Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Jy kán welvaart skep uit ’n salaris

“Ek wens jongmense kon dit hoor.”

Dit was die algemene reaksie ná ons aanbieding die afgelope week oor beleggings en aftrede. Hier is ’n paar riglyne vir jongmense en vir ouers wat hul kinders wil help op die pad na finansiële onafhanklikheid.

Nico van Gijsen

Kom ons los eers die gedagte aan aftrede. Kom ons praat oor die skep van welvaart. Jongmense dink eenvoudig nie aan aftrede nie. As daar een boodskap is wat ek meen almal moet hoor – oud en jonk – dan is dit: Maak seker jou geld gaan nie voor jou dood nie.

Hoe help jy jou kind? Of jou kleinkind? Of ’n jong klerk by die werk? Begin vroeg in jou lewe met ’n finansiële plan. Die vermenigvuldigende krag van saamgestelde rente werk altyd in jou guns. Oor tyd, maar nie oornag nie.

Dit is beter om, byvoorbeeld, vir jou kind of kleinkind kort ná geboorte ’n paar rand te begin belê, as wat die kind wag totdat hy of sy ’n “vet” salaris verdien. Die eerste paar jaar se spaargeldjies kan uiteindelik meer bydra tot die geheel as groter bedrae hier by 50-jarige ouderdom, die tyd wanneer die meeste mense wakker skrik, en die finansiële werklikheid van aftrede besef.

Jy kan selfs, as jy wil seker maak die geld is vir aftrede, van dag een af vir die kind bydra tot ’n uittree-annuïteit (UA). Die premie sal nie aftrekbaar wees vir belasting nie, omdat die kind nog nie inkomstebelastingpligtig is nie. Maar die groei in die UA is belastingvry.

Boonop, by aftrede is daardie geld, juis omdat dit nie belastingaftrekbaar was nie, beskikbaar – nadat dit al die jare belastingvry gegroei het – as ’n belastingvrye pensioen. Alternatiewelik, as ’n bykomende belastingvrye kontantbedrag by aftrede.

Jy het nie baie geld nodig om welvaart te skep nie. Jy moet net vroeg genoeg begin en die finansiële dissipline hê om daarmee vas te byt. Foto: Unsplash

As jy wil, kan jy ook – veral vir oumas en oupas wat kleinkinders só wil help – ’n UA vir ’n kind uitneem met ’n polis as onderliggende bate. Ek is nie so mal oor dié soort UA’s nie, maar dit kan gebruik word om die premie te verseker as oupa of ouma te sterwe kom. Jou bydrae tot die kind se UA eindig nie by jou dood nie. Wat ’n wonderlike geskenk vir ’n kleinkind!

Goed. Dis die heel kleintjies. Dié wat pas begin werk het en nog nie baie geld verdien nie, moet sowat 15% van hul bruto inkomste elke maand spaar (maksimum in aandele). As dit volgehou word, sal dit sorg vir nagenoeg 20 keer sy of haar laaste jaar se salaris voor aftrede.

Dis ’n eenvoudige beginsel. Jy het nie baie geld nodig nie. Jy moet net vroeg genoeg begin en die finansiële dissipline hê om daarmee vas te byt.

Jy kán welvaart skep uit ’n salaris.

’n Volledige finansiële plan vir jongmense gaan verder. Ek sal voorstel dat daar ook gekyk word na ’n siektepolis (wat maandeliks ’n bedrag geld uitbetaal ingeval van siekte) en daarmee saam ongeskiktheidsinkomstedekking.

Die twee moet mekaar aanvul. Die rede hieragter is dat mense siek word en jongmense die grootste risiko loop om ongeskik te raak. Die versekering vir jongmense is ook spotgoedkoop en kan deurgedra word tot ná aftrede, wanneer ons met die werklikheid te doen kry van siektes soos Alzheimer se siekte of algemene verswakking. Dit plaas ook minder druk op ouers se aftreegeld, sou die kind siek of ongeskik raak.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.