Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Kry só beter voordele as met trust

Ek het verlede week hier geskryf oor die belastingvoordele van ’n uittree­annuïteit (UA). Wat min mense egter besef, is dat ’n UA ook uitstekende voordele bied vir boedelbeplanning, soms beter as wat jy met ’n trust kan regkry. Kom ons kyk.

Nico van Gijsen

Die hoofdoel van enige boedelplan is om finansiële risiko’s (waaronder belastings) te beperk om in lewe vir jouself en ná jou dood vir jou naasbestaandes voorsiening te maak.

’n Trust as instrument vir boedelbeplanning is baie gewild. In ’n trust is die bate nie in jou boedel nie en by dood is die bate nie vatbaar vir boedel- en kapitaalwinsbelasting nie.

Maar in baie gevalle kan dieselfde doel bereik word en in sommiges dalk meer so met ’n UA. Die groot verskil is dat in ’n trust kan jy enige bate hou, in ’n UA net geld.

Ek dink ’n UA is ’n uitstekende instrument vir byvoorbeeld diegene met groot bedrae op belegging, of wat met groot bedrae kontant sit nadat vaste bates, soos ’n strandhuis of plaas, verkoop is.

Ons kyk eers na geskenkbelasting. Om ’n bate in ’n trust oor te dra, moet jy dit óf verkoop óf aan die trust skenk. Verkoop jy dit en die trust het geld, sit jy tog maar weer met dieselfde waarde in jou boedel. Dom.

Het die trust nie geld nie, moet jy dit op leningsrekening verkoop en is die uitstaande skuld ’n bate in jou boedel. En jy moet rente vra, wat weer belasbaar is in jou hande.

Skenkingsbelasting is 20% op alles bo R100 000 tot by R30 miljoen en daarbo is dit 25%. As jy geld in ’n UA belê, het jy nie hierdie probleem nie. Nie net is daar geen sprake van geskenkbelasting nie, die bydraes tot ’n UA is belastingaftrekbaar.

Die hoofdoel van enige boedelplan is om finansiële risiko’s (waaronder belastings) te beperk om in lewe vir jouself en ná jou dood vir jou naasbestaandes voorsiening te maak.

Doen die som. Kom ons sê jy wil R1 miljoen uit jou boedel oordra. As jy ’n skenking aan die trust maak, moet jy eers R250 000 (dis 25% van die bedrag wat jy spaar) vir Jan Taks gee. Dra jy dit oor in ’n UA, is daar nie geskenkbelasting nie. Inteendeel, Jan Taks gun jou eerder ’n belastingaftrekking van R275 000 (die maksimum is 27,5% of R350 000 per jaar en is van toepassing op alle bydraes tot ’n pensioenfonds).

Goed, die geld is nou belê. In die trust is inkomstebelasting van 45% en kapitaalwinsbelasting (KWB) van 36% betaalbaar op die beleggingsgroei. In die UA is geen belasting betaalbaar nie. Die trust kan inkomste uitkeer, wat dan belas word in die hande van die begunstigde. Maar dan verydel jy mos die doel van die trust omdat daar dan geen groei in die trust is nie.

En wat van boedelbelasting by dood? Nóg trustbates nóg die waarde van ’n UA is vatbaar vir boedelbelasting. Maar die uitstaande leningsrekening in die geval waar bates aan die trust verkoop is, is wel belasbaar.

So ook die deel van jou bydraes tot ’n UA wat jy nie kon aftrek vir inkomstebelasting nie. Maar wat jy in albei gevalle reggekry het, was om die waarde van die bate (in ons geval kontant) vas te pen op die datum wat jy oorgedra het. Jy het die groei in waarde uit jou boedel gehou.

In ’n UA had jy net baie meer belastingvoordele, wat geld werd is.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.