as hulle jou aanvaar het, sal die polis uitbetaal. As jy byvoorbeeld laf genoeg is om later te begin rook, hoef jy hulle nie in te lig nie. Ander versekeraars vereis dat jy hulle inlig en sal dan jou premie dienooreenkomstig verhoog.

Terloops, in die geval van die taxi-eienaar hierbo het sowel Sanlam as Old Mutual uitbetaal. Maar dan, hulle het taxi-eienaars wel verseker.

Wat my bring by die belangrikheid om jou kontrak te lees. Versekeraars sal net uitbetaal kragtens kontrak. Kyk watter openbaarmakings word vereis. Kyk wat word in watter omstandighede uitgesluit.

Jou polis is soos ’n huwelik, goed of sleg, tot die dood toe.

Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Momentum  |  Nico Van Gijsen  |  Lewensversekering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.