Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Geldsake
Nico van Gijsen: Laat toe vir onvoorsiene in testament
Jou testament is een van die belangrikste dokumente wat jy ooit sal onderteken. Foto: iStock

Na aanleiding van verlede naweek se rubriek oor testamente, “Moet jy skenk of bemaak? Só eis staat sy pond vleis”, wou ’n leser weet oor die nodigheid van ’n spesifieke soort klousule in testamente.

Dit is tipies iets soos: Indien enige begunstigde ten tyde van my afsterwe jonger as 25 (vyf en twintig) jaar is, of weens geestelike of fisieke beperking nie handelingsbevoeg is nie of slegs beperk handelingsbevoeg is, moet die bepaalde begunstigde se erfenis aan my trustee oorbetaal word om deur my trustee namens my erfgenaam in trust gehou en geadministreer te word.

Dit is myns insiens ’n uiters belangrike klousule, al het jy, soos die leser, nie ’n erfgenaam wat jonger is as 25 jaar of wat geestelik gestremd is nie. My punt is dis dalk nie die geval wanneer jy die testament opstel nie, maar wat van later? Ons, ekself en mense soos ek, wat in die bedryf staan, kyk nie elke dag na ons testamente nie. En die lewe gaan aan. Dis waarom ek so sterk voel dat mense kundiges betrek by die opstel van hul testament en vergeet van gratis of “standaard”-testamente. En vergeet veral van “ag, my boedel is maklik, ek bemaak alles aan my vrou” of so iets.

Niks is maklik nie. Die afhandeling van ’n boedel is ’n regsproses en hoe meer gate daar in jou beplanning is, hoe groter die gevolg vir jou erfgename.

Daarom dat ek meen jy in jou testament ook voorsiening moet maak vir die onvoorsiene. Soos om vir ’n erfenis aan ’n minderjarige voorsiening te maak, al is daar met die opstel van die testament nie ’n minderjarige nie.

Dit doen jy deur te bepaal dat sy of haar erfenis aan ’n trustee oorgemaak word ten gunste van daardie minderjarige.

Nico van Gijsen

Jou (volwasse) kind, of ander persoon aan wie jy bemaak, is dalk nie in staat om te erf nie omdat hy of sy voor jou te sterwe gekom het, of weens geestelike gestremdheid, soos genoem. Of jou erfgenaam kan weier om sy of haar erfenis te aanvaar. Daar is redes waarom mense dit doen. Dalk het jy ’n voorwaarde in jou testament gestel om te kan erf, of die persoon is bloot bankrot en wil keer dat die bate in sy of haar boedel beland.

En dan is daar ook die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953) wat onder meer spesifiek bepaal dat as jou erfgenaam voor jou oorlede is, dan gaan sy erfenis (van jou af) outomaties oor op sy erfgename, tensy jy spesifiek in jou testament anders bepaal het.

Alles saamgevat en vereenvoudig, maak voorsiening vir gevolge wat jy dalk nie nou kan voorsien nie. Soos dat daar kinders gebore kan word van jou eie kinders waarvan jy nie geweet het toe die testament opgestel is nie. Of dat jou eie kinders dalk voor jou kan sterf, of dalk geestelik gestremd kan raak.

En vra dan jouself ook af: Wat as my kind, of ander erfgenaam, nie kan of wil, erf nie. Wil ek dat sy of haar erfenis oorgaan op daardie persoon se erfgename, of moet dit terugval in my boedel en oorgaan op my restant-erfgename, of moet dit direk vererf na iemand anders?

Maak seker dat jy nie jou reg om te kan bemaak soos jy wil gaan verkwansel deur misverstande of lui denke nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldsake  |  Testament  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.