Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Laat kinders, 2de vrou só erf

Kom ons gesels belasting. En dood. Dis die een onderwerp, naas dalk beleggings, wat die meeste reaksie van lesers ontlok.

Nico van Gijsen

Ek het twee weke gelede hier geskryf oor kapitaalwinsbelasting (KWB) by dood. Vandag wil ek spesifiek kyk na die versorging van ’n langslewende gade, maar met kinders wat ook bevoordeel wil word. Ons sê maar dis die man wat eerste sterf om die skrywery makliker te maak.

Hy het kinders uit ’n vorige huwelik wat hy wil bevoordeel, maar hy wil nie sy vrou benadeel nie. Hy benoem haar as die begunstigde van sy lewende annuïteit en bemaak die res van sy boedel aan sy kinders. Daarby ingesluit is eiendom en ander beleggings.

Wat stel ek voor?

Net die teenoorgestelde. Maak voorsiening vir jou vrou uit jou boedel en maak jou kinders die begunstigdes van die lewende annuïteit.

Enige bemaking aan ’n langslewende gade is aftrekbaar vir boedelbelasting. Terloops, vir die doeleindes van die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955) word iemand met wie jy in ’n vaste verhouding is, as ’n gade geag. ’n Bemaking uit jou boedel aan jou kinders is nie aftrekbaar nie.

Jou lewende annuïteit val nie in jou boedel vir boedelbelasting nie. As jy jou kinders benoem as begunstigdes, raak dit nie die boedelbelasting-berekeninge in jou boedel nie.

By dood word die waarde van die lewende annuïteit belas ingevolge die tweede skedule van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962), asof jy die dag vóór jou dood afgetree het. Met ander woorde volgens die skaal wat geld vir pensioenfondse. Dit kom nie in jou boedel nie.

Maar pasop nou, die kinders moet weet dat hulle nie die kontant moet neem nie, want die maksimum koers in dié geval is 36% op alles bó R1 050 000. Hulle moet liewer die inkomste neem – tussen 2,5% en 17,5% per jaar – wat belasbaar sal wees as inkomste. Deur net die minimum (2,5%) te neem, kan hulle die kapitaal laat groei vir hul eie aftrede eendag.

Jou lewende annuïteit val nie in jou boedel vir boedelbelasting nie. Foto: iStock

Die 2,5% kan herbelê word in ’n uittree-annuïteit wat vir hulle belasting-aftrekbaar sal wees (tot en met 27,5% van inkomste of R350 000 per jaar). Só skep hulle vir hulself welvaart vir aftrede.

As jy al jou ander bates aan jou vrou bemaak, sal sy ook die boedelbelastingkorting (R3,5 miljoen) “erf”. Of soveel daarvan as wat nie gebruik is as ’n korting met bemakings uit jou boedel aan andere nie.

Moet tog nou net nie in die strik trap om “alles” aan ’n langslewende gade te bemaak net om op boedelbelasting te bespaar nie, soos wat ek nou die dag weer gelees het. Boedelbeplanning vereis bietjie meer dinkwerk as dit.

As die huis byvoorbeeld nodig is vir haar verblyf, kan jy dit aan die kinders bemaak en vir haar ’n woonreg, of selfs ’n vruggebruik uithou. Die waarde hiervan is ook aftrekbaar vir boedelbelasting.

Maar dit kan probleme skep tussen haar en die stiefkinders – dit skep gewoonlik probleme, is my waarneming.

Maak liewer vir haar verdere versorging voorsiening met ’n lewenspolis – ook aftrekbaar vir boedelbelasting – waarmee sy haar eie plek kan koop en met haar lewe aangaan. Of koop nou al vir haar ’n plekkie, wat julle intussen kan verhuur om die uitgawe te dek.

Onthou net, die langslewende gaan soms eerste dood. Behoorlike beplanning strek verder as wat ek in ’n enkele rubriek kan skryf.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2381,58 (472)
  • Top 40 48158,37 (4141)
  • All Share 53874,52 (3359)
  • Resource 10 42374,38 (-13158)
  • Financial and Industrial 30 72821,17 (16551)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.